hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 30 Die Boodskap (DB)

Keer dan terug na die Here

1. “Sê nou maar al hierdie dinge gebeur met jou. Jy beleef die voorspoed wat die Here beloof het, maar jy beleef ook hoe dit met jou sleg gaan. Dan sit jy op ’n dag en dink diep na oor hoe die Here dit met jou laat sleg gaan. Jy sit daardie dag in ’n vreemde land, ver van jou eie land af. Jy het daar beland omdat die Here jou as ’n gevangene in jou vyande se hand oorgegee het. Hy het mos belowe dat Hy dit gaan doen.

2. Dan besef jy watter groot fout jy gemaak het. En jy kom terug na die Here jou God. Jy en jou kinders besluit dan om alles te doen net soos die Here julle beveel het. Julle maak dan soos Hy vir julle sê.

3. Dan sal die Here dit weer voorspoedig met jou laat gaan. Hy sal aan jou dink, daar waar jy in die ver land sit. Hy sal jou bymekaarmaak waar jy tussen jou vyande moet woon en sonder betaling vir hulle moet werk. Hy sal jou red en na jou eie land toe terugbring.

4. Selfs al het die Here jou verstrooi tot by die uiteindes van die aarde, sal Hy jou weer gaan haal.

5. Hy sal jou terugbring na die land wat Hy aan jou oupagrootjies en oumagrootjies gegee het. En daardie land sal weer aan jou behoort. Dan sal die Here jou selfs nog meer voorspoedig maak as voorheen. Jou volk sal groter wees as voor die Here jou uit jou land weggejaag en aan jou vyande oorgegee het.

6. “Dan sal die Here jou God jou hart verander. En Hy sal die harte van jou kinders en kleinkinders verander. Julle sal die Here liefhê bo enigiets of enigiemand anders. As ’n mens die Here eerste in jou lewe stel, laat Hy jou lewe!

7. Al die slegte goed wat die Here met jou laat gebeur het, sal dan met jou vyande gebeur. Dit sal sleg gaan met al die mense wat jou gehaat het en sleg aan jou gedoen het.

8. Daardie dag sal jy presies doen wat die Here beveel het. Dan sal jy alles doen wat ek vandag vir jou gesê het.

9-10. Dan sal die Here jou God jou weer voorspoedig maak in alles wat jy doen. Hy sal vir jou baie kinders gee. En Hy sal vir jou baie skape en beeste gee. Jy sal rekordoeste op jou lande hê. Want dis vir die Here lekker as jy doen wat Hy vir jou sê. Hy is bly en opgewonde oor jou as jy haarfyn alles doen wat in hierdie boek opgeteken staan. Daarom, draai terug na die Here toe. Loop agter Hom aan met alles wat in jou is.”

Die keuse tussen lewe en dood

11. “Wat ek julle vandag beveel om te doen is nie te moeilik nie. Julle kan dit verstaan. En julle kan dit ook doen.

12. Wat die Here van julle vra, is nie so moeilik dat ’n mens in die hoë hemel moet gaan soek om dit te verstaan nie. Dis nie nodig dat iemand uit die hemel moet afkom en vir jou vertel wat van jou verwag word voor jy dit sal kan doen nie.

13. Wat die Here van jou vra, kan jy doen. Sy opdragte is ook nie ver oor die see sodat jy iemand moet soek om op ’n skip te klim en oorsee te vaar om dit te gaan soek nie. Jy kán lewe soos die Here van jou verwag.

14. Wat Hy van jou vra, is eintlik baie naby aan jou. Ek het dit vir jou in jou hand gegee. Jy kan daaroor praat. Ja, jy ken dit al teen dié tyd. Jy is in staat om te lewe soos die Here van jou verwag.

15. “Maar luister nou baie mooi. Ek stel julle vandag voor die keuse. Julle kan self kies. Julle moet kies wat julle wil hê. Wil julle hê dat dit voorspoedig met julle moet gaan, of kies julle vandag teëspoed? Kies tussen lewe en dood!

16. Ek het vandag mos vir jou gesê wat jy moet doen. Jy moet die Here jou God liefhê. Jy moet Hom eerste in jou lewe stel. En jy moet noukeurig alles doen wat Hy sê jy moet doen. Jy moet agter Hom aanloop. As jy dit doen, sal jy lewe. Die Here sal jou voorspoedig maak. Jy sal ’n groot nasie word. En die Here sal dit met jou goed laat gaan in die land wat Hy vir jou gaan gee. Jy staan op die punt om hierdie land vir jou te vat.

17. “Maar jy kan dalk vandag kies om in die teenoorgestelde rigting te loop. Jy weier om na die Here te luister. Jy gaan soek vir jou afgode en jy buig voor hulle neer.

18. Dan waarsku ek jou vandag dat die Here jou definitief gaan vernietig. Dit sal sleg met jou gaan. Jy sal nie baie lank in hierdie goeie land bly nie.

19. “Vandag gee ek vir julle die keuse: kies tussen lewe en dood. Kies of julle wil hê dat dit voorspoedig met julle moet gaan, en of julle wil hê teëspoed moet al agter julle aantrek. God in die hemel en al die mense op aarde sien wat julle vandag kies. Ag, mag julle tog maar die lewe kies! Dan wag daar ’n wonderlike toekoms vir julle en vir julle kinders en kleinkinders.

20. Kies tog vandag om die Here jou God lief te hê en net vir Hom te leef. Kies om te doen wat Hy wil hê jy moet doen. Kies om jou lewe lank gehoorsaam te wees aan alles wat Hy vir jou sê om te doen. Maak Hom die middelpunt van jou lewe. Laat Hy die rede wees hoekom jy lewe. Dan sal jy oud word en lank lewe in die land wat die Here belowe het om vir jou te gee. Hy het lank terug al vir Abraham, Isak en Jakob belowe dat Hy hierdie land vir jou sal gee.”