hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Here stuur sy boodskapper

na Bokim

1. Die Here se engel het ’n boodskap van God vir Israel gebring. Hy het van Gilgal af na Bokim toe opgegaan en gesê: “Ek het julle uit Egipte gered. Ek het julle na die land gebring wat Ek aan julle voorouers beloof het. Ek het vir hulle gesê: ‘Ek sal nooit my verbond met julle verbreek nie,

2. maar julle mag nooit ’n verdrag sluit met die mense wat in hierdie land woon nie. Julle moet hulle altare afbreek.’ Julle het egter nie na My geluister nie. Hoekom het julle so gemaak?

3. Daarom sê Ek nou vir julle: Ek gaan nie hierdie nasies voor julle verdryf nie. Hulle gaan vir julle ’n struikelblok wees. Julle gaan oor hulle gode struikel.”

4. Ná die engel van die Here die boodskap vir die Israeliete gebring het, het die hele volk in trane uitgebars.

5. Hulle het daarom die plek Bokim genoem. Hulle het daar offers vir die Here gebring.

Israel verlaat die Here

6. Nadat Josua die volk weggestuur het, is elkeen na sy grond toe om dit in besit te gaan neem.

7. Terwyl Josua nog geleef het, het die volk die Here bly dien. Terwyl dié leiers oor was wat langer as Josua geleef het, het hulle nog die Here gedien. Hierdie mense het nog al die groot dade beleef wat die Here vir Israel gedoen het.

8. Josua, die seun van Nun en dienaar van die Here, is dood op 110 jaar.

9. Hy is op sy grond begrawe in Timnat-Geres, in die heuwels van Efraim, noord van Gaäsberg.

10. Daardie geslag het uitgesterf. Ná hulle het daar ’n geslag mense gekom wat nie die Here geken het nie. Hulle het ook niks geweet van die groot dinge wat Hy gedoen het nie.

11. Die Israeliete het toe iets gedoen wat vir die Here baie sleg was. Hulle het die Baäls begin aanbid.

12. Hulle het hulle rug gedraai op die Here, die God van hulle voorouers, wat hulle uit Egipte gered het. Hulle het agter die vreemde gode van die volke rondom hulle aangegaan. Die Israeliete het voor hierdie gode begin kniel. Dit het die Here kwaad gemaak.

13. Hulle het die Here net so gelos en die Baäls en die Astartes begin aanbid.

14. Die Here was woedend vir Israel. Hy het hulle uitgelewer aan rowers wat Israel geplunder het. Die Here het hulle in die hand van al hulle vyande rondom hulle oorgelewer. Die Israeliete kon geen teenstand bied teen hulle vyande nie.

15. Elke keer wanneer hulle uitgegaan het om te gaan veg, was die hand van die Here teen hulle. Dit is soos Hy hulle voorheen gewaarsku het en vir hulle belowe het. Die Israeliete was uiters moedeloos.

16. Die Here het egter leiers na vore laat kom om die volk te red van die mense wat hulle beroof het.

17. Maar die volk was nie gehoorsaam aan hulle leiers nie. Hulle het agter ander gode aangegaan en hulle aanbid. Hulle het gou afgewyk van die koers wat hulle voorouers ingeslaan het, naamlik om die Here se gebooie te volg. Hulle het nie dieselfde koers gevolg nie.

18. Wanneer die Here vir hulle ’n leier gegee het, was Hy saam met daardie leier en het Hy die volk gered van hulle vyande so lank as wat die leier geleef het. Die Here was jammer vir sy volk wanneer hulle gekla het oor die mense wat hulle laat swaarkry en hulle onderdruk het.

19. Sodra die leier egter sterf, het hulle maar weer teruggeval op die ou weë en het hulle net nog erger tekere gegaan as die mense voor hulle. Hulle het agter vreemde gode aangeloop om hulle te aanbid en voor hulle te buig. Hulle het nie van hulle verkeerde dade afgesien of hulle eiewilligheid gelos nie.

20. Die Here het dan weer woedend geword en vir Homself gesê: “Hierdie volk verbreek die verbond wat Ek met hulle voorouers gemaak het. Hulle luister nie na My nie.

21. Daarom gaan Ek nie langer die nasies wat oorgebly het ná Josua se dood uitdryf nie.

22. Ek gaan Israel met hierdie nasies toets om te kyk of hulle agter die Here aangaan soos hulle voorouers, of nie.”

23. Daarom het die Here hierdie nasies net so gelos en hulle nie verdryf nie. Dit is hoekom Hy hulle destyds ook nie in Josua se mag oorgegee het nie.