hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Gideon agtervolg Sebag en

Salmunna

1. Die Efraimiete het vir Gideon gevra: “Hoekom het jy so met ons gemaak? Hoekom het jy ons nie ook opgeroep toe jy teen die Midianiete gaan veg het nie?” Hulle het verskriklik met Gideon baklei.

2. Hy het vir hulle gesê: “Hoe is ek nou beter daaraan toe as julle? Was die finale oes van Efraim nie beter as die oes van Abiëser nie?

3. God het die aanvoerders van die Midianiete, Oreb en Seëb, aan julle oorgegee. Ek kon nie dieselfde doen as julle nie.” Toe hulle dit hoor, het hulle bedaar.

4. Gideon het die Jordaan oorgesteek met sy 300 manskappe. Alhoewel hulle uitgeput was, het hulle volgehou met die agtervolging.

5. Toe hulle by Sukkot kom, het hy die inwoners gevra: “Gee tog asseblief vir my soldate kos. Hulle is uitgeput. Ek is besig om die Midianitiese konings Sebag en Salmunna te agtervolg.”

6. Die leiers van Sukkot het vir hom gesê: “Vang eers vir Sebag en Salmunna, dan sal ons vir jou en jou soldate kos gee.”

7. Gideon het toe vir hulle gesê: “Nadat die Here Sebag en Salmunna aan my oorgegee het, gaan ek julle met haakdorings en steekdorings uit die woestyn kom pynig.”

8. Hy is van daar af verder na Pniël toe. Hy het ook by hulle vir kos gevra. Hy het daar dieselfde antwoord as in Sukkot gekry.

9. Hy sê toe vir die mense van Pniël: “Wanneer ek as oorwinnaar terugkom, gaan ek hierdie toring van julle platstoot.”

10. Sebag en Salmunna was op daardie stadium in Karkor met hulle leër van ongeveer 15 000 man. Dit was al die soldate wat oorgebly het van die magte van die mense uit die ooste. Daar is al 120 000 van hulle manskappe dood.

11. Gideon het toe met die karavaanroete oos van Nobag en Jogboha verbygegaan en die leër van die Midianiete onverhoeds aangeval.

12. Sebag en Salmunna het gevlug. Gideon is agter hulle aan en het die twee Midianitiese konings gevang. Hulle leër het paniekbevange geword.

13. Gideon, die seun van Joas, het toe met die Gerespas van die geveg af teruggekom.

14. Hy het ’n seun uit Sukkot gevang. Hy het hom die name van die 77 leiers van Sukkot laat neerskryf.

15. Gideon het toe by die mense van Sukkot gekom en vir hulle gesê: “Hier is Sebag en Salmunna. Julle het mos vol leedvermaak vir my gesê: ‘Vang eers vir Sebag en Salmunna voor ons vir jou moeë manne kos gee.’”

16. Hy het toe die leiers van die stad gevat en hulle met die haakdorings en steekdorings uit die woestyn ’n les of twee geleer.

17. Hy het ook die toring van Pniël afgebreek en die mans van die stad doodgemaak.

18. Gideon vra toe vir Sebag en Salmunna: “Hoe het die mans gelyk vir wie julle by Tabor doodgemaak het?” Hulle het geantwoord: “Hulle het almal soos u gelyk. Almal het gelyk of hulle koningskinders is.”

19. “Hulle was my eie bloedbroers,” het Gideon vir hulle gesê. “So waar as die Here leef, ek sou julle laat bly leef het as julle hulle nie vermoor het nie.”

20. Gideon het toe vir sy oudste seun Jeter geroep: “Kom hier, kom maak hulle dood!” Die seun wou egter nie sy swaard uittrek nie. Hy was bang omdat hy nog maar ’n seun was.

21. Sebag en Salmunna spot toe vir Gideon: “Jy moet ons maar self doodmaak. Soos ’n man is, so is sy krag.” Gideon het opgestaan en vir Sebag en Salmunna doodgemaak. Hy het die kettinkies aan hulle kamele se nekke vir hom gevat.

Israel raak weer afvallig

22. Die Israeliete het toe vir Gideon kom sê: “Jy en jou nageslag moet as konings oor ons regeer. Jy het ons van Midian bevry.”

23. Maar hy het vir hulle gesê: “Nie ek of my seun sal oor julle regeer nie. Die Here self is julle koning.”

24. Gideon het egter gesê: “Daar is tog een ding wat ek van julle wil vra: Laat elkeen van julle asseblief vir my ’n oorring gee uit die buit wat hy gemaak het.” Die vyand het goue oorringe gedra, want hulle was Ismaeliete.

25. “Ons gee dit met graagte vir jou,” het hulle geantwoord. Hulle het ’n mantel oopgegooi. Elkeen het uit sy buit ’n oorring daarin gegooi.

26. Die goue oorringe wat Gideon gekry het, het negentien en ’n half kilogram geweeg. Dit het nie die halfmaantjies, hangertjies, klere van die Midianitiese konings en die kettinkies rondom die kamele se nekke ingesluit nie.

27. Van die goud het Gideon ’n efodbeeld gemaak. Hy het dit opgesit in sy tuisdorp Ofra. Die hele Israel het afvallig geword, want hulle het die beeld daar kom aanbid. Dit het vir Gideon en sy mense ’n valstrik geword.

28. So is die Midianiete aan Israel onderwerp. Hulle het nooit weer herstel nie. In Gideon se tyd was daar vir 40 jaar lank vrede in die land.

29. Jerubbaäl, die seun van Joas, het ná die oorlog teen Midian teruggegaan na sy huis toe.

30. Hy het 70 seuns by sy baie vroue gehad.

31. Sy byvrou in Sigem het ook vir hom ’n seun gegee. Sy naam was Abimelek.

32. Gideon, die seun van Joas, het ’n hoë ouderdom behaal. Hy is dood en in Ofra in die graf van sy pa, Joas die Abiësriet, begrawe.

33. Gideon was skaars dood of die Israeliete het weer na die Baäls toe teruggegaan. Hulle het Baäl-Berit hulle god gemaak.

34. Hulle het die Here hulle God, wat hulle uit die mag van al hulle vyande rondom hulle gered het, net so gelos.

35. Hulle het nie lojaal gebly aan die gesin van Jerubbaäl – dit is nou Gideon – nie, ten spyte van al die goeie dinge wat hy vir Israel gedoen het.