hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Pligte van die poortwagters

1. Hier is die afdelings van die poortwagters: Van die Koragiete was daar Meselemja, seun van Kore, uit die geslag van Asaf.

2. Die seuns van Meselemja was Sagaria, die oudste, Jediael, die tweede, Sebadja, die derde, Jatniël, die vierde,

3. Elam, die vyfde, Joganan, die sesde, en Eljehoënai, die sewende.

4. Die seuns van Obed-Edom was Semaja, die oudste, Josabad, die tweede, Joag, die derde, Sakar, die vierde, Netanel, die vyfde,

5. Ammiël, die sesde, Issaskar, die sewende, en Peülletai, die agtste. God het Obed-Edom ryklik geseën.

6. Obed-Edom se seun Semaja het uiters bekwame seuns gehad wat posisies van groot gesag in die familiegroep verwerf het.

7. Hulle name was Otni, Refael, Obed en Elsabad. Hulle familie, Elihu en Semakja, was ook bekwame mans.

8. Hulle almal was afstammelinge van Obed-Edom, insluitende hulle seuns en kleinseuns, 62 in totaal. Hulle was bekwame mans, goed gekwalifiseer vir hulle werk.

9. Meselemja se agtien seuns en families was ook bekwame mans.

10. Gosa van die Merarigroep het Simri as die leier tussen sy seuns aangestel, alhoewel hy nie die oudste was nie.

11. Sy ander seuns was Gilkija, die tweede, Tebalja, die derde, en Sagaria, die vierde. Gosa se familie wat as poortwagters gedien het, was dertien in totaal.

12. Hierdie afdelings van die poortwagters is vernoem na hulle familiehoofde, en soos die ander Leviete het hulle in die huis van die Here gedien.

13. Hulle is as families aangestel vir poortdiens by die verskillende ingange, sonder om ouderdom of opleiding in ag te neem, want dit is deur die gewyde lot bepaal.

14. Die verantwoordelikheid vir die oostelike ingang het op Meselemja en sy groep geval. Die noordelike ingang is toegeken aan sy seun Sagaria, ’n man van uitsonderlike wysheid.

15. Die suidelike ingang het na Obed-Edom gegaan, en sy seuns was in beheer van die pakhuise.

16. Aan Suppim en Gosa is die westelike ingang toegeken en ook die ingang wat na die tempel lei.

17. Ses Leviete is vir elke dag aan die oostelike ingang toegeken, vier vir die noordelike ingang, vier vir die suidelike ingang en twee vir die pakhuise.

18. Ses is vir die westelike ingang toegeken, vier vir die ingang wat na die tempel lei en twee vir die voorhof.

19. Dit was die afdelings van die poortwagters van die familiegroepe van Korag en Merari.

Tesouriers en ander amptenare

20. Ander Leviete wat deur Agija gelei is, was in beheer van die skatkamers van die huis van God en die pakhuise.

21. Van die familie van Ladan in die Gersonfamilie was Jegiël die leier.

22. Die seuns van Jegiël, Setam en Joël, was in beheer van die skatkamers van die huis van die Here.

23. Hier is die leiers wat afgestam het van Amram, Jishar, Hebron en Ussiël:

24. Van die familiegroep van Amram was Sebael, ’n afstammeling van Gersom, seun van Moses, die hoofamptenaar van die skatkamers.

25. Sy familie stam af van Eliëser deur Regabja, Jesaja, Joram, Sikri en Selomit.

26. Selomit en sy familie was in beheer van die skatkamers waarin alles gehou is wat koning Dawid, die familieleiers, die generaals, kapteins en ander offisiere van die leër aan die Here gewy het.

27. Hierdie mans het deel van die buit wat hulle in oorloë gekry het, gewy om die huis van die Here in stand te hou.

28. Selomit en sy familie het ook gesorg vir die artikels wat aan die Here gewy is deur Samuel, die siener, Saul, seun van Kis, Abner, seun van Ner, en Joab, seun van Seruja. Al die ander gewyde artikels was ook in hulle sorg.

29. Van die Jisharfamilie het Kenanja gekom. Hy en sy seuns is aangestel om buite die tempel as opsigters en regters in Israel te dien.

30. Van die Hebronfamilie het Gasabja gekom. Hy en sy familie, 1 700 bekwame mans, was in beheer van die Israelitiese grond wes van die Jordaanrivier. Hulle was verantwoordelik vir alle sake wat verband gehou het met die dinge van die Here en die diens van die koning in daardie gebied.

31. Van die Hebronfamilie het ook Jerija gekom. Hy was volgens die geslagsregister die leier van die Hebroniete. In die 40ste jaar van Dawid se regering is die rekords ondersoek en bekwame mans van die Hebronfamilie is by Jaser in Gilead gevind.

32. Jerija het 2 700 bekwame mans uit sy familie gehad. Koning Dawid het hulle na die oostekant van die Jordaanrivier gestuur en in beheer geplaas van die stamme van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse. Hulle was verantwoordelik vir alles wat verband hou met die dinge van God en die diens van die koning.