hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dawid se instruksies aan

Salomo

1. Dawid het al die amptenare van Israel na Jerusalem toe ontbied, die stamleiers, bevelvoerders van die twaalf leërgroepe, die ander generaals en kapteins, opsigters oor die koninklike eiendom en vee, paleisamptenare, magtige manne en ander soldate in die koninkryk.

2. Koning Dawid het opgestaan en hulle toegespreek: “My broers en my volk! Dit was my begeerte om ’n huis vir die verbondsark van die Here te bou om as ’n voetbankie vir ons God te dien. Ek het voorbereidings getref om dit te bou.

3. Maar God het vir my gesê: ‘Jy mag nie ’n tempel bou om my Naam te eer nie, want jy is ’n soldaat wat baie bloed vergiet het.’

4. “Tog het die Here, die God van Israel, my uit al my pa se familielede gekies om vir altyd koning oor Israel te wees. Hy het die stam Juda gekies om te regeer, en uit al die families van Juda het Hy my pa se familie gekies, en Hy het besluit om my uit my pa se familie koning te maak oor die hele Israel.

5. Die Here het my baie kinders gegee, en onder hulle het Hy Salomo gekies om ná my op die troon van sy koninkryk van Israel te sit.

6. Hy het vir my gesê: ‘Jou seun Salomo sal my tempel en my voorhowe bou, want Ek het hom as my seun uitgekies, en Ek sal sy Vader wees.

7. As hy aanhou om my gebooie en regulasies te gehoorsaam soos hy nou doen, sal Ek sy koninkryk vir altyd bevestig.’

8. “Daarom gee ek nou hierdie opdrag voor die hele Israel, die Here se gemeente, terwyl God my getuie is: ‘Wees versigtig om al die gebooie van die Here julle God te gehoorsaam sodat julle hierdie goeie land kan besit en vir julle kinders nalaat as ’n permanente besitting.’

9. “En jy, Salomo, my seun, sorg dat jy die God van jou pa leer ken. Dien en aanbid Hom met jou hele hart en met ’n gewillige verstand. Want die Here sien elke hart en verstaan en ken elke plan en gedagte. As jy na Hom soek, sal jy Hom vind. Maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verwerp.

10. Neem dit nou ernstig op. Die Here het jou verkies om ’n tempel as sy heiligdom te bou. Wees sterk en doen die werk.”

11. Toe het Dawid aan sy seun Salomo die planne gegee vir die voorportaal van die tempel, die ander geboue, die skatkamers, die bovertrekke, die binnevertrekke, die vertrek van die versoendeksel

12. en van alles wat hy in gedagte gehad het vir die voorhowe van die Here se tempel, die buitenste kamers, die skatkamers van God se tempel en die kamers vir die gewyde offers.

13. Die koning het ook vir Salomo instruksies gegee oor die dienswerk van die verskillende afdelings priesters en Leviete in die tempel van die Here. Hy het spesifikasies gegee vir die artikels in die Here se tempel wat vir aanbidding en diens gebruik moes word.

14. Dawid het instruksies gegee oor hoeveel goud en silwer vir die noodsaaklike artikels gebruik moes word.

15. Hy het ook vir Salomo gesê watter gewig in goud nodig was vir die goue kandelare en lampe, en hoeveel silwer vir die silwerkandelare en -lampe nodig was, ooreenkomstig hoe elkeen gebruik sou word.

16. Hy het ook die hoeveelheid goud aangedui vir elke tafel waarop die heilige brode gesit moes word, en die hoeveelheid silwer vir ander tafels.

17. Dawid het ook die hoeveelheid goud bepaal vir die vurke, komme en kanne wat van suiwer goud gemaak moes word, en vir die goue bekers, en die hoeveelheid silwer vir die silwerbekers.

18. Laastens het hy ook die hoeveelheid gesuiwerde goud bepaal vir die wierookaltaar en die goue gerubs, wie se vlerke uitstrek oor die verbondsark van die Here.

19. “Elke deel van hierdie plan,” het Dawid vir Salomo gesê, “is deur die hand van die Here op papier vir my gegee.”

20. Dawid het ook vir sy seun Salomo gesê: “Wees sterk en vol moed, en doen die werk. Moenie bang wees of moedeloos word oor die groot werk nie. Want die Here God, my God, is met jou. Hy sal jou nie in die steek laat of jou verlaat nie. Hy sal toesien dat jy al die werk aan die tempel van die Here sal voltooi.

21. Die verskillende afdelings van priesters en Leviete sal in die tempel van God dien. Daar is vakmanne met allerlei bekwaamhede tot jou beskikking. Die leiers en die hele volk is tot jou beskikking.”