hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 21 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Toe koning `Arad, die Kena’aniet, wat in die Negev gebly het, hoor dat Yisra’el met die pad van Atarim af kom, het hy teen Yisra’el geveg en sommige van hulle gevange geneem.

2. Yisra’el het ’n eed tot יהוה gesweer en gesê: “As U sal gee om hierdie volk heeltemal in my hand oor te gee, sal ek hulle stede geheel en al vernietig.”

3. יהוה het Yisra’el se stem gehoor en die Kena’aniete oorgegee. Hulle het hulle en hul stede totaal vernietig en die plek Hormah genoem.

4. Hulle het vanaf die berg Hor vertrek in die rigting van die see van Suf om verby die land Edom te trek en die volk het ongeduldig geword as gevolg van die reis.

5. Die volk het teen God en teen Moshe gepraat: “Waarom het U ons uit Mitzrayim laat opkom om in die wildernis te sterf, want daar is geen brood en geen water nie en ons liggame walg van hierdie nuttelose kos.”

6. יהוה het giftige slange onder die volk gestuur wat die volk gebyt het en baie van die mense van Yisra’el het gesterf;

7. daarom het die mense na Moshe toe gekom en gesê: “Ons het gesondig, want ons het teen יהוה en teen u gepraat. Tree in voor יהוה dat Hy die slange van ons af wegvat.” Moshe het vir die volk ingetree.

8. יהוה sê vir Moshe: “Maak vir jou ’n giftige slang en sit dit op ’n paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe.”Yog 3:14

9. Moshe het ’n koper slang gemaak en dit op ’n paal gesit en so was dit dat as ’n slang iemand gebyt het en hy kyk na die koper slang, hy geleef het.

10. Die seuns van Yisra’el het weggetrek en kamp opgeslaan in Ovot.

11. Hulle het weggetrek van Ovot af en kamp opgeslaan in Iyei-Ha’avarim, in die wildernis oorkant Mo’av, aan die oostekant.

12. Van daar het hulle weggetrek en kamp opgeslaan in die vallei van Zered.

13. Daarvandaan het hulle weggetrek en kamp opgeslaan oorkant die Arnon, in die wildernis wat strek van die grens van die Emoriete, want die Arnon is die grens van Mo’av, tussen Mo’av en die Emoriete;

14. daarom word dit gesê in die Boek van die Oorloë van יהוה: ‘Vahev by Sufah, die spruite van die Arnon

15. en die hang van die spruite wat na die streek van Ar afloop en leun teen die grens van Mo’av.’

16. Daarvandaan het hulle na Be’er getrek. Dit is die put waar יהוה vir Moshe gesê het: “Maak die mense bymekaar dat Ek vir hulle water kan gee.”

17. Toe het Yisra’el hierdie lied gesing: “Spring op, O put! Sing almal daarvoor!

18. O put, wat die leiers gegrawe het, wat die leiers van die volk gegrawe het, met hulle outoriteit, met hulle stawwe!” Vanaf die wildernis het hulle na Mattanah gegaan

19. en van Mattanah na Nagali’el en van Nagali’el na Bamot

20. en van Bamot, in die vallei wat in die land van Mo’av lê, na die top van Pisgah, wat oor die wildernis uitkyk.

21. Yisra’el het boodskappers gestuur na Sigon, die koning van die Emoriete en gesê:

22. “Laat my deur jou land trek. Ons sal nie wegdraai in die lande of in die wingerde nie; ons sal nie die water van die putte drink nie; ons sal op ‘Die Koning se Hoofpad’ hou tot ons deur jou gebied getrek het.”

23. Sigon het Yisra’el egter nie toegelaat om deur sy gebied te trek nie. Sigon het al sy mense bymekaargemaak en uitgegaan teen Yisra’el in die wildernis en toe hy by Yahatz kom, het hy teen Yisra’el geveg.

24. Yisra’el het hom met die snykant van die swaard geslaan en sy land in besit geneem van die Arnon af tot by die Yabbok, so ver as die seuns van `Amon, want die grens van die seuns van `Amon was Yatzer.

25. Yisra’el het al hierdie stede oorgevat en Yisra’el het gebly in al die stede van die Emoriete; in Heshbon en in al haar dorpies,

26. want Heshbon was die stad van Sigon, die koning van die Emoriete, wat oorlog gevoer het teen die vorige koning van die Mo’aviete en al sy land uit sy hand gevat het tot by die Arnon.

27. Dié wat spreekwoorde gebruik sê daarom: “Kom na Heshbon, laat die stad van Sigon herstel word,

28. want ’n vuur het uitgegaan uit Heshbon, ’n vlam uit die stad van Sigon! Dit het `Ar van die Mo’aviete verteer, die meesters van die hoogtes van Arnon.

29. Wee jou, Mo’av! Jy is vernietig, volk van K’mosh! Hy het sy seuns as vlugtelinge gegee en sy dogters in gevangeskap aan Sigon, die koning van die Emoriete,

30. maar ons het na hulle geskiet; Heshbon is vernietig so ver as Divon en ons het verwoes tot by Nofag, wat reik tot by Meidva.”

31. So het Yisra’el in die land van die Emoriete gebly.

32. Moshe het gestuur om Ya’zer te bespied en hulle het sy dorpies oorgevat en die Emoriete wat daar was, uitgedryf.

33. Hulle het gedraai en opgegaan in die rigting van Bashan en `Og, die koning van Bashan, het uitgetrek teen hulle, hy en al sy mense, om te veg by Edre’i.

34. יהוה het vir Moshe gesê: “Moet hom nie vrees nie, want Ek het hom in jou hand gegee, met al sy mense en sy land en jy sal met hom doen soos jy gedoen het met Sigon, die koning van die Emoriete, wat in Heshbon gebly het.”

35. Hulle het hom verslaan, sy seuns en sy hele volk totdat daar niemand oorgebly het nie en hulle het sy land in besit geneem.