hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 31 Die Boodskap (DB)

Josua word Israel se leier

1. Moses het al hierdie dinge vir die mense van Israel gesê.

2. Hy het ook nog gesê: “Ek is nou 120 jaar oud, ’n ou man. Ek kan nie langer julle leier wees nie. In elk geval, die Here het vir my gesê dat ek nie saam met julle as volk oor die Jordaan sal trek nie.

3. Maar die Here julle God sal wel saam met julle gaan. Hy trek voor julle uit deur die Jordaan. En Hy gaan die nasies in die land waarheen julle trek, vernietig. Julle sal daardie land vir julleself gaan vat. Julle gaan daar bly. Josua is van nou af julle leier. Hy gaan saam met julle. Hy sal julle lei, net soos die Here belowe het.

4. Die Here gaan al die nasies wat nou in daardie land bly, vernietig. Hy sal met hulle maak wat Hy met die Amoritiese konings Sihon en Og gemaak het.

5. Die Here sal al hierdie nasies vir julle gee. Jy sal hulle oorwin. En dan moet julle met hulle maak soos ek vir julle verduidelik het.

6. “Wees sterk! Wees dapper en vol geloofsvertroue! Moenie bang wees vir al hierdie mense nie! Die Here jou God trek voor julle uit. Hy sal julle vyande verslaan. Hy sal julle nie in die steek laat nie. Julle is nie alleen nie. Die Here is saam met julle!”

7. Toe het Moses vir Josua geroep. Hy het toe kliphard vir hom gesê: “Wees sterk! Wees dapper en vol geloofsvertroue! Jy moet hierdie volk die land inlei wat die Here belowe het om vir hulle te gee. Hy het dit reeds vir hulle oupagrootjies belowe. Jy moet hierdie volk lei sodat hulle die nasies in hierdie land kan verslaan. Jy moet hierdie land vir Israel gaan gee.

8. Moenie bang wees nie! En bly altyd vol moed! Die Here gaan saam met jou. Hy sal jou nie in die steek laat nie. Jy is nooit alleen nie. Die Here is by jou!”

God se bevele moet hardop gelees word

9. Moses het toe al hierdie woorde in ’n boek geskryf. Daarna het hy die boek vir die mense gegee wat in die huis van die Here werk. Hulle het in die woestyn die ark gedra waarin die Here se ooreenkoms met sy volk was. Moses het hierdie boek ook vir die leiers van Israel gegee.

10. Toe het Moses gesê: “Aan die einde van elke sewende jaar moet julle almal wat skuld gemaak het, se skuld afskryf.

11. Daardie jaar, as julle die fees vier om terug te dink aan hoe julle in die woestyn gebly het nadat die Here julle uit Egipte gered het, moet julle hierdie boek weer lees. Al die mense van Israel moet dan bymekaarkom in die plek wat die Here julle God sal kies. Hy sal daar bly. Dan moet julle hierdie boek van voor tot agter lees sodat almal dit kan hoor.

12. Roep almal bymekaar. Al die mans en die vroue en die kinders moet daar wees. Ook al die mense van ander nasies moet kom. Hulle moet almal luister na wat die Here wil hê. Dan sal hulle leer om respek vir die Here te hê en te doen wat Hy van hulle vra.

13. Julle moet dit gereeld elke sewe jaar doen sodat julle kinders ook kan hoor wat die Here van hulle vra. Hulle het mos nog nie gehoor wat die Here van hulle verwag nie. Hulle moet leer om respek vir die Here hulle God te hê en te doen wat Hy van hulle vra. Julle moet dit altyd doen, so lank as wat julle in die land bly wat julle nou ingaan as julle oor die Jordaan trek.”

Maar julle sal nie gehoorsaam bly nie!

14. Toe het die Here met Moses gepraat. Hy het gesê: “Dit het nou tyd geword dat jy moet sterf. Roep vir Josua en sê hy moet saam met jou na die tent toe gaan waar Ek aanbid word. Ek sal daar vir hom sê wat Ek wil hê hy moet doen.”

15. Toe het Moses en Josua na die tent toe gegaan waar die Here aanbid word. Die Here het toe daar aan hulle verskyn. Hulle het gesien hoe ’n groot wolk by die ingang van die tent verskyn. Hulle het dadelik besef dis die Here.

16. Toe het die Here vir Moses gesê: “Die tyd is baie naby dat jy moet sterf. Jy sal saam met jou oupas en oupagrootjies in die graf wees. Ná jou dood sal hierdie klomp mense vreemde afgode begin aanbid. Hulle sal die gode dien van die mense van die nuwe land wat Ek vir hulle gee. Hulle sal heeltemal van My vergeet. Hulle sal hulle nie meer steur aan die ooreenkoms wat Ek met hulle gesluit het nie.

17. Dan sal Ek kwaad word oor wat hulle doen. Ek sal nie meer by hulle wees nie. En Ek sal nie meer vir hulle sorg nie. Dan sal hulle vernietig word. Hulle sal so swaarkry dat hulle uiteindelik sal sê: ‘Al hierdie rampe en ellendes het oor ons gekom omdat ons afgode begin dien het.’

18. Ek sal dan nie meer aan hulle verskyn nie, want hulle het verkeerde dinge gedoen en allerhande afgode begin dien.

19. “Daarom moet jy nou die woorde van hierdie lied neerskryf wat Ek vir jou leer. Daarna moet jy dit vir die mense van Israel gaan leer. Leer die woorde vir hulle sodat hulle dit kan sing. Agterna sal hierdie lied hulle daaraan herinner dat hulle nie gedoen het wat Ek hulle beveel het nie.

20. “Ek gee vir hulle ’n land wat oorgenoeg van alles het. Ek het hulle oupagrootjies belowe dat Ek hulle na hierdie land sal bring. In hierdie land sal die Israeliete ryk word. Dit sal baie goed met hulle gaan. Hulle sal kan eet net wat hulle wil omdat hulle meer as genoeg van alles sal hê. Hulle sal vet word. Hulle sal egter ander gode begin dien. Hulle sal nie meer vir My respek hê nie. Hulle sal van My vergeet. En hulle sal ook vergeet van die ooreenkoms wat Ek met hulle gemaak het.

21. Daardie dag sal hulle moeilikheid begin. Groot rampe sal oor hulle kom. Hulle sal swaarkry. Maar dan sal hierdie lied hulle daaraan herinner dat hulle geweet het wat om te doen, maar dat hulle hulle nie gesteur het aan wat Ek vir hulle gesê het nie. Hulle kinders mag ook nie vergeet wat Ek vir julle gesê het nie. Ek weet mos hoe mense is. Selfs nog voor hierdie mense die land gaan bewoon wat Ek vir hulle gee, sê Ek al dat hulle My sal verlaat.”

22. Toe het Moses die woorde van hierdie lied opgeteken en hy het dit vir die Israeliete geleer.

23. Die Here het daardie dag ook met Josua gepraat. Hy het vir Josua ’n opdrag gegee. Hy het gesê: “Wees sterk! Wees vol moed! Jy moet hierdie mense die land invat wat Ek belowe het om vir hulle te gee. Onthou, Ek sal by jou wees!”

Sonde op rekord!

24. Moses het toe alles wat hy daardie dag gesê het, in ’n boek geskryf. Hy het tot die laaste woord toe alles neergeskryf wat die Here van sy volk verwag.

25. Toe het hy die mense wat in die huis van die Here werk, die mense wat die ark dra waarin die ooreenkoms is wat die Here met sy volk gemaak het, beveel:

26. “Vat hierdie boek waarin opgeskryf is wat die Here van sy volk verwag. Sit dit langs die ark waarin die ooreenkoms is wat die Here julle God met julle gemaak het. Laat die boek julle elke dag herinner aan alles wat die Here vir die volk van Israel gesê het om te doen.

27. Ek weet baie goed hoe opstandig hierdie klomp mense is. Hulle koppe is baie hard. Ek is nou nog by julle. En nogtans het julle kort-kort teen die Here in opstand gekom. En hoe het julle nie teen die Here gerebelleer nie! Hoeveel te meer sal dit nie gebeur wanneer ek die dag dood is nie. Ek weet dat julle nog baie kere teen die Here in opstand gaan kom.

28. “Roep nou al die leiers en die offisiere van die verskillende stamme van Israel bymekaar. Ek wil met hulle praat. Die Here wat heers oor die hemel, sowel as die mense op aarde, moet hoor wat ek vir julle sê. Hulle moet agterna vir almal sê dat julle nie gedoen het wat ek gesê het nie.

29. Ek weet nou al dat julle na my dood in ’n spul slegte mense gaan ontaard. Julle sal nie op die pad loop wat ek vir julle gewys het om te loop nie. Daarom gaan daar êrens in die toekoms rampe en moeilikhede oor julle kom. Julle gaan die Here baie kwaad maak met al die slegte dinge wat julle voor Hom gaan doen.”

Die lied van Moses

30. Toe het Moses hierdie lied, tot die laaste woord toe, vir die mense van Israel geleer. Die lied klink so: