hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Miga se huistempel

1. ’n Man met die naam Miga het in die heuwelgebied van Efraim gewoon.

2. Hy het vir sy ma gesê: “Ma het die persoon vervloek wat die dertien kilogram silwer van Ma gesteel het. Dit is ek wat dit gevat het.” Sy ma sê toe vir hom: “My seun, mag die Here jou seën omdat jy dit erken het.”

3. Hy het die dertien kilogram silwer na sy ma toe teruggebring. Sy sê toe: “Ek wy hierdie silwer aan die Here. Ter wille van my seun laat ek daarvan ’n beeld giet. So gee ek dit weer vir jou terug, my seun.”

4. Nadat hy die silwer vir sy ma teruggegee het, het sy sowat twee en ’n half kilogram daarvan gevat en vir ’n silwersmid gegee om daarvan ’n beeld te maak om te aanbid. Dit is toe in Miga se huis gesit.

5. Miga het ’n heiligdom by sy huis ingerig. Daarvoor het hy ’n efodbeeld en afgodsbeeldjies gemaak en een van sy seuns as priester aangestel.

6. Israel het nog nie in daardie tyd ’n koning gehad nie. Elkeen het gemaak soos hy wou.

7. Daar was ’n jong man in Betlehem in Juda. Hy het aan die Judastam behoort. Hy was ook ’n Leviet. Hy het tydelik in Betlehem gebly.

8. Hy is van daar af weg om elders blyplek te soek. Op pad het hy in die heuwelgebied van Efraim by die huis van Miga uitgekom.

9. “Van waar af is jy?” het Miga vir hom gevra. “Ek is ’n Leviet. Ek kom van Betlehem in Juda. Ek is op soek na blyplek,” het hy geantwoord.

10. “Kom bly dan by my,” het Miga vir hom gesê. “Jy kan my raadgewer en my priester wees. Ek sal vir jou kos en klere en veertien gram silwer ’n jaar gee.”

11. Die Leviet het daarmee ingestem. Hy het soos een van Miga se eie seuns geword.

12. Miga het die Leviet as priester gewy. Hy het sy persoonlike priester geword en in Miga se huis gebly.

13. Toe sê Miga: “Ek is daarvan oortuig dat die Here vir my goed sal wees omdat ek in my huis ’n Leviet as priester het.”