hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 33 Die Boodskap (DB)

Moses wens die volk voorspoed toe

1. Toe het Moses die Israeliete voorspoed toegebid. Net voor sy dood het hy vir hulle gesê:

2. “Die Here het uit die Sinaiwoestyn gekom en Hom aan ons bekendgemaak. Van die Seïrberge af het ons Hom sien nader kom. Toe Hy by Paranberg verbygaan, het ons die vuur in sy regterhand sien brand. Hy het gekom met tien duisende van die mense wat Hom dien.

3. “U het gekom, Here, omdat U u volk liefhet. U hou die mense in u eie hand vas wat U vir Uself eenkant gesit het om U te dien. U beskerm hulle. Hierdie mense loop oral agter U aan. Hulle doen wat U vir hulle sê.

4. Wat U ons beveel, is die kosbaarste besitting wat u volk op aarde het.

5. Die Here het ons Regeerder geword. Israel is vir Hom baie spesiaal. Al die leiers van die volk het toe bymekaargekom, saam met al die stamme van Israel. En hulle het die Here tot hulle koning verklaar.”

6. Moses het toe met die stam van Ruben gepraat: “Laat die stam van Ruben lewe en nie uitsterf nie, al is dit ’n klein stam.”

7. Moses het toe vir die stam van Juda gesê: “Here, hoor as Juda tot U roep in hulle nood en bring hulle terug sodat hulle deel van u volk sal wees. Maak hulle sterk sodat hulle hulle vyande sal oorwin.”

8. Moses het toe oor die stam van Levi gesê: “Here, Levi se mense werk in u huis. U het vir hulle die werk gegee om U elke dag te dien. Hulle is elke dag op hulle pos. U het by Massa gekyk of hulle getrou sal wees en U het by die Meribawaters ’n hofsaak teen hulle gevoer.

9. Maar hulle het U nie in die steek gelaat nie. Hulle het alles gedoen wat U hulle beveel het. Hulle het u ooreenkoms met u volk veilig beskerm. Hulle was meer lojaal aan U as aan hulle ouers en hulle eie kinders.

10. Laat hulle nou vir Israel leer wat die Here verwag. Laat hulle Israel herinner aan wat die Here wil hê hulle moet doen. Hulle moet elke dag wierook voor die Here brand om te wys dat hulle Hom respekteer. Net hulle mag offers vir die Here bring.

11. Maak die kinders van Levi voorspoedig, Here. Aanvaar alles wat hulle doen. Vernietig hulle vyande. Slaan die mense wat hulle haat plat sodat hulle nie weer op hulle voete kan kom nie.”

12. Oor die stam van Benjamin het Moses gesê: “Die Here het die mense van Benjamin lief. En as die Here jou liefhet, is jy altyd veilig. Hy hou sy hand oor hierdie mense en Hy beskerm hulle sodat moeilikheid hulle nie kan onderkry nie. Hulle bly by Hom.”

13. Moses het toe oor die stamme van Josef gepraat: “Mag die Here die land waar hierdie stamme bly, voorspoedig maak. Mag Hy op die regte tyd vir hulle reën stuur. Mag daar volop dou op hulle grond wees. En mag daar genoeg onderaardse water wees.

14. Mag Hy hulle ryk maak met goeie oeste. Mag Josef elke maand genoeg kry om te eet.

15. Mag hy rekordoeste teen die berge se hange hê, en mag die heuwels se skatte hom ryk maak.

16. Mag die Here vir hom die beste gee wat uit die aarde kom. Mag die Here hom voorspoedig maak, die Here wat Hom daar in die doringbos aan Moses bekendgemaak het. Mag dit alles met Josef gebeur. Mag hy die regeerder oor Israel, sy broers, wees.

17. Josef is so sterk soos ’n jong bul. Hy loop trots rond, want hy is so sterk soos ’n buffel. Hy sal vreemde nasies wegjaag, en hulle sal vlug tot aan die eindes van die aarde. Dit is my wens vir die twee stamme van Josef, vir Efraim en Manasse.”

18. Oor die stamme van Sebulon en Issaskar het Moses gesê: “Mag die mense van Sebulon voorspoedig wees as hulle buite die grense van hulle land rondtrek. En mag die mense van Issaskar voorspoedig wees as hulle by die huis is.

19. Hierdie twee stamme nooi die mense om saam met hulle na die berg toe te gaan sodat hulle daar offers vir die Here kan bring. Die Here het bepaal watter offers ’n mens moet bring. Hulle bly langs die see, en die see maak hulle ryk, want daar is baie kosbare skatte in die see.”

20. Moses het oor die stam van Gad gesê: “Mag die Here die een wat Gad se grense verder skuif, voorspoedig maak! Gad sit reg soos ’n leeu net voor hy spring. Sy prooi is die sterk mense, die leiers van ander nasies.

21. Die mense van Gad het die beste deel van die land vir hulleself uitgekies. Een van die beste dele van die land is vir hom gegee. Toe die leiers van die volk bymekaargekom het, was dit Gad wat gedoen het wat die Here van hom vra. Hy het reg gedoen.”

22. Oor die stam van Dan het Moses die volgende kwytgeraak: “Dan is die welpie van ’n leeu. Hou hom dop. Hy gaan skielik uit sy woonplek, uit Basan uit sy prooi bespring.”

23. Oor Naftali se stam het Moses gesê: “Naftali, jy geniet die allerbeste. Die Here het jou ryk gemaak. Jy is baie voorspoedig. Mag jou grense nog verder verskuif, mag jou land groter word na die westekant en die suidekant toe.”

24. Moses het oor die stam van Aser gesê: “Mag Aser voorspoediger wees as sy broers, die ander seuns van Jakob. Hy is die gunstelingseun van sy pa. Mag dit met hom goed gaan. Mag hy baie ryk word uit die olie wat in sy land voorkom.

25. En mag hy veilig in sy stede bly sodat sy vyande niks aan hom kan doen nie. Mag hy baie oud word en baie lank in sy land woon.

26. “Daar is niemand soos die God van Israel nie! Hy kom van die hemel af waar Hy woon om jou te help as jy in die moeilikheid is. Hy is die Koning van die heelal. Hy ry op die wolke.

27. Jy kan maar by Hom gaan wegkruip. Hy is die God wat verhewe is bo tyd. Hy hou sy arms onder jou en Hy hou jou regop, Israel. Hy roei jou vyande voor jou uit. Hy beveel jou: roei jou vyande volledig uit!

28. Daarom sal Israel veilig wees. Die Here sal hulle beskerm. Hy sal hulle voorspoedig maak. Hy gee vir hulle ’n land wat volop graan en wyn het. Die grond word elke nag met dou natgemaak sodat dit vrugbaar is.

29. Hoe het die Here jou nie voorspoedig gemaak nie, Israel! Watter ander volk is soos jy, ’n volk wat deur die Here gered is? Hy beskerm jou en Hy veg vir jou. Jou vyande buig laag voor jou. Hulle kruip voor jou. En jy trap op hulle.”