hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jefta en die Efraimiete

1. Die Efraimiete het bymekaargekom om oorlog te maak. Hulle het deur die Jordaan na Safon getrek. Daar het hulle vir Jefta gevra: “Hoekom het jy teen die Ammoniete gaan veg sonder om ons saam met jou te neem? Ons sal jou saam met jou huis afbrand.”

2. Jefta het hulle geantwoord: “Daar was ’n groot stryd tussen ons en die Ammoniete. Ek het julle opgeroep, maar julle het my nie kom help nie.

3. Toe ek sien ek gaan nie hulp kry nie, het ek dit maar gewaag en teen die Ammoniete gaan veg. Die Here het hulle in my hand gegee. Hoekom wil julle nou teen my kom veg?”

4. Maar die Efraimiete sê: “Julle mense van Gilead het uit Efraim en Manasse gedros!”Jefta het toe die mense van Gilead bymekaargemaak en teen die Efraimiete geveg.

5. Hulle het die Efraimiete by die Jordaandriwwe voorgelê. Wanneer iemand deur die Jordaan wou teruggaan, het hulle vir hom gevra: “Is jy ’n Efraimiet?” Wanneer hy sê: “Nee!”,

6. sê hulle vir hom: “Sê ’n bietjie: ‘Sjibbolet.’” Wanneer hy “Sibbolet” sê, het hulle hom gegryp en daar by die Jordaandrif doodgemaak. Die Efraimiete kon nie die woord reg uitspreek nie. So is 42 000 man van Efraim dood.

7. Jefta het Israel ses jaar lank gelei. Jefta die Gileadiet het gesterf en hy is begrawe in een van die stede in Gilead.

Ander leiers

8. Ná hom het Ibsan uit Betlehem as leier van die Israeliete opgetree.

9. Hy het 30 seuns en 30 dogters gehad. Hy het sy dogters met mans buite sy stam laat trou. Hy het ook sy seuns met 30 vroue van buite sy stam laat trou. Hy het Israel vir sewe jaar lank gelei.

10. Toe Ibsan sterf, is hy in Betlehem begrawe.

11. Hy is gevolg deur Elon uit Sebulon. Hy was tien jaar lank die leier van Israel.

12. Toe Elon uit Sebulon sterf, is hy begrawe in Ajalon in die Sebulongebied.

13. Ná hom het Abdon, die seun van Hillel uit Piraton, leier van Israel geword.

14. Hy het 40 seuns en 30 kleinseuns gehad. Hulle het op 70 donkies gery. Hy was agt jaar lank leier in Israel.

15. Abdon, die seun van Hillel uit Piraton, het gesterf. Hulle het hom in Piraton in die Efraimgebied by die Amalekheuwels begrawe.