hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die nasies wat in Kanaän

oorgebly het

1. Die Here het hierdie nasies langer daar laat bly. Die Here wou die Israeliete wat nie aan die oorloë teen die Kanaäniete deelgeneem het nie, hiermee toets.

2. Hy wou die geslag Israeliete wat nog geen ervaring van oorlog gehad het nie, leer hoe om oorlog te maak.

3. Die nasies wat die Here laat aanbly het, was die Filistyne onder aanvoering van hulle vyf leiers, al die Kanaäniete, die Sidoniërs en die Hewiete wat by Libanonberg vanaf Baäl-Hermonberg tot by Lebo-Hamat gewoon het.

4. Die Here het hulle almal daar laat bly om deur hulle agter te kom of die Israeliete bereid is om te luister na die gebooie van die Here wat Hy deur Moses vir hulle voorouers gegee het.

5. Die Israeliete het tussen die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete gewoon.

6. Die Israeliete het met hulle begin ondertrou en hulle gode aanbid.

7. Wat die Israeliete gedoen het, was verkeerd vir die Here. Hulle het die Here hulle God uit hulle gedagtes geskuif en eerder die beelde van die Baäls en die gewyde pale van Asjera aanbid.

8. Die Here was woedend vir die Israeliete. Hy het hulle aan koning Kusan-Risatajim van Aram-Naharajim uitgelewer. Hulle was agt jaar lank sy onderdane.

Otniël lei Israel

9. Die Israeliete het die Here begin smeek om hulle te help. Hy het toe vir hulle iemand gestuur om hulle te bevry. Sy naam was Otniël, die seun van Kaleb se jonger broer Kenas.

10. Die Gees van die Here was in hom. Hy het Israel begin lei. Otniël het oorlog teen die Aramese koning Kusan-Risatajim gaan maak. Die Here het Otniël die oorhand laat kry en hy het Kusan-Risatajim verslaan.

11. Daar was toe 40 jaar lank vrede in die land. Otniël, die seun van Kenas, is later dood.

Ehud reken af met Eglon

12. Die Israeliete het toe weer dinge begin doen wat verkeerd is vir die Here. Hy het koning Eglon van Moab mag oor hulle gegee omdat hulle verkeerd gemaak het.

13. Eglon het saam met die Ammoniete en die Amalekiete Israel aangeval en Jerigo verower.

14. Die Israeliete was agtien jaar lank onderdane van Eglon, die Moabitiese koning.

15. Hulle het weer by die Here begin pleit om hulle te verlos. Hy het Ehud, die seun van Gera, gestuur om hulle te bevry. Hy was ’n Benjaminiet. Ehud was links. Die Israeliete het hom met hulle belasting na koning Eglon van Moab gestuur.

16. Ehud het vir hom ’n dolk gemaak van ’n halwe meter lank wat aan albei kante skerp was. Hy het dit onder sy klere weggesteek en dit aan sy regterkant vasgegespe.

17. Hy het die belasting by koning Eglon van Moab afgelewer. Eglon was ’n baie vet man.

18. Nadat Ehud die belasting afgegee het, het die koning die mense wat dit gedra het, weggestuur.

19. Ehud het by Die Beelde naby Gilgal omgedraai en vir die koning kom sê: “U Edele, ek het ’n geheime boodskap om vir u te gee.” Eglon sê toe vir hom: “Net ’n oomblik.” Hy het al sy amptenare wat om hom was, uitgestuur.

20. Ehud het nadergestaan aan die koning waar hy in sy private koel bovertrek gesit het. Ehud het vir hom gesê: “Ek het vir u ’n boodskap van God.” Die koning het van sy troon af opgestaan.

21. Ehud het toe met sy linkerhand die dolk van sy regterheup af uitgepluk en dit in Eglon se maag ingedryf.

22. Ehud kon dit nie weer uitkry nie. Die koning was so vet dat die handvatsel in sy maag weggeraak het. Die koning het homself vuilgemaak.

23. Ehud het die deure van binne gesluit en by ’n syportaal uitgesluip.

24. Nadat hy weg is, het Eglon se amptenare teruggekom. Hulle het gesien dat die deure van die vertrek gesluit is. Hulle het vir mekaar gesê: Die koning is seker besig om die toilet te gebruik.

25. Hulle het baie lank gewag. Toe die koning nie die deure van sy bovertrek oopmaak nie, het hulle ’n sleutel gekry en dit oopgesluit. Daar kry hulle hulle koning dood op die vloer.

26. Omdat hulle so lank gewag het, kon Ehud ontsnap. Hy het by Die Beelde verbygegaan en na Seïra toe gevlug.

27. Toe hy die heuwels van Efraim bereik, het hy op die ramshoring geblaas om hulle op te roep vir oorlog. Die Israeliete het uit die heuwels agter hom aan gekom.

28. “Volg my,” het hy vir hulle gesê. “Die Here gee julle vyande, die Moabiete, in julle mag.” Hulle het hom gevolg. Hulle het beheer oorgeneem oor die Jordaandriwwe na Moab toe sodat niemand daar kon deurgaan nie.

29. Hulle het die Moabiete aangeval en omtrent 10 000 van hulle sterk en goeie soldate doodgemaak. Niemand kon wegkom nie.

30. Moab is daardie dag aan Israel onderwerp. Daar was 80 jaar lank vrede in die land.

Samgar bevry Israel

31. Ná Ehud het Samgar, die seun van Anat, gekom. Hy het 600 Filistyne met ’n drywerstok doodgeslaan en Israel bevry.