hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 12 Die Boodskap (DB)

Aanbid op een plek

1. “Hier volg al die wette waarvolgens julle moet leef in die land wat die Here, die God van julle voorvaders, vir julle wil gee.

2. Wanneer julle daardie land binnekom, moet julle al die plekke verwoes waar die nasies hulle gode aanbid het. Vernietig alles op die hoë berge, bo-op heuwels en onder elke groen boom.

3. Hulle altare moet jy omstoot, hulle klipstene verbrysel, hulle heilige pale met vuur verbrand, die beelde van hulle gode stukkend kap en hulle name van die plekke verwyder.

4. “Moenie die Here aanbid soos die nasies hulle gode aanbid nie.

5. Uit al die stamme van Israel sal die Here een plek kies waar sy mense bymekaar moet kom om Hom te aanbid.

6. Daarheen moet julle julle brandoffers en slagoffers bring. Dit is ook die plek waarheen al die tiendes en ander bydraes asook alle gelofteoffers, vrywillige offers en die eerste offers van julle vee geneem moet word.

7. Daar moet julle in die teenwoordigheid van die Here vrolik en gelukkig wees. Julle en julle huisgesinne moet die Here daar loof vir al die wonderlike dinge wat Hy aan julle gegee het.

8. “Wanneer julle die land ingeneem het, moet julle nie aanhou om te doen wat julle tot nou toe gedoen het nie. Julle moenie sommer oral aanbid nie.

9. Dit het julle gedoen voordat julle die Beloofde Land binnegegaan het.

10. Wanneer julle binnekort deur die Jordaan trek, sal julle die land binnegaan wat die Here julle God graag aan julle wil gee. Hy sal julle daar rustig laat woon en julle teen julle vyande beskerm.

11. Dan sal die Here net een plek kies waar Hy aanbid moet word. Daarheen moet julle alles bring wat ek julle vroeër gesê het: julle brandoffers, slagoffers en tiendes, asook daardie geskenke wat julle die Here belowe het.

12. Daar moet julle in die teenwoordigheid van die Here julle God gelukkig wees. Julle kinders, julle werkers en die Leviete wat by julle woon, moet vrolik voor die Here wees. Dink altyd aan die Leviete, want hulle het nie ’n deel van die land gekry nie.

13. “Julle moenie meer by enige plek waarvan julle hou, gaan offer nie.

14. Julle moet net na die spesifieke plek toe gaan wat die Here uit al die stamme van Israel sal kies. Daarheen moet julle julle brandoffers bring en daar moet julle alles doen wat ek vir julle gesê het.

15. Julle mag natuurlik oral diere slag en eet. Eet na hartelus soveel as wat die Here julle gegee het. Almal kan van die vleis eet soos ’n mens ’n takbok of ’n ribbok eet.

16. Net die bloed mag julle nie eet of drink nie. Julle moet dit weggooi.

17. Julle mag egter nie die tiendes van julle koring, mos, olie en die eersgeborenes van julle vee in julle blyplekke eet nie. Ook nie die vrywillige offers wat julle die Here belowe het of enige ander offer nie.

18. Julle en julle kinders asook julle werkers en die Leviete wat in julle dorpe woon, moet hierdie offers net by een plek eet. En dit is die plek wat die Here sal kies. Daar moet julle voor die Here bymekaarkom en bly wees oor julle harde werk.

19. Onthou net, moet nooit die Leviete afskeep nie. So lank as wat julle in die land woon, moet julle vir die Leviete sorg.

20. “Wanneer die Here julle woongebied uitbrei soos Hy belowe het, en julle lus kry vir vleis, mag julle eet wanneer en waar julle ook al wil.

21. En as die plek wat die Here gaan kies vir julle te ver is, kan julle maar van die skape en beeste slag wat die Here vir julle gegee het en by die huis eet.

22. Enigeen kan die vleis eet.

23. Moet net nie die vleis rou eet nie, want die lewe is in die bloed. Daarom moet jy nie vleis met bloed en al eet nie.

24. Moenie die bloed drink nie, maar gooi dit uit.

25. Onthou, moenie die bloed drink nie. As julle hierdie voorskrifte nakom, sal dit met julle en julle kinders baie goed gaan.

26. “Al die offers en die tiendes wat aan die Here gegee word, moet julle net na een plek toe bring.

27. Slegs daar moet julle die brandoffers met die vleis en die bloed volledig op die altaar verbrand. En slegs daar moet julle ’n deel van die slagoffer eet en die bloed op die altaar van die Here uitgooi.

28. “Israel, luister mooi na alles wat ek vir julle sê. Doen wat goed en reg is in die oë van die Here. Dan sal dit met julle en julle kinders vir altyd baie goed gaan.”

Pas op vir afgode

29. “Wanneer die Here al die nasies vernietig het sodat julle in die land kan gaan woon,

30. moet julle baie versigtig vir die ander volke se gode wees. Moet hulle glad nie dien nie. Moenie eers wonder hoe die gode aanbid word nie.

31. Moet tog nooit die Here aanbid soos die nasies hulle gode aanbid nie. Hulle doen dinge wat die Here haat. Ter ere van die gode gooi hulle sommer maklik hulle kinders in die vuur. En dit is vir die Here ’n gruwel.

32. “Israel, julle moet alles doen wat ek, Moses, vir julle gesê het. Moet niks hierby voeg nie en moet niks wegneem nie.”