hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34

Ou Testament

Nuwe Testament

Deuteronomium 14 Die Boodskap (DB)

Vermy sekere rougebruike

1. “Julle is tog die Here se kinders; daarom moet julle nie so rou oor julle geliefdes wat dood is dat julle julle eie liggaam stukkend sny of julle kop kaal skeer nie.

2. Julle is mos die Here se eiendom. Hy het julle tussen al die ander volke gaan uitsoek en vir Hom gevat.”

Wat geëet mag word en wat nie

3. “Julle mag nie allerlei walglike diere of insekte eet nie.

4. Julle mag wel van die groot landdiere eet, soos bees, skaap, bok,

5. takbok, ribbok, hartbees, klipbok, eland, gemsbok, springbok,

6. al daardie diere waarvan die hoewe uit twee dele bestaan en wat herkou.

7. Maar dié wat net herkou of net gesplete kloue het, mag julle nie eet nie. Diere soos die kameel, die haas en die dassie is verbode. Hulle is diere wat herkou, maar nie gesplete kloue het nie. Hierdie diere is vir julle onrein.

8. Varke is ook vir julle onrein; daarom mag julle nie varkvleis eet nie. Hulle het wel gesplete kloue, maar herkou nie. Moet nooit van hierdie verbode diere eet of selfs aan die karkasse raak nie.

9. “Julle mag enige vis met vinne en skubbe eet.

10. Alle waterdiere sonder vinne of skubbe mag julle nie eet nie, want hulle is onrein.

11. “Alle voëls wat rein is, mag julle eet.

12. Die volgende mag julle egter nie eet nie: arende, lammervangers en visarende;

13. swartaasvoëls, valke en al die roofvoëlsoorte;

14. al die kraaisoorte;

15. volstruise, nagvalke, seemeeue en alle soorte roofvoëls;

16. uile, ibisse en flaminke;

17. pelikane, swane en visvangers;

18. ooievaars en al die reiersoorte; hoep-hoepe en vlermuise.

19. “Alle insekte met vlerke is onrein. Julle mag dit nie eet nie.

20. Julle mag ook net voëls eet wat rein is.

21. “Julle mag nie ’n dier wat vanself dood is, eet nie. Julle mag dit wel vir mense van ander volke wat by julle bly, gee om te eet of dit selfs aan buitelanders verkoop. Julle mag dit self nie eet nie, want julle is die Here se eiendom.”

Tiendes

22. “Elke jaar moet jy ’n tiende van jou hele oes vir die Here opsy sit.

23. Dan moet jy dit na die plek toe neem wat die Here nog sal kies. Daar moet jy die tiende van jou koring, mos en olie, asook die eerstelinge van jou beeste en skape, in die Here se teenwoordigheid neersit en ’n deel daarvan eet. So sal jy leer om die Here altyd lief te hê.

24. “Wanneer alles wat jy as ’n tiende vir die Here vat egter vir jou te swaar word omdat die plek wat die Here gaan kies, te ver is,

25. moet jy die tiendes verkoop. Vat dan die geld en gaan na die plek toe wat die Here nog sal aanwys. Koop vir jou daar net wat jy wil hê.

26. Koop genoeg beesvleis, lamsvleis, wyn en enige ander drinkgoed. Neem dit dan na die plek toe wat die Here nog sal aanwys en geniet dit daar saam met jou familie en wees bly in die Here.

27. “Moet nooit die Leviete wat in julle dorpe en stede woon, vergeet nie. Hulle het mos nie grond in die Beloofde Land gekry nie.

28. Daarom moet jy aan die einde van elke derde jaar die hele tiende net so aan die Leviete in jou dorpe en stede gaan gee.

29. Dan kan die Leviete wat geen grond besit nie, sowel as die vreemdelinge, die weeskinders en die weduwees daarvan eet en versadig word. As jy al hierdie dinge doen, sal die Here jou gelukkig maak en jou harde werk voorspoedig maak.”