hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Kronieke 8 Bybel vir Almal (ABA)

Salomo bou stede

1. Salomo het 20 jaar lank gebou om die tempel en sy paleis klaar te maak. Daarna

2. het hy die stede reggemaak wat Hiram vir hom gegee het. Hy het Israeliete daar laat woon.

3. Salomo het na die stad Hamat-Soba gegaan en hy het die mense van die stad oorwin.

4. Hy het die stad Tadmor in die woestyn gebou en al die stede in die land Hamat. Hy het sy goed daar gebêre.

5. Hy het die stede Bet-Goron-Bo en Bet-Goron-Onder gebou. Dit was stede wat sterk mure gehad het en poort-deure en sluitbalke.

6. Hy het die stad Baälat gebou en ook al die stede waar hy sy goed gebêre het en die stede waar sy oorlogkarre en sy ryperde was. Salomo het alles gebou wat hy wou bou in Jerusalem en op die Libanon-berg en in die hele land waar hy koning was.

7. In die land was daar mense wat nie Israeliete was nie, dit was die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete.

8. Hulle was die nageslag van die mense wat oorgebly het in die land, die Israeliete het hulle nie doodgemaak nie. Salomo het hulle almal baie hard laat werk, hulle doen dit nou nog.

9. Maar Salomo het gesê die Israeliete mag nie slawe word nie. Hulle was sy soldate en die offisiere van die soldate op die oorlogkarre en die perde.

10. Salomo het 250 belangrike amptenare gehad wat moes kyk dat die mense hulle werk doen.

Salomo bou ’n huis vir sy Egiptiese vrou

11. Salomo het die dogter van die farao uit die Dawidstad gebring na die huis wat hy vir haar gebou het. Hy het gesê: “’n Vrou van my mag nie woon in die paleis van koning Dawid van Israel nie, want die plekke is gewyd waar die kis van die Here gekom het.”

Salomo offer en kies priesters en Leviete

12. Daarna het Salomo brand-offers vir die Here gebring op die altaar van die Here. Salomo het die altaar voor die voorportaal van die tempel laat bou.

13. Hy het ge-offer soos dit elke dag nodig was, en soos Moses gesê het. Hy het ge-offer op die Sabbatdae, op die Nuwemaan-feeste, en op die drie groot feeste wat hulle elke jaar gevier het: die Fees van die Ongesuurde Brood, die Fees van die Weke en die Hutte-fees.

14. Salomo het groepe priesters gekies en aangestel vir hulle werk en hy het Leviete aangestel om die Here te prys en die priesters te help. Hy het gedoen soos sy pa Dawid gesê het. Hy het ook poortwagte aangestel om elke dag by al die poorte te werk, want so het Dawid, die man van God, gesê.

15. Hulle het alles gedoen wat die koning gesê het oor die priesters en die Leviete en oor die stoorkamers.

16. So het Salomo alles gedoen van die dag toe hy die fondamente van die tempel gebou het totdat hy die tempel heeltemal klaar gebou het.

Salomo kry goud uit die land Ofir

17. Daarna het Salomo na die stad Esjon-Geber en na die stad Elot gegaan. Dit was by die strand langs die see in die land Edom.

18. Hiram het party van sy amptenare na Salomo toe gestuur en hulle het skepe gebring en mense wat die see ken. Hulle het saam met Salomo se mense na die land Ofir gegaan en hulle het 450 talente goud vir koning Salomo gebring.