hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21

Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jefta se onderhandeling met die

Ammoniete

1. Jefta van Gilead was ’n beroemde soldaat. Sy pa se naam was Gilead. Sy ma was ’n prostituut.

2. Gilead se eie vrou het ook vir hom seuns gegee. Toe sy halfbroers groot was, het hulle vir Jefta weggejaag. Hulle het vir hom gesê: “Jou ma is ’n prostituut. Jy mag nie saam met ons van ons pa erf nie.”

3. Jefta het van sy broers padgegee en in die streek Tob gaan woon. Hy het ’n bende leeglêers om hom versamel. Hy was hulle leier.

4. In hierdie tyd het die Ammoniete teen die Israeliete kom oorlog maak.

5. Toe die Ammoniete teen hulle begin veg, het die leiers van Gilead vir Jefta uit Tob laat kom.

6. Hulle het vir hom gevra: “Kom voer ons aan teen die Ammoniete.”

7. Jefta antwoord die leiers: “Julle het my dan so gehaat dat julle my uit my pa se huis weggejaag het. Vir wat kom julle nou na my toe wanneer julle in die moeilikheid is?”

8. “Ons het jou nodig,” het die leiers van Gilead vir Jefta gesê. “Kom voer ons aan teen die Ammoniete! Ons sal jou die hoof maak van almal wat in Gilead woon.”

9. Toe vra Jefta vir die leiers van Gilead: “As julle my volg in die geveg teen die Ammoniete en die Here gee vir julle die oorwinning, sal julle my regtig as julle leier aanvaar?”

10. “Die Here sal teen ons getuig,” sê die leiers van Gilead, “as ons nie doen wat jy sê nie.”

11. Jefta is toe saam met die leiers van Gilead. Die volk het hom as hulle hoof en as aanvoerder van die leër aanvaar. Hy het in Mispa alles wat hy vir die leiers van Gilead gesê het, voor die Here gaan herhaal.

12. Jefta het boodskappers na die koning van die Ammoniete gestuur om by hom te hoor: “Wat is daar tussen ons en jou dat jy hier na ons land kom om teen ons oorlog te maak?”

13. Die Ammonitiese koning se antwoord vir Jefta se boodskappers was: “Israel het my land van die Arnon af tot by die Jabbok en tot by die Jordaan gesteel toe hulle uit Egipte opgetrek het. Gee dit nou vreedsaam terug.”

14. Jefta het sy boodskappers weer na die Ammonitiese koning toe gestuur.

15. Hulle het vir hom gaan sê: “Jefta sê: Israel het nie die grond van die Moabiete of die Ammoniete gesteel nie.

16. Israel het uit Egipte deur die woestyn getrek tot by die Rietsee en by Kades aangekom.

17. “Van daar af het hy boodskappers na die koning van Edom toe gestuur en hom versoek: Laat my asseblief deur jou land trek. Hy het geweier. Israel het ook vir die koning van Moab gevra. Hy wou ook nie. Israel het toe net daar in Kades gebly.

18. “Hy het toe rondom die gebied van Edom en dié van Moab deur die woestyn getrek. Hy het oos van Moab se gebied verbygesteek en kamp gaan opslaan aan die ander kant van die Arnonrivier. Hy het nêrens in Moab se gebied gekom nie. Die Arnon is tog Moab se grens.

19. “Israel het toe ook na koning Sihon van die Amoriete in Gesbon boodskappers gestuur met die versoek: Laat my asseblief deur jou land trek na my plek toe.

20. Sihon het Israel nie vertrou om hom deur sy gebied te laat trek nie. Sihon het sy hele leër gemobiliseer en by Jahas kamp opgeslaan om teen Israel te veg.

21. Die Here, die God van Israel, het Sihon en sy hele volk in die mag van Israel oorgegee. Israel het hulle verslaan en beheer oorgeneem oor die hele gebied waar die Amoriete toe gewoon het.

22. “Israel het in besit gekom van die hele gebied van die Amoriete, van die Arnon af tot by die Jabbok en van die woestyn af tot by die Jordaanrivier.

23. “Die Here, die God van Israel, het dus die Amoriete voor sy volk Israel verdryf. Wil jy Hom nou verdryf?

24. Jy bly waar jou god Kemos vir jou grond gegee het. Ons bly waar die Here ons God vir ons grond gegee het.

25. Is jy dan beter as koning Balak van Moab, die seun van Sippor? Het hy dalk oor die grond ’n saak probeer maak teen Israel? Of het hy daaroor oorlog gemaak? Natuurlik nie!

26. “Israel bly nou al 300 jaar in Gesbon en sy omgewing, Aroër en sy distrik en in al die stede langs die Arnon. Hoekom het jy hulle nie destyds al probeer terugkry nie?

27. “Ek het nie verkeerd met jou gemaak nie. Jy is die een wat verkeerd met my maak. Laat die Here, wat die regter is, vandag sy beslissing gee in die saak tussen die Israeliete en die Ammoniete.”

28. Die koning van die Ammoniete wou egter nie luister na die boodskap wat Jefta vir hom gestuur het nie.

29. Die Gees van die Here het op Jefta gekom. Hy het deur Gilead en Manasse getrek tot by Mispa in Gilead. Van daar af het hy teen die Ammoniete gaan veg.

’n Noodlottige gelofte

30. Jefta het ’n gelofte aan die Here gemaak. Hy het beloof: “As U my vandag die oorwinning oor die Ammoniete gee,

31. en as ek behoue van die Ammoniete af terugkom, sal ek die persoon wat van my huis af kom om my te groet, aan die Here afstaan. Ek sal hom as brandoffer offer.”

32. Jefta het teen die Ammoniete gaan veg. Die Here het vir hom die oorwinning gegee.

33. Jefta het die Ammoniete verpletterend verslaan van Aroër af tot waar ’n mens by Minnit kom, altesaam twintig stede. By Abel-Keramim was daar ’n groot slagting. Die Ammoniete is aan die Israeliete onderwerp.

34. Jefta is terug na sy huis in Mispa. Sy enigste dogter het hom met tamboeryne en koordanse kom ontmoet. Hy het nie nog ander kinders gehad nie.

35. Toe hy haar sien, het hy sy klere geskeur. Hy het uitgeroep: “Ag tog, my dogter, my hart is stukkend. Jy het my in die ellende gedompel. Ek het aan die Here ’n gelofte gemaak en ek kan dit nie terugtrek nie.”

36. Sy het vir hom gesê: “Pa, jy het ’n gelofte aan die Here gemaak. Doen met my wat Pa beloof het. Die Here het vir Pa ’n oorwinning oor jou vyande, die Ammoniete, gegee.”

37. Sy het ook vir hom gevra: “Laat my asseblief toe om vir twee maande na die heuwels toe te gaan. Ek wil daar saam met my vriendinne gaan treur omdat ek as ’n maagd moet sterf.”

38. Hy het vir haar gesê: “Jy kan gaan.” Hy het haar twee maande lank weggestuur. Sy het saam met haar vriendinne die heuwels ingegaan en daar gaan treur omdat sy nooit kinders sou hê nie.

39. Aan die einde van die twee maande het sy teruggekom na haar pa toe. Hy het met haar gemaak soos hy belowe het. Sy het nooit aan ’n man behoort nie. Dit het in Israel ’n instelling geword

40. dat die Israelitiese meisies elke jaar vir vier dae lank oor die dogter van Jefta die Gileadiet treur.