hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 5 Bybel vir Almal (ABA)

Salomo sit die gewyde presente van Dawid in die stoorkamers

1. Nadat Salomo al die werk by die tempel klaar gedoen het, het hy die gewyde presente van sy pa Dawid gebring. Dit was die silwer en die goud en al die goed, en hy het dit in die tempel se stoorkamers gesit.

Salomo en die leiers bring die verbondskis na die tempel

2. Daarna het Salomo al die leiers van Israel in Jerusalem laat bymekaarkom, die stamhoofde en die familiehoofde van die Israeliete. Hy wou die verbondskis van die Here uit die Dawidstad, uit Sion, laat bring.

3. Al die manne van Israel het by die koning bymekaargekom vir die fees, die fees in die sewende maand.

4. Al die leiers van Israel het gekom, en die Leviete het die kis gedra.

5. Hulle het die kis gebring, en ook die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn het en al die gewyde gereedskap wat in die tent was. Die priesters en die Leviete het dit gedoen.

6. Koning Salomo en die hele volksvergadering van die Israeliete wat saam met hom was, was voor die kis, en hulle het so baie skape en bokke ge-offer dat niemand dit kon tel nie.

7. Die priesters het die verbondskis van die Here na sy plek gebring in die binneste kamer van die tempel. Dit was die hoog-gewyde plek onder die gerubs se vlerke.

8. Die gerubs se vlerke was oop oor die plek waar die kis gestaan het, die gerubs het die kis en sy dra-houte toegemaak.

9. Die dra-houte van die kis was so lank dat ’n mens hulle punte kon sien as hy voor die binneste kamer gestaan het, maar ’n mens kon die punte nie sien as hy buite gestaan het nie. Die dra-houte is nou nog daar.

10. Daar was niks in die kis nie, net die twee plat klippe wat Moses in die kis gesit het by Horeb-berg. Hy het dit gedoen toe die Here met die Israeliete ’n verbond gemaak het nadat hulle uit Egipte gekom het.

11. Al die priesters wat daar was, het hulleself gewy, ook die priesters wat nie daardie dag moes werk nie. Toe die priesters uit die tempel kom,

12. was die Leviete wat moes sing, gereed. Hulle was: Asaf, Heman en Jedutun, hulle seuns en hulle broers. Hulle het wit linne-klere aangehad en hulle het simbale, harpe en liere gehad. Hulle het oos van die altaar gestaan. Daar was ook 120 priesters wat trompette geblaas het.

13. Die priesters wat trompette geblaas het en die mense wat gesing het, het saam begin om die Here te prys en vir Hom dankie te sê. Die priesters het die trompette geblaas en die simbale en die ander musiek-instrumente gespeel. Hulle het die Here geprys en hulle het gesing “Want Hy is goed, ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.” Toe het ’n wolk die tempel toegemaak.

14. Die priesters kon nie hulle werk doen nie omdat die wolk daar was. Die lig wat om die Koning, die Here, is, het in die hele tempel geskyn.