hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 26 Die Boodskap (DB)

Voorskrifte oor offers en bydraes

1. “Jy gaan binnekort in die land kom wat die Here jou God vir jou gee. Daar moet jy jou tuismaak.

2. Dan moet jy elke jaar die eerste deel van die oes neem wat jy in daardie land plant en oes, en dit in ’n mandjie pak. Dan moet jy daarmee na die plek toe gaan wat die Here jou God sal kies om in te bly. Dit is die plek waar jy die Here moet dien.

3. Gaan dan na die man wat daar in die diens van die Here staan. Sê vir hom: ‘Ek het ’n geskenk vir die Here my God gebring, want dit is Hy wat my in hierdie land gebring het, en dis Hy wat hierdie land vir my gegee het. Hy het mos al vir my oupagrootjies belowe dat Hy dit sal doen.’

4. “Die man wat in die huis van die Here werk, moet dan die mandjie neem met die geskenk in. Dan moet hy dit voor die altaar neersit, voor die Here jou God.

5. Jy moet dan daar waar die Here jou God self teenwoordig is, sê: ‘My oupagrootjie Jakob was ’n Arameër wat oor die aarde getrek het omdat hy geen grond van sy eie gehad het nie. Toe het hy in Egipte gaan bly. Sy familie was klein. Hulle was ’n handjie vol mense. Maar in Egipte het hulle baie geword. Hulle het ’n groot nasie geword wat baie sterk was.

6. Die Egiptenaars het dit gesien. Toe het hulle ons sleg behandel. Hulle het ons verneder en ons sonder betaling hard laat werk.

7. Toe het ons na die Here geroep. Ons het Hom gevra om ons van die Egiptenaars te red. Hulle het ons baie hard laat werk sonder om ons te betaal en hulle het ons verdruk. Maar God is die God van ons oupagrootjies en oumagrootjies. Hy het gehoor toe ons roep. Hy het gesien hoe sleg ons behandel word en hoe swaar ons daar kry.

8. Toe het die Here ons uit Egipte gered. Hy het wonderlike dinge gedoen, want Hy is baie sterk. Die dinge wat Hy gedoen het om ons te red, was net ongelooflik!

9. Toe het Hy ons na hierdie plek gebring. Hy het hierdie land vir ons gegee. Dit is ’n goeie land. Hier is meer as genoeg om van te leef.

10. Daarom, Here, bring ek hierdie geskenk vir U. Dis maar net ’n ietsie van die baie wat U vir my gegee het. Ek bring dit van die eerste oes wat ek vanjaar in hierdie land afgehaal het.’“Dan moet jy die geskenk voor die Here jou God neersit. Jy moet laag voor die Here buig en Hom dien.

11. As jy klaar is, moet jy teruggaan na waar jy bly. Dan moet jy daar ’n groot fees vier omdat die Here jou God goeie dinge vir jou en jou huismense gegee het. Wees bly, want Hy is goed vir jou. Onthou net om ook vir die mense wat in die huis van die Here jou God werk, die kleinkinders van Levi, iets saam te bring. Doen ook goed aan die vreemdelinge. Deel die goeie dinge wat die Here vir jou gegee het met hulle. Laat hulle saam met jou feesvier en bly wees.”

’n Tiende van die oes is die Here s’n

12. “Jy moet elke derde jaar ’n spesiale tiende van jou oes vat. Hierdie tiende behoort aan die Here. Jy moet dit vir die mense wat in die huis van die Here werk en vir die vreemdelinge en die weeskinders en weduwees gee. As jy só maak, sal hulle ook genoeg hê om te eet. Dan sal niemand in een van jou stede honger ly nie.

13. Jy moet hardop sê: ‘Ek het die geskenk uit my huis wat aan die Here behoort, gevat. Ek het dit vir die mense wat die Here dien en in sy huis werk, asook vir die vreemdelinge en die weeskinders en weduwees gegee. Ek het alles gedoen nes U my beveel het, Here. Ek het niks wat U my beveel het, vergeet nie.

14. Ek het niks daarvan geëet terwyl ek hartseer was omdat iemand na aan my dood is nie. Ek het ook nie hierdie offer vir U gebring toe ek nie heeltemal rein was nie. En ek het niks daarvan as ’n offer vir dooie mense gegee nie. Ek het alles gedoen wat die Here my beveel het. Ek het nie vergeet wat U vir my gesê het nie.

15. Daarom, Here, laat daar nou ’n glimlag op u gesig wees as U na my kyk. Kyk na my daar van die plek af waar U bly en maak u volk Israel voorspoedig in alles wat hulle doen. Laat hulle land ook oorgenoeg hê sodat al die mense in die land genoeg het om te eet. U het mos ons oupagrootjies en oumagrootjies belowe dat U dit sal doen.’”

Doen wat die Here beveel het!

16. “Die Here jou God sê vandag vir jou dat jy haarfyn alles moet doen wat Hy jou beveel. Jy moet presies maak soos Hy vir jou sê. Jy moet dit alles doen sonder om vir een oomblik jou eie kop te volg.

17. Jy het mos gesê dat die Here jou God is. Jy het vandag gesê dat Hy jou volk se Regeerder moet wees. En jy het belowe dat jy alles sal doen wat Hy sê. Jy sal doen wat Hy jou beveel.

18. Daarom verklaar die Here vandag dat jy sy volk is. Julle behoort aan Hom. En julle is baie kosbaar vir Hom. Hy sal julle oppas. Hy belowe dat Hy dit sal doen. Julle moet net alles doen wat Hy julle beveel.

19. As julle dit doen, maak Hy julle groter as enige ander nasie op aarde. Dan sal almal na julle opsien. Hulle sal vertel hoe beroemd en sterk en ryk julle is. Julle is ’n nasie wat eenkant gesit is om die Here te dien. So belowe die Here jou God.”