hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Simson word gevange geneem

1. Simson het op ’n keer Gasa toe gegaan. Hy het daar ’n prostituut ontmoet en by haar gaan slaap.

2. Die mense van Gasa het gehoor dat Simson daar was. Hulle het toe saamgekom en by die ingang van die stad die hele nag deur vir hom gesit en wag. Hulle het deur die nag nie ’n geluid gemaak nie. Hulle het met mekaar afgespreek: “Wanneer dit lig word, gaan ons hom doodmaak.”

3. Simson het bly lê tot middernag en toe opgestaan. Hy het die deure van die stadspoort met kosyne en al uitgeruk en dit op sy skouers tot bo-op die kruin van die berg teenoor Hebron gedra.

4. ’n Ruk later het Simson op ’n vrou in die Sorekvallei verlief geraak. Haar naam was Delila.

5. Die leiers van die Filistyne het met haar gaan onderhandel: “Pols hom dat jy kan uitvind hoekom hy so sterk is. Vind uit hoe hy oorweldig en vasgebind kan word. Ons sal elkeen vir jou dertien kilogram silwer gee.”

6. Delila het toe vir Simson gevra: “Vertel my ’n bietjie waar jou groot krag vandaan kom. Hoe kan ’n mens die oorhand oor jou kry?”

7. Simson het haar geantwoord: “As hulle my vasbind met sewe vars boogsnare wat nog nie uitgedroog het nie, sal ek soos enige ander mens wees.”

8. Die leiers van die Filistyne het vir Delila sewe vars boogsnare gebring wat nog klam was. Sy het Simson daarmee vasgebind.

9. Daar het mans in een van die kamers van haar huis weggekruip. Sy sê toe vir hom: “Simson, die Filistyne het jou kom vang!” Hy het die boogsnare gebreek soos toue wat in ’n vlam brand. Niemand het geweet waar sy krag vandaan kom nie.

10. Daarna het Delila vir Simson gesê: “Jy speel met my. Jy het gelieg. Sê tog nou vir my waarmee kan ’n mens jou vasbind.”

11. Hy het vir haar gesê: “Ek sal so swak soos enige ander mens wees as ek stewig vasgebind word met nuwe toue wat nog vir niks anders gebruik is nie.”

12. Delila het nuwe toue gevat en hom daarmee vasgebind. Sy sê toe vir hom: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!” Daar het weer mans in een van haar kamers weggekruip. Simson het die toue wat om sy arms was, gebreek asof dit garingdrade was.

13. Delila het vir Simson gevra: “Wanneer gaan jy ophou om met my te mors? Jy lieg nog al die tyd vir my. Sê nou regtig vir my waarmee kan jy bedwing word.”Hy sê toe vir haar: “As jy sewe van my haarlokke in die materiaal op jou weefstoel inweef en met die dwarspen vassteek, sal ek so swak wees soos enige ander mens.”

14. Terwyl hy slaap, het sy so gemaak. Sy roep toe na hom en sê vir hom: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!” Hy het wakker geskrik en die materiaal met dwarspen en al uit die weefstoel geruk.

15. Sy kerm toe by hom: “Hoe kan jy sê jy is lief vir my, maar jy vertrou my glad nie? Drie keer het jy my al vir die gek gehou. Jy wil nog steeds nie vir my sê waarin jou krag lê nie.”

16. So het sy dagin en daguit by hom bly neul totdat hy gevoel het hy word gek daarvan.

17. Toe het hy sy hart vir haar oopgemaak. Hy het vir haar gesê: “My hare is nog nooit geskeer nie. Ek is van my geboorte af as nasireër aan God gewy. As my hare afgeskeer word, sal my krag verdwyn. Ek sal dan magteloos wees en soos enige ander mens.”

18. Delila het gesien dat hy hierdie keer vir haar sy geheim vertel het. Sy het toe die leiers van die Filistyne laat kom en vir hulle gesê: “Hierdie keer moet julle kom! Hy het my nou sy geheim vertel.” Die leiers het gekom en die geld vir die betaling saamgebring.

19. Sy het vir Simson op haar skoot aan die slaap gemaak. Sy het ’n man nadergeroep om Simson se sewe haarlokke af te skeer. Sy het seker gemaak dat hy bedwing sal kan word. Sy krag het verdwyn.

20. Sy roep toe uit: “Die Filistyne het jou kom vang, Simson!” Hy het uit die slaap wakker geword en by homself gedink: “Ek sal weer uit die ding kom soos al die vorige kere.” Maar hy het nie geweet dat die Here hom verlaat het nie.

21. Die Filistyne het hom vasgebind. Hulle het sy oë uitgesteek. Hulle het hom na Gasa toe gevat en hom met twee koperkettings vasgemaak. In die tronk moes hy meel maal.

22. Maar daar het sy afgeskeerde hare weer begin groei.

Simson dood 3 000 mans en

vroue

23. Die leiers van die Filistyne het saamgekom om in die tempel ’n groot offerfees vir hulle god Dagon te hou. Hulle het vir mekaar gesê: “Ons god het ons vyand Simson in ons hand gegee.”

24. Toe die mense hom sien, het hulle hulle god begin loof en gesê: “Ons god het ons vyand wat ons land so verwoes het en so baie van ons doodgemaak het, in ons mag gegee!”

25. Toe die Filistyne begin dronk word, het hulle gesê: “Bring Simson vir ons dat hy ons kan laat pret hê.” Hulle het Simson uit die tronk gaan haal om hulle te kom vermaak. Hulle het hom tussen die twee hoofpilare van die tempel laat staan.

26. Hy het vir die seun wat hom aan die hand gelei het, gevra: “Laat my by die pilare van die tempel staan dat ek daarteen kan leun.”

27. Die tempel was propvol mans en vroue. Al die leiers van die Filistyne was daar. Op die dak van die tempel was daar ook omtrent 3 000 mans en vroue wat kom kyk het hoe Simson hulle gaan vermaak.

28. Simson bid toe tot die Here: “Oppermagtige Here, dink tog aan my! God, maak my tog net hierdie een keer so sterk dat ek my op die Filistyne kan wreek vir my oë!”

29. Simson het met sy hande teen die twee hoofpilare gedruk waarop die gebou rus. Hy het met sy regterhand en sy linkerhand elkeen teen ’n pilaar gedruk.

30. Toe bid hy: “Laat my saam met die Filistyne sterf!” Hy het met al sy krag teen die pilare gedruk en die tempel het inmekaargestort op die leiers van die Filistyne en al die mense wat daarin was. Met sy dood het Simson baie meer mense doodgemaak as deur sy hele lewe.

31. Sy broers en sy hele familie het afgekom en sy lyk kom haal. Hulle het hom saam teruggeneem en hom tussen Sora en Estaol in sy pa, Manoag, se graf begrawe. Simson was twintig jaar lank Israel se leier.