hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dawid se militêre oorwinnings

1. Hierna het Dawid die Filistyne onderwerp en hulle verneder toe hy Gat met sy omringende dorpies verower het.

2. Dawid het ook die Moabiete verslaan, en die Moabiete het Dawid se onderdane geword en belasting betaal.

3. Toe koning Hadad-Eser van Soba uitmarsjeer het om sy mag al langs die Eufraat te versterk, het Dawid ook die soldate van Hadad-Eser tot so ver as Hamat verslaan.

4. Dawid het van hom 1 000 strydwaens, 7 000 perderuiters en 20 000 voetsoldate gevang. Hy het al die trekperde se hakskeensenings afgesny, behalwe vir 100 trekperde.

5. Toe die Arameërs van Damaskus opdaag om vir koning Hadad-Eser van Soba te help, het Dawid 22 000 van hulle doodgemaak.

6. Hy het ook verskeie wagposte in Damaskus, die Aramese hoofstad, gestasioneer. Die Arameërs het Dawid se onderdane geword en aan hom belasting betaal. Die Here het vir Dawid die oorwinning gegee waar hy ook al gegaan het.

7. Dawid het die goue skilde wat Hadad-Eser se offisiere gedra het, na Jerusalem gebring.

8. Hy het ook baie koper gebring uit Hadad-Eser se stede, Tibgat en Kun. Later het Salomo dit gesmelt en vir die tempel gebruik. Hy het die kopersee, pilare en kopergereedskap daarvan gemaak.

9. Toe koning Toï van Hamat hoor dat Dawid die hele weermag van koning Hadad-Eser van Soba vernietig het,

10. het hy sy seun Joram na koning Dawid gestuur om hom te groet en geluk te wens met sy sukses oor Hadad-Eser. Hadad-Eser en Toï was lank vyande, en daar was baie oorloë tussen hulle. Joram het ook vir Dawid baie geskenke van goud, silwer en koper saamgebring.

11. Koning Dawid het al hierdie geskenke aan die Here geheilig, en so ook al die silwer en die goud wat hy afgeneem het van die nasies wat hy onderwerp het. Dit was Edom, Moab, Almon, die Filistyne en Amalek.

12. Abisai, seun van Seruja, het 18 000 Edomiete in die Soutdal verslaan.

13. Hy het wagposte deur die hele Edom geplaas, en al die Edomiete het Dawid se onderdane geword. Dit was nog ’n voorbeeld van hoe die Here aan Dawid die oorwinning gegee het waar hy ook al gegaan het.

14. Dawid het oor die hele Israel regeer. Hy het almal regverdig behandel.

15. Joab, seun van Seruja, was hoof van die leër. Josafat, seun van Agilud, was die koning se historikus.

16. Sadok, seun van Agitub, en Agimelek, seun van Abjatar, was die priesters. Sausa was die hofsekretaris.

17. Benaja, seun van Jojada, was kaptein van die koning se lyfwag. Dawid se seuns het as die koning se hoofassistente gedien.