hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Asielstede

1. “Die Here jou God sal die nasies uitroei wie se land Hy aan jou sal gee. Hy sal hulle verdryf en jy sal in hulle stede en in hulle huise woon.

2. In die land wat die Here jou God aan jou gee om te besit, moet jy drie stede uitsonder

3. as stede waarheen iemand kan vlug as hy 'n ander doodgemaak het. Jy moet die land wat die Here jou God aan jou as besitting gee, in drie streke verdeel sodat die stede maklik bereikbaar is.

4. Iemand mag na een van die stede toe vlug om te bly lewe as hy 'n ander doodgemaak het sonder voorbedagte rade en sonder dat daar voorheen vyandskap tussen hulle was.

5. Wanneer iemand byvoorbeeld saam met sy buurman na 'n bos toe gaan om hout te kap en hy swaai die byl in sy hand om 'n boom te kap, en die byl skram weg van die boom af en tref die buurman sodat hy sterf, mag so 'n persoon na een van die drie stede toe vlug om te bly lewe.

6. As die pad na so 'n stad toe te lank sou wees, sou dit kon gebeur dat 'n familielid wat in sy woede die ander se dood wil wreek, die man wat hom doodgemaak het, agtervolg en inhaal en doodmaak al is daar nie 'n misdaad gepleeg wat die dood verdien nie: daar was mos nie voorheen vyandskap tussen hulle nie.

7. Dit is waarom ek jou beveel om drie stede uit te sonder.

8-9. Maar as die Here jou God die grondgebied uitbrei soos Hy met 'n eed aan jou voorvaders beloof het en Hy gee die hele land wat Hy aan hulle beloof het aan jou, moet jy nog drie stede by die eerste drie voeg. Die Here sal jou gebied uitbrei omdat jy hierdie hele wet wat ek jou vandag gee, gehoorsaam deurdat jy die Here jou God liefhet en altyd volgens sy wil lewe.

10. Daar mag nie onskuldige bloed vergiet word in die land wat die Here jou God aan jou as besitting sal gee nie, want dan sal daar bloedskuld op jou rus.

11. “Wanneer daar vyandskap is tussen 'n man en sy buurman, en hy lê sy buurman voor en pak hom en slaan hom dat hy sterf, en die man vlug dan na een van hierdie stede toe,

12. moet die leiers van sy stad hom van daar af laat haal en hom oorgee in die mag van die familielid wat die ander se dood wil wreek, en die familielid mag hom doodmaak.

13. Jy mag hom nie genade betoon nie. Jy moet uit Israel uitroei dié wat onskuldige bloed vergiet, dan sal dit met jou goed gaan.”

Vaste bakens

14. “Jy mag nie jou buurman se grenslyne verskuif nie. Dit is grenslyne wat voorheen deur die voorgeslag vasgestel is vir die eiendom wat jy sal besit in die land wat die Here jou God jou as besit sal gee.”

Oor getuies in 'n hofsaak

15. “Daar mag nie net een persoon teen iemand getuig nie, al was die oortreding of die misdaad ook wat, al het hy ook hoe verkeerd gehandel. 'n Beskuldiging kan net bewys word deur die getuienis van twee of drie getuies.

16. “Wanneer 'n kwaadwillige getuie iemand van ontrou aan die Here beskuldig,

17. moet die twee mans wat in die saak betrokke is, voor die Here verskyn, voor die priesters en die regters wat aan diens is.

18. Die regters moet die saak deeglik ondersoek en as dit blyk dat die persoon wat sy volksgenoot beskuldig het, 'n vals getuie is,

19. moet julle hom aandoen wat hy sy volksgenoot wou aandoen. So moet hierdie soort kwaad tussen julle uitgeroei word.

20. Die ander mense sal daarvan hoor en bang word en hierdie soort verkeerde ding sal nie weer tussen julle voorkom nie.

21. Jy mag so 'n persoon nie genade betoon nie: 'n lewe vir 'n lewe, 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n hand vir 'n hand en 'n voet vir 'n voet.”