hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 2 Afrikaans 1983 (AFR83)

Met 'n ompad na Kanaän toe

1. “Later het ons die woestyn ingetrek, al met die Rietseepad soos die Here my beveel het. Dit het ons lank gevat om óm Seïrberg te trek.

2. Toe het die Here vir my gesê:

3. ‘Julle het nou ver genoeg om hierdie berg getrek. Draai nou noord

4. en sê vir die volk: Julle staan op die punt om deur die gebied te trek van julle broers, die nageslag van Esau wat in Seïr woon. Hulle is bang vir julle, maar julle moet julle bedwing.

5. Moenie oorlog teen hulle maak nie, want Ek sal nie van hulle grond vir julle gee nie, nie eers 'n handbreedte nie, want Ek het Seïrberg vir Esau gegee as besitting.

6. Die kos en water wat julle nodig het, moet julle by hulle koop.’

7. “Die Here julle God het julle voorspoedig gemaak in alles wat julle gedoen het. Hy het sy oog oor julle gehou in hierdie groot woestyn, en in hierdie hele veertig jaar was die Here julle God by julle en het julle niks kortgekom nie.

8. “Ons het toe verbygetrek by ons broers, die nageslag van Esau wat in Seïr woon, en ons het uit die Woestynpad weggedraai by Elat en Esjon-Geber en met die pad na die Moabwoestyn toe verbygetrek.

9. Toe het die Here vir my gesê: ‘Moenie die Moabiete aanval en teen hulle oorlog maak nie, want Ek sal nie van hulle grond vir jou as besitting gee nie. Ek het Ar vir die nageslag van Lot gegee as besitting.’ ”

10. Die Emiete het voorheen in die gebied gewoon. Hulle was 'n groot en sterk volk. Net soos die Enakiete was hulle groot mense.

11. Die Moabiete het hulle Emiete genoem, maar net soos die Enakiete is hulle as Refaïete beskou.

12. Die Goriete het vroeër in Seïr gewoon, maar die nageslag van Esau het hulle verslaan en uitgeroei en in hulle gebied gaan woon soos die Israeliete later met hulle vyande gedoen het in die land wat die Here vir hulle as besitting gegee het.

13. “Die Here het verder gesê: ‘Trek nou deur Seredspruit,’ en ons het deurgetrek.

14. Vandat ons van Kades-Barnea af weg is tot ons deur Seredspruit getrek het, het ag en dertig jaar verloop. Teen daardie tyd was die weerbare manne uit die ouer geslag nie meer tussen ons nie, soos die Here destyds vir hulle met 'n eed aangekondig het.

15. Sy hand was teen hulle en Hy het hulle almal laat omkom.

16. “Toe al daardie weerbare manne onder die volk uitgesterf het,

17. het die Here vir my gesê:

18. Jy staan op die punt om deur die Moabiete se gebied by Ar te trek,

19. en jy sal naby die grens van die Ammoniete kom. Moet hulle nie aanval en teen hulle oorlog maak nie, want Ek sal nie van hulle grond vir jou as besitting gee nie. Ek het dit vir die nageslag van Lot gegee as besitting.”

Die vorige inwoners is ook verdryf

20. Die gebied is beskou as die land van die Refaïete, want hulle het vroeër hier gewoon. Die Ammoniete het hulle Samsummiete genoem.

21. Hulle was 'n groot en sterk volk, net sulke groot mense as die Enakiete. Die Here het die Samsummiete voor die Ammoniete uit verdryf, en die Ammoniete het hulle verslaan en in hulle gebied gaan woon.

22. Die Here het dieselfde gedoen vir die nageslag van Esau wat in Seïr woon. Die Here het die Goriete voor hulle uit verdryf, en toe het die Edomiete hulle verslaan en in hulle gebied gaan woon. Die Edomiete woon nou nog daar.

23. Die Awwiete wat in dorpies tot by Gasa woon, is verdryf deur mense wat uit Kaftor gekom het en in die Awwiete se gebied gaan woon het.

Die Israeliete verslaan vir Sihon

24. “Die Here het vir my gesê: ‘Breek kamp af en trek deur die Arnonkloof. Ek gee die Amoriet, koning Sihon van Gesbon, en sy land in jou mag. Begin nou, neem sy land in besit, maak oorlog teen hom.

25. Vandag bring Ek skrik en vrees vir jou oor al die volke op die aarde. Wanneer hulle hoor wat jy doen, sal hulle bewe en bang wees vir jou.’

26. “Uit die Kedemotwoestyn het ek boodskappers na koning Sihon van Gesbon toe gestuur. Ek het 'n vredesvoorstel gemaak en laat weet:

27. ‘Laat my toe om met die pad deur jou land te trek. Ek sal al met die pad langs trek en nie links of regs uitdraai nie.

28. Verkoop aan my die kos en water wat ek nodig het. Ek wil net deurtrek

29. tot waar ek deur die Jordaanrivier gaan na die land toe wat die Here ons God vir ons gee. So het die Edomiete van Seïr en die Moabiete van Ar my ook laat doen.’

30. “Maar koning Sihon van Gesbon het geweier om ons deur sy gebied te laat trek, want die Here jou God het hom onversetlik gemaak. Die Here het hom koppig gemaak om hom in jou mag oor te gee. Hy is nou nog in jou mag.

31. “Die Here het verder vir my gesê: ‘Let op, Ek gee Sihon en sy land van nou af in jou mag oor. Begin nou, verower sy land.’

32. “Toe Sihon en sy hele leër optrek om by Jahas teen ons te veg,

33. het die Here ons God hulle in ons mag oorgegee, en ons het hom en sy seuns en sy hele volk verslaan.

34. In daardie tyd het ons al sy stede verower en verwoes. Van hulle mans, vrouens en kinders het ons niemand laat vrykom nie.

35. Ons het net die vee en ook wat daar te buit was in die stede wat deur ons verower is, vir ons gevat.

36. Van Aroër op die Arnonoewer en die stad in die Arnonkloof af tot by Gilead was daar geen stad te sterk vir ons nie. Die Here ons God het hulle almal in ons mag oorgegee.

37. Soos die Here ons God ons beveel het, het ons nie die land van die Ammoniete binnegegaan nie: dit is die gebied aan Jabbokspruit en die stede in die bergagtige gebied.”