hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Soldate sluit by Dawid se leër

aan

1. Die volgende manne het by Dawid in Siklag aangesluit terwyl hy nog vir Saul, seun van Kis, weggekruip het. Hulle was tussen die soldate wat langs Dawid in die oorlog geveg het.

2. Hulle was almal vaardige boogskutters, wat ewe goed met die regter- en linkerhand slingerstene kon gooi en met pyl en boog kon skiet. Hulle was almal familie van Saul uit die stam van Benjamin.

3. Hulle leier was Agiëser, seun van Semaä van Gibea. Sy broer Joas was tweede in bevel. Die ander soldate was: Jesiël en Pelet, seuns van Asmawet; Beraka en Jehu van Anatot;

4. Jismaja van Gibeon, ’n bekende soldaat en leier oor die Dertig; Jeremia, Jagasiël, Joganan en Josabad van Gedera;

5. Elusai, Jerimot, Bealja, Semarja en Sefatja van Garif;

6. Elkana, Jissija, Asarel, Joëser en Jasobam, wat Koragiete was;

7. Joëla en Sebadja, seuns van Jerogam van Gedor.

8. Sommige van die dapper en ervare soldate van die stam van Gad het ook na Dawid oorgeloop terwyl hy in die bergvesting in die wildernis gebly het. Hulle was ervare met skild en spies, so sterk soos leeus en so vinnig soos bokke op die berge.

9. Eser was hulle leier. Obadja was tweede in bevel. Eliab was derde.

10. Mismanna was vierde. Jeremia was vyfde.

11. Attai was sesde. Eliël was sewende.

12. Joganan was agtste. Elsabad was negende.

13. Jeremia was tiende. Makbannai was elfde.

14. Hierdie soldate uit Gad was aanvoerders van die leër. Die swakste onder hulle was opgewasse teen 100 soldate, en die sterkste teen 1 000 van hulle.

15. Hulle het oor die Jordaan gegaan terwyl dit aan die begin van die jaar in vloed was en het al die bewoners verjaag wat in die laagtes aan die oostelike en westelike oewers gewoon het.

16. Ander van Benjamin en Juda het ook na Dawid in die bergvesting gekom.

17. Dawid het uitgegaan om hulle te ontmoet, en vir hulle gesê: “As julle in vrede gekom het om my te help, is ons vriende. Maar as julle gekom het om my aan my vyande te verraai terwyl ek onskuldig is, mag die God van ons voorouers dit sien en tussen ons oordeel!”

18. Die Gees het toe oor Amasai gekom. Hy het later ’n leier oor die Dertig geword. Hy het gesê: “Ons is joune, Dawid! Ons is aan jou kant, seun van Isai. Mag vrede en voorspoed by jou wees, en sukses vir almal wat jou help. Want jou God is die Een wat jou help!” Dawid het hulle toe by hom laat aansluit, en hy het hulle offisiere van sy soldate gemaak.

19. Manne uit Manasse het ook uit die Israelitiese leër na Dawid oorgeloop toe hy saam met die Filistyne teen Saul kom veg het. Soos dit gebeur het, het die Filistynse leiers geweier dat Dawid en sy manne saam met hulle gaan. Ná baie bespreking het hulle hulle teruggestuur, want hulle het gesê: “Dit sal ons lewens kos as Dawid sy lojaliteit omswaai agter Saul aan en teen ons draai.”

20. Hier is ’n lys van die manne uit Manasse wat na Dawid oorgeloop het toe hy na Siklag teruggekeer het: Adnag, Josabad, Jediael, Migael, Josabad, Elihu en Silletai. Elkeen was die aanvoerder van 1 000 troepe uit die stam van Manasse.

21. Hulle het Dawid gehelp om bendes rowers te jag, want hulle was almal dapper en ervare soldate wat aanvoerders in sy leër geword het.

22. Dag na dag het meer manne in Hebron by Dawid aangesluit totdat hy ’n groot leër gehad het, soos ’n leër van God.

23. Dit is die getalle gewapende soldate wat by Dawid in Hebron aangesluit het. Hulle was almal angstig dat Dawid koning word in die plek van Saul, soos die Here belowe het.

24. Van die stam van Juda was daar 6 800 soldate gewapen met skild en spies.

25. Van die stam van Simeon was daar 7 100 soldate.

26. Van die stam van Levi was daar 4 600 soldate.

27. Dit het Jojada ingesluit, wat leier van die familie van Aäron was, met 3 700 onder sy bevel.

28. Dit het ook Sadok ingesluit, ’n jong soldaat, met 22 lede van sy familie wat almal offisiere was.

29. Van die stam van Benjamin, Saul se familie, was daar 3 000 soldate. Die meeste Benjaminiete het lojaal aan Saul gebly.

30. Van die stam van Efraim was daar 20 800 soldate, elkeen bekend in sy eie groep.

31. Van die halwe stam van Manasse wat wes van die Jordaan gebly het, is daar 18 000 manne gestuur met die doel om Dawid koning te maak.

32. Van die stam van Issaskar was daar 200 leiers met hulle families. Hierdie manne het die tye verstaan en geweet wat vir Israel die beste pad is.

33. Van die stam van Sebulon was daar 50 000 ervare soldate. Hulle was gewapen en gereed vir die geveg, en heeltemal lojaal aan Dawid.

34. Van die stam van Naftali was daar 1 000 offisiere en 37 000 soldate, gewapen met skild en spies.

35. Van die stam van Dan was daar 28 600 soldate, almal gereed vir die geveg.

36. Van die stam van Aser was daar 40 000 opgeleide soldate, almal gereed vir die geveg.

37. Van die oostekant van die Jordaan af, waar die stamme van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse gebly het, het 120 000 soldate gekom, gewapen met elke soort wapen.

38. Al hierdie manne het in slagordes na Hebron gekom met die enkele doel om Dawid koning van Israel te maak. Al die ander Israeliete het saamgestem dat Dawid hulle koning moes wees.

39. Hulle het daar saam met Dawid drie dae lank feesgevier en gedrink, want hulle familielede het die voorbereidings vir hulle aankoms getref.

40. En selfs mense so ver weg as Issaskar, Sebulon en Naftali het kos op esels, kamele, muile en beeste gebring. Groot hoeveelhede meel, vyekoeke, rosyntjies, wyn, olyfolie, beeste en skape is vir die fees gebring. Daar was groot blydskap in die land Israel.