hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 7 Bybel vir Almal (ABA)

Salomo en die Israeliete wy die tempel

1. Toe Salomo klaar gebid het, het daar vuur uit die hemel gekom, en dit het die brand-offer en die ander offers verbrand. Die tempel was vol van die lig wat om die Here, die Koning, is.

2. Die priesters kon nie in die tempel kom nie, want die lig wat om die Here, die Koning, is, het in die hele tempel geskyn.

3. Al die Israeliete het gesien dat die vuur afgekom het. Hulle het ook gesien dat die lig oor die tempel is, die lig wat om die Here, die Koning, is. Hulle het toe gekniel op die plaveisel en hulle het gebuig met hulle gesigte teen die grond. Hulle het vir die Here dankie gesê,“want die Here is goed,want Hy doen altydwat Hy belowe het.”

4. Die koning en die hele volk het offers gebring vir die Here.

5. Koning Salomo het 22 000 beeste en 120 000 skape en bokke ge-offer. So het die koning en die hele volk die tempel gewy aan die Here.

6. Die priesters het op hulle plekke gestaan, en ook die Leviete met die musiek-instrumente om die lied van die Here te sing. Koning Dawid het die musiek-instrumente laat maak om vir die Here dankie te sê wanneer hy wou hê dat die Leviete die Here moet prys,“want die Here doen altydwat Hy belowe het.”Die priesters het voor die Leviete gestaan en hulle het trompette geblaas. Al die Israeliete het gestaan.

7. Salomo het die middelste deel van die oop stuk grond wat voor die tempel was, ook gewy. Hy het die brand-offers en die vet van die ete-offers daar ge-offer. Die brons-altaar wat Salomo laat maak het, was te klein om al die brand-offers en die koring-offers en die vet daar te offer.

8. Salomo en al die Israeliete het daardie tyd sewe dae lank feesgevier. Dit was ’n groot volksvergadering, die mense het gekom uit die hele land Israel, van die stad Lebo-Hamat tot by Egipte-spruit.

9. Hulle het op die agste dag ’n gewyde feesdag gehad, want hulle het sewe dae lank die altaar gewy en daarna het hulle sewe dae lank feesgevier.

10. Op die drie-en-twintigste dag van die sewende maand het Salomo die mense laat teruggaan na hulle huise. Hulle was bly en gelukkig oor die goeie dinge wat die Here gedoen het vir Dawid en Salomo en sy volk Israel.

11. So het Salomo die tempel en die paleis klaar gebou. Hy het alles goed gedoen wat hy in die tempel en in sy huis wou doen.

Die Here verskyn weer aan Salomo

12. Die Here het in die nag aan Salomo verskyn en vir hom gesê: “Ek het gehoor wat jy gebid het, en Ek het vir My hierdie plek gekies om ’n tempel te wees waar die mense vir My kan offer.

13. Ek sal miskien die hemel toesluit en dit sal nie reën nie, of Ek sal vir die sprinkane sê hulle moet al die koring in die land opvreet, of Ek sal pes na my volk toe stuur.

14. As my volk wat my Naam dra, hulleself verneder en hulle bid en hulle kom na My toe en hulle hou op om sleg te lewe, dan sal Ek in die hemel hoor en Ek sal hulle sonde vergewe. Ek sal hulle land laat word soos dit voorheen was.

15. Nou sal Ek sorg vir hierdie plek en Ek sal luister wanneer iemand hier bid.

16. Ek het nou hierdie plek gekies en Ek het dit gewy sodat dit altyd aan My sal behoort. Ek sal altyd sorg vir die plek en daaraan dink.

17. En jy, Salomo, as jy lewe voor My soos jou pa Dawid gelewe het, en jy doen alles wat Ek vir jou sê, as jy doen wat Ek wil hê en wat Ek besluit,

18. dan sal Ek jou en jou nageslag altyd laat regeer. Ek het dit vir jou pa Dawid belowe. Ek het vir hom gesê: ‘Iemand uit jou nageslag sal altyd oor die volk Israel regeer.’

19. Maar as julle ophou om My te dien en julle doen nie meer wat Ek wil hê nie, as julle nie gehoorsaam is aan die gebooie wat Ek vir julle gegee het nie en julle gaan dien ander gode en julle buig voor hulle,

20. dan sal Ek julle wegjaag uit die land wat Ek vir julle gegee het. Ek sal hierdie tempel voor My wegvee, die tempel wat Ek gewy het en waar Ek altyd wil woon. Ander volke sal daaroor praat en spot.

21. Ja, hierdie tempel wat nou so hoog is, sal elkeen laat skrik wat hier verbykom. Hy sal vra: ‘Hoekom het die Here dit gedoen? Hoekom het Hy hierdie land en hierdie tempel so gestraf?’

22. Dan sal die mense sê: ‘Dit het gebeur omdat die Israeliete die Here gelos het, die God van hulle voorvaders, die God wat hulle uit Egipte gebring het. Hulle het ander gode gekies en voor hulle gebuig en hulle gedien. Dit is hoekom die Here al hierdie slegte dinge met hulle laat gebeur het.’ ”