hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 5 Die Boodskap (DB)

Die tien spesiale voorskrifte van die Here

1. Moses het almal bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Luister baie fyn na al die wette wat ek julle vandag gee. Sorg dat julle dit baie goed ken en daarvolgens lewe.

2. Lank gelede het die Here by Horeb met ons ’n ooreenkoms gesluit.

3. Hy het nie met ons voorouers ’n ooreenkoms gesluit nie, maar met ons; met ons wat nog leef en wat vandag hier op Bet-Peor se vlakte staan.

4. Daar by Horeb het Hy met ons persoonlik uit ’n vuur gepraat.

5. En ek het tussen julle en die Here gaan staan omdat julle bang was vir die vuur. Toe het ek julle alles vertel wat die Here gesê het.

6. “Dit is wat Hy gesê het: ‘Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte waar jy verdruk is, uitgelei het.

7. ‘Jy mag geen ander gode besit of aanbid nie.

8. ‘Jy mag geen beeld maak van enigiets wat in die hemel is, of op die aarde of in die waters onder die aarde nie.

9. Jy mag nooit voor so ’n beeld buig of dit aanbid nie. Die Here alleen is die ware God en Hy duld nie ander gode nie. Hy straf alle mense en hulle kinders wat Hom haat en ander gode dien.

10. Almal wat Hom egter liefhet en volgens sy wil leef, het die Here op sy beurt ook baie lief.

11. ‘Moenie die Here se Naam sonder rede gebruik nie. Dink mooi voordat jy dit doen, want Ek, die Here jou God, sal nie toelaat dat mense my Naam sommer net so, sonder rede, gebruik nie.

12. ‘Onderhou die sabbat. Leef anders op die sewende dag van die week, want Ek, die Here jou God, vra dit van jou.

13. Ses dae moet jy baie hard werk,

14. maar op die sewende dag moet jy rus. Dit is ’n dag wat eenkant gesit word vir spesiale diens aan die Here. Op hierdie dag moet niemand werk nie: nie jy nie, ook nie jou kinders, jou werkers, jou diere of die vreemdelinge wat by jou inwoon nie. Al jou werkers moet saam met jou op die sabbat rus.

15. Op dié dag moet jy daaraan dink dat jy self ’n slaaf in Egipte was wat elke dag hard gewerk het, maar dat die Here jou op ’n wonderlike manier daar kom wegvat het. Dit is hoekom jy op die sabbat moet rus en al jou werkers saam met jou.

16. ‘Jy moet jou pa en jou ma liefhê en na hulle luister, want Ek, die Here jou God, vra dit van jou. Dan sal jy lank lewe. Dan sal dit met jou goed gaan in die land wat die Here jou God aan jou wil gee.

17. ‘Jy moet niemand doodmaak nie.

18. ‘Jy moenie ontrou aan jou huweliksmaat wees en by iemand anders slaap nie.

19. ‘Jy moet niks van iemand steel nie.

20. ‘Jy moenie slegte dinge oor ander mense rondvertel nie.

21. ‘Jy moenie ’n ander man se vrou begeer en haar vir jouself wil hê nie. Ook nie sy huis, sy grond, sy werkers, sy diere of enigiets anders wat syne is nie.’

22. “Hierdie is die Here se spesiale voorskrifte. Hy het dit vir julle by Horeb gegee toe julle destyds daar bymekaar was. Eers het Hy met ’n harde stem uit die vuur en die donker rookwolke met julle gepraat. Toe het Hy stilgebly en alles op twee plat klippe neergeskryf en dit vir my gegee.”

Die volk se vrees vir die Here se stem

23. Moses het toe vir die mense gesê: “Nadat julle die stem van die Here by Horeb gehoor het, het al julle leiers na my toe gekom en gesê:

24. ‘Luister, Moses, toe die Here hier by die berg met ons uit die vuur gepraat het, het ons sy grootsheid en almag gevoel. Vandag het ons self gesien dat die Here direk met mense kan praat en dat hulle daarna nog kan bly leef.

25. As ons egter aanmekaar so na die Here se stem luister, kan die groot vuur ons dalk vernietig. En waarom moet ons onnodig sterf?

26. Is daar ander mense op die aarde wat die stem van die lewende God in ’n vuur gehoor het en nog leef?

27. Moses, jy alleen moet van nou af na die stem van die Here gaan luister en ons dan kom vertel wat Hy sê. Ons sal goed na jou luister en doen wat die Here vra.’”

28. Moses het toe die volk geantwoord: “Terwyl julle so met my gepraat het, het die Here elke woord gehoor. En Hy het vir my gesê: ‘Ek het gehoor wat hulle jou gevra het en dit is goed so.

29. As hulle My tog maar altyd so sal liefhê en so volgens my wil sal leef dat dit met hulle en hulle kinders goed kan gaan.

30. Gaan sê vir hulle dit is reg so en laat hulle na hulle tente toe teruggaan.

31. Jy, Moses, moet egter nader aan My kom staan sodat Ek my wet en gebooie vir jou kan vertel. Jy moet hulle dan my wil gaan leer sodat hulle vir altyd die land kan behou wat Ek hulle gaan gee.’”

32. Moses het weer al die leiers bymekaargeroep en gesê: “Israel, luister na die wil van die Here en doen alles wat Hy julle vra. Moet nooit ’n enkele tree daarvan afwyk nie.

33. Loop die pad van gehoorsaamheid sodat julle gelukkig kan leef en vir altyd in die land kan woon wat julle in besit gaan neem.”