hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dawid neem ’n sensus op

1. Satan het teen Israel opgestaan en Dawid aangepor om ’n sensus van die Israeliete op te neem.

2. Dawid het opdrag aan Joab en sy offisiere gegee: “Gaan neem ’n sensus op van al die mense in die land, van Berseba in die suide tot Dan in die noorde. En bring dan vir my die uitslag sodat ek kan weet hoeveel mense daar is.”

3. Maar Joab het geantwoord: “Mag die Here sy volk honderd maal vermeerder! Maar hoekom, o Koning, wil u dit doen? Is hulle nie almal u dienaars nie? Waarom wil u dit doen? Hoekom moet u Israel laat sondig?”

4. Maar die koning het daarop aangedring dat Joab die sensus opneem. Daarom het Joab deur die hele Israel getrek om die volk te tel. Toe is hy terug Jerusalem toe.

5. Joab het die getal mense aan Dawid kom rapporteer. Daar was 1 100 000 mense wat militêre diens kon lewer in Israel, en 470 000 in Juda.

6. Joab het nie die stamme van Levi en Benjamin getel nie omdat die opdrag van die koning vir hom afskuwelik was.

Oordeel vir Dawid se sonde

7. God was baie ontevrede met die sensus, en Hy het Israel daarvoor gestraf.

8. Toe sê Dawid vir God: “Ek het baie teen U gesondig en moes nie die sensus opgeneem het nie. Vergewe my asseblief omdat ek hierdie dwase ding gedoen het!”

9. Die Here het met Gad, Dawid se siener, gepraat. Dit was die boodskap:

10. “Gaan sê vir Dawid: ‘Dit is wat die Here sê: Ek gaan jou drie keuses gee. Kies een van hierdie strawwe, en Ek sal dit doen.’”

11. Gad het by Dawid gekom en vir hom gesê: “Hierdie is die keuses wat die Here u gegee het.

12. U kan drie jaar van hongersnood kies, drie maande van verwoesting deur u vyande of drie dae van ’n swaar plaag waar die engel van die Here deur die hele land vernietiging bring. Dink hieroor na en laat my weet watter antwoord ek vir die Here moet gee.”

13. “Dit is ’n desperate situasie!” het Dawid vir Gad geantwoord. “Maar laat my eerder in die hande van die Here val, want sy genade is baie groot. Moet my tog nie in mense se hande laat val nie.”

14. Die Here het ’n plaag oor Israel gestuur, en 70 000 mense van Israel is dood as gevolg daarvan.

15. En God het ’n engel na Jerusalem gestuur om dit te verwoes. Maar net toe die engel gereed was om die verderf te saai, het die Here berou gekry oor die ellende en vir die engel gesê: “Dis genoeg! Trek nou jou hand terug.” Op daardie oomblik was die engel van die Here by die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.

16. Dawid het opgekyk en die engel van die Here sien staan tussen hemel en aarde met sy ontblote swaard wat oor Jerusalem uitgestrek is. Toe het Dawid en die leiers van Israel in sak en as op die grond neergeval.

17. En Dawid het vir God gesê: “Ek was die een wat die sensus beveel het! Ek is die een wat gesondig het en hierdie baie verkeerde ding gedoen het! Maar hierdie mense is onskuldig. Wat het hulle gedoen? O Here my God, laat u woede teen my en my familie ontbrand, maar moenie u volk vernietig nie!”

Dawid bou ’n altaar

18. Die engel van die Here het vir Gad gesê om Dawid te beveel om ’n altaar vir die Here te gaan bou op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.

19. Dawid het gedoen wat die Here hom deur Gad beveel het.

20. Arauna was besig om koring te dors toe hy omdraai en die engel sien. Sy vier seuns wat by hom was, het weggehardloop en gaan wegkruip.

21. Toe Arauna sien dat die koning aankom, het hy sy dorsvloer verlaat en voor Dawid met sy gesig na die grond gebuig.

22. Dawid sê toe vir Arauna: “Laat my asseblief hierdie dorsvloer vir sy volle koopprys koop! Ek wil ’n altaar vir die Here hier bou sodat Hy hierdie plaag sal stop.”

23. “Vat dit, o Koning, en gebruik dit soos u wil,” het Arauna vir Dawid gesê. “Hier is ook beeste vir brandoffers en u kan die dorsgereedskap vir hout gebruik om die vuur op die altaar te maak. En vat die koring as ’n spysoffer. Ek wil dit alles vir u gee!”

24. Maar die koning het vir Arauna gesê: “Nee, ek dring daarop aan om te betaal wat dit werd is. Ek kan nie wat joune is, vat en vir die Here gee nie. Ek sal nie ’n brandoffer bring wat my niks kos nie!”

25. Dawid het Arauna toe byna sewe kilogram goud betaal vir die dorsvloer.

26. Dawid het daar ’n altaar vir die Here gebou en brandoffers en dankoffers geoffer. Terwyl Dawid gebid het, het die Here hom geantwoord met vuur uit die hemel wat sy offers op die altaar verbrand het.

27. Toe het die Here met die engel gepraat, en hy het sy swaard in die skede teruggesteek.

28. Dawid het op daardie tydstip gesien dat die Here sy gebed geantwoord het. Daarom het hy aangehou om offers op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet, te offer.

29. In daardie stadium was die tabernakel van die Here en die altaar wat Moses in die woestyn gemaak het, op die hoogte in Gibeon.

30. Maar Dawid wou nie daarheen gaan om God te raadpleeg nie omdat hy bang was vir die uitgetrekte swaard van die engel van die Here.