hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 2 Die Boodskap (DB)

Van Kades tot in Moab

1. “Soos die Here gesê het, is ons toe deur die woestyn na die Skelfsee toe. Vir ’n lang tyd het ons langs die berge van Edom getrek.

2. Toe het die Here vir my gesê

3. dat ons lank genoeg langs die bergwêreld getrek het en dat ons weer noordwaarts moes gaan.

4. Die Here het ook verder gesê: ‘Binnekort trek julle deur Edom waar Esau se nageslag woon. Hulle is verlangse familie van julle, maar hulle sal bang wees vir julle.

5. Moenie met hulle sukkel of ’n oorlog begin nie. Edom behoort aan Esau se nageslag. Ek het dit vir hulle gegee en julle sal niks daarvan kry nie.

6. Vir kos sal julle moet betaal en drinkwater sal julle moet koop.’

7. Omdat die Here julle God by julle was, het dit altyd met julle goed gegaan. Toe julle deur hierdie groot woestyn getrek het, het Hy dag vir dag vir julle gesorg. Veertig jaar lank sorg Hy al vir julle en dit is waarom julle niks kortkom nie.

8. “Ons is weg uit Edom waar ons familie langs die Seïrberge woon en het na die dorpe Elat en Esion-Geber afgedraai. So het ons in die rigting van die Moabvlaktes getrek.”

Van Moab tot by die Amoriete

9. “Toe het die Here weer vir my gesê: ‘Moenie Moab aanval of ’n geveg begin nie. Van hierdie land sal julle ook niks kry nie, want Ek het die stad Ar aan die nageslag van Lot gegee.’

10. (Die Emiete het voorheen in Ar gewoon. Hulle was net soos die Enakiete groot en lank.

11. Soms is die Enakiete ook Refaïete genoem, maar die Moabiete het hulle Emiete genoem.

12. Die Horiete het vroeër in Edom gewoon, maar Esau se kinders het hulle daaruit verjaag en hulle heeltemal uitgewis. Die Edomiete, die nageslag van Esau, het toe in die land gaan woon. So sou Israel ook later met die Kanaäniete maak.)

13. Toe is ons deur die Seredrivier soos die Here vir ons gesê het om te doen.

14. Dit het 38 jaar geduur vandat ons by Kades-Barnea weg is totdat ons by die Seredrivier gekom het. In hierdie jare is al die mense dood wat destyds nie die land wou inneem nie.

15. Die Here het hulle ongehoorsaamheid onthou en hulle oor die jare laat sterf.

16. “Toe hulle almal dood is,

17. het die Here vir my gesê:

18. ‘As julle vandag deur die gebied van die Moabiete trek,

19. gaan julle baie naby aan die Ammoniete verby. Moenie hulle aanval of ’n geveg begin nie. Hierdie land het Ek vir Lot en sy kinders gegee. Daarom sal julle niks daarvan kry nie.’

20. (Ook hierdie gebied word die land van die Refaïete genoem. Voorheen het die Refaïete daarin gebly. Die Ammoniete het hulle die Samsummiete genoem.

21. Hulle was ook, net soos die Enakiete, groot en lank. Toe het die Here die Refaïete deur die Ammoniete vernietig. En die Ammoniete het die land gevat en daarin gaan bly.

22. Dit is ook wat die Here vir die nageslag van Esau in Seïr gedoen het: Hy het die Horiete verdryf sodat die Edomiete vandag nog daarin kan woon.

23. Dit het ook met die Awwiete in die dorpe rondom Gasa gebeur. Die mense van Kaftor het die Awwiete vernietig en toe in hulle gebied gaan woon.)

24. Die Here het verder vir ons gesê: ‘Staan op en trek deur die Arnonrivier. Ek sal die Amoriet, Sihon die koning van Gesbon en sy land in julle hand gee. Veg teen Sihon en beset sy land. So sal julle met die verowering van die Beloofde Land begin.

25. Van vandag af maak Ek al die volke bang vir julle. As hulle van julle hoor, sal hulle benoud raak. As hulle julle sien, sal hulle begin bewe.’”

Sihon word verslaan

26. “Toe het ek mense uit ons kampplek in die Kedemotwoestyn met ’n boodskap na Sihon gestuur:

27. ‘Laat my deur jou land trek. Ek sal reguit trek sonder om af te draai.

28. Vir die kos wat ek eet en die water wat ek drink, sal ek betaal.

29. Laat my deur jou gebied trek tot waar ek die Jordaan na die Beloofde Land moet oorsteek. Esau se nageslag in Seïr en die Moabiete in Ar het my ook toegelaat om deur hulle land te trek.’

30. Koning Sihon wou ons egter nie laat deurtrek nie, want die Here het sy hart kliphard gemaak. Toe het ons teen koning Sihon geveg en sy land binnegetrek en dit is waar ons vandag nog woon.

31. “Toe het die Here vir my gesê: ‘Ek het Sihon en sy land aan julle gegee. Julle moet intrek en dit beset.’

32. “Sihon en sy weermag het na Jahas toe getrek om teen ons te veg.

33. Die Here het ons egter gehelp en ons het Sihon, sy weermag en sy seuns geheel en al vernietig.

34. Ons het al Sihon se stede ingeneem en al die inwoners doodgemaak. Niemand het oorgebly nie.

35. Ons het die vee vir ons gevat en die stede verwoes.

36. Van Aroër by die Arnonrivier en die groot stad daar naby tot by Gilead was daar geen stad wat ons nie met die hulp van die Here ingeneem het nie.

37. Soos die Here ons beveel het, het ons nie die Ammoniete aangeval nie. Ook nie die dele rondom die Jabbokrivier en al die stede in die berge nie.”