hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 6 Bybel vir Almal (ABA)

1. Daarna het Salomo gesê: “Here, U het gesê U wil in ’n plek woon waar niemand U sien nie.

2. Ek het nou vir U ’n tempel gebou om in te woon, ’n huis waar U altyd kan woon.”

Salomo praat met die volksvergadering van Israel

3. Toe kyk die koning na die hele volksvergadering van Israel wat daar staan. Hy het hulle gegroet

4. en hy het gesê: “Ek prys die Here, die God van Israel. Hy het vir my pa Dawid iets belowe en Hy het gedoen wat Hy belowe het. Hy het gesê:

5. ‘Van die tyd toe Ek my volk Israel uit Egipte gebring het tot nou toe, het Ek nie ’n stad gekies uit al die stede van die stamme van Israel nie, ’n stad waar iemand ’n tempel moet bou wat my Naam het. Ek het ook nie iemand gekies om oor my volk Israel te regeer nie.

6. Maar toe het Ek vir Jerusalem gekies sodat hulle my Naam daar kan eer en Ek het vir Dawid gekies om oor my volk Israel te regeer.’

7. My pa Dawid het besluit om ’n tempel te bou om die Here, die God van Israel, te dien,

8. maar die Here het vir my pa Dawid gesê: ‘Dit is goed dat jy planne het om ’n tempel vir My te bou,

9. maar jý sal nie die tempel bou nie, jou seun wat gebore sal word, hý sal die tempel vir My bou.’

10. En die Here het laat gebeur wat Hy belowe het. Ek het koning geword ná my pa Dawid, ek sit op die troon van Israel soos die Here belowe het, en ek het die tempel gebou om die Here, die God van Israel, te dien.

11. Ek het die kis van die Here in die tempel laat sit. Die verbond wat die Here met die Israeliete gemaak het, is in daardie kis.”

Salomo bid tot die Here

12. Toe het Salomo voor die altaar van die Here gaan staan. Hy het voor die hele volksvergadering van Israel gestaan en hy het sy hande uitgesteek.

13. Salomo het ’n brons verhoog laat maak en hy het dit in die oop stuk grond gesit. Die verhoog was vyf el lank en vyf el breed en drie el hoog. Salomo het op die verhoog gaan staan en hy het voor die hele volksvergadering van Israel gekniel. Hy het sy hande uitgesteek na die hemel

14. en hy het gesê: “Here, God van Israel, in die hemel daar bo en op die aarde hier onder is daar nie ’n ander God soos U nie. U het aangehou om vir u dienaars te doen wat U in u verbond belowe het, u dienaars wat met hulle hele hart lewe soos U wil hê.

15. U het gedoen wat U vir u dienaar, my pa Dawid, gesê het. U het dit belowe en U het dit gedoen, dit is vandag soos U belowe het.

16. En nou, Here, God van Israel, moet U vir u dienaar, my pa Dawid, doen wat U belowe het. U het vir hom gesê: ‘Iemand van jou nageslag sal altyd op die troon van Israel sit, maar dan moet jou nageslag reg doen. Hulle moet lewe soos Ek wil hê en soos jy ook gelewe het.’

17. En nou, God van Israel, laat die woorde asseblief waar word wat U gesê het vir u dienaar, my pa Dawid.

18. Maar sal God regtig op die aarde woon? Daar is nie genoeg plek vir U in die hoogste hemel nie, en hierdie tempel wat ek gebou het, het nóg minder plek.

19. Maar my God die Here, luister nou wanneer ek bid en soebat, luister na wat ek vir U vra wanneer ek, u dienaar, vandag tot U bid.

20. U moet asseblief altyd sorg vir hierdie tempel. Dit is die plek waar U gesê het U wil wees. Luister na die gebed wat ’n dienaar van U bid wanneer hy na hierdie plek kyk en bid.

21. Luister wanneer u dienaar en u volk Israel bid en soebat terwyl hulle na hierdie plek kyk en bid. En wanneer U dit hoor in u woonplek, die hemel, vergewe dan ons sonde.

22. “Wanneer iemand sê ’n ander persoon het verkeerd gedoen teen hom, en hy wil hê die ander persoon moet voor U kom sê dat U hom moet straf as hy dit gedoen het, dan sal die ander persoon miskien voor die altaar in hierdie tempel kom staan en sê hy is onskuldig.

23. Dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet oordeel tussen u dienaars. Die persoon wat skuldig is, moet die straf kry vir dit wat hy gedoen het en die persoon wat onskuldig is, moet vry wees omdat hy onskuldig is.

24. “U volk Israel sal miskien ’n oorlog verloor teen vyande omdat u volk sonde gedoen het teen U. As u volk dan hulle lewe verander en hulle doen wat U wil hê en hulle prys u Naam en hulle bid tot U in hierdie tempel en hulle soebat vir U,

25. dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet u volk Israel se sonde vergewe en U moet hulle laat terugkom na die land wat U vir hulle voorvaders gegee het.

26. “U sal miskien die hemel toesluit en dit sal nie reën nie omdat u volk sonde doen teen U. As hulle dan na hierdie plek kyk en bid, en hulle prys u Naam en hulle verander hulle lewe en hulle doen wat U wil hê en hulle vra dat U moet luister na hulle gebed,

27. dan moet U asseblief in die hemel luister en U moet u dienaars en u volk Israel se sonde vergewe. U moet iets doen om hulle te help, U moet reën gee op die land wat U vir u volk gegee het. So sal U vir hulle leer om reg te lewe.

28. “Daar sal miskien hongersnood in die land wees, of almal sal begin siek word en sterf, of daar sal siektes kom in die koring op die land, of daar sal swerms sprinkane kom, of vyande van die volk sal kom en hulle sal die stede aanval van al die kante, of ander slegte dinge sal gebeur.

29. Dan moet U asseblief luister wanneer iemand of u volk Israel bid en soebat, U moet luister wanneer elke persoon sy hande uitsteek na hierdie tempel en sê wat met hom gebeur het.

30. Luister dan asseblief in u woonplek, die hemel, en vergewe sy sonde en help hom. Gee vir elkeen wat hy moet kry, want net U weet hoe ’n mens se hart regtig is.

31. Dan sal hulle altyd gehoorsaam wees aan U terwyl hulle in die land woon wat U vir hulle voorvaders gegee het.

32. “Maar U moet ook luister na iemand wat nie van u volk Israel is nie en wat van ’n ver land kom omdat hy u Naam gehoor het. As hy gehoor het van u groot Naam en van die groot dinge wat U gedoen het, en hy kom en hy kyk na hierdie tempel en hy bid,

33. dan moet U luister in die hemel waar U woon en U moet alles doen wat hy vir U in sy gebed vra, sodat elke volk op die aarde u Naam kan ken en gehoorsaam kan wees aan U, soos u volk Israel. Doen dit sodat hulle kan weet dat hierdie tempel aan U behoort, hierdie tempel wat ek gebou het.

34. “U volk sal miskien oorlog gaan maak teen vyande omdat U gesê het hulle moet dit doen. As hulle kyk na hierdie stad wat U gekies het en na hierdie tempel wat ek gebou het om U te dien, en as hulle bid en soebat,

35. dan moet U asseblief in die hemel luister na hulle gebed en U moet hulle laat wen teen hulle vyande.

36. “Al die mense doen sonde. U volk doen ook sonde teen U, en dan word U kwaad en U gee hulle vir hulle vyande sodat die vyande hulle kan vang en wegvat na die vyande se land, ver of naby.

37. Maar u volk sal miskien hulle lewe verander daar in die land waar hulle gevangenes is en hulle sal weer na U toe kom en tot U bid in daardie land en sê: ‘Ons het sonde gedoen, ons het verkeerde dinge gedoen, ons is skuldig.’

38. As hulle met hulle hele hart en lewe na U toe kom in die land van hulle vyande waar hulle gevangenes is en as hulle kyk na hierdie land wat U vir hulle voorvaders gegee het, en na die stad wat U gekies het, en na die tempel wat ek gebou het om U te dien, en as hulle bid tot U,

39. dan moet U asseblief luister in u woonplek, die hemel. U moet luister na hulle gebed en U moenie aanhou om hulle te straf nie. U moet asseblief u volk vergewe wat sonde gedoen het teen U.

40. “Nou, my God, U moet asseblief sorg vir hierdie plek en U moet luister wanneer iemand in hierdie plek bid.

41. En nou, Here God, moet U kom na die plek waar U wil wees, U en die kis wat vir almal wys dat U sterk is. U priesters moet altyd vertel dat U ons sal red, en die mense wat in U glo, moet altyd bly wees oor die goeie dinge wat U gee.

42. Here God, U moet asseblief goed wees vir u gesalfde, onthou dat U lief was vir u dienaar Dawid.”