hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36

Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. יהוה het met Moshe gepraat en gesê:

2. “Stuur manne uit sodat hulle die land Kena’an, wat Ek aan die seuns van Yisra’el gaan gee, kan verken. Van elke stam van hulle vaders moet julle een man stuur, elkeen ’n leier onder hulle.”

3. Moshe het hulle uitgestuur uit die wildernis van Pa’ran, volgens die bevel van יהוה; almal manne wat leiers was van die seuns van Yisra’el.

4. Hierdie is dan hulle name: van die stam van Re’uven: Shamua, die seun van Zakur;

5. van die stam van Shim’on: Shafat, die seun van Hori;

6. van die stam van Y’hudah: Kalev, die seun van Y’funneh;

7. van die stam van Yissakhar: Yig’al, die seun van Yosef;

8. van die stam van Efrayim: Hoshea, die seun van Nun;

9. van die stam van Binyamin: Palti, die seun van Rafu;

10. van die stam van Z’vulun: Gadi’el, die seun van Sodi;

11. van die stam van Yosef: Vir die stam van M’nasheh: Gaddi, die seun van Susi;

12. van die stam van Dan: `Ammi’el, die seun van G’malli;

13. van die stam van Asher: S’tur, die seun van Mikha’el;

14. van die stam van Naftali: Nagvi, die seun van Vofsi;

15. van die stam van Gad: Ge’u’el, die seun van Makhi.

16. Dit is die name van die manne wat Moshe gestuur het om die land te verken. Moshe het Hoshea, die seun van Nun, Y’hoshua genoem.

17. Moshe het hulle gestuur om die land Kena’an te verken en vir hulle gesê: “Gaan hierlangs op in die Negev en gaan dan op in die bergland

18. en kyk hoe die land is en of die mense wat daarin bly sterk of swak, min of baie is,

19. of die land waar hulle bly, goed of sleg is en of die stede waarin hulle bly, soos kampe of vestings is.

20. Is die land vet of arm; is daar bome of nie, doen moeite en bring van die vrugte van die land saam.” Die tyd was toe die seisoen van die eerste ryp druiwe.

21. Hulle het opgegaan en die land verken vanaf die wildernis van Tzin af tot so ver as Regov, naby die ingang van Hamat.

22. Hulle het opgegaan deur die Negev en tot by Hevron gekom en Agiman, Sheshai en Talmai, die wat vir `Anak gebore is, was daar. Hevron is sewe jaar voor Tzo’an, in Mitzrayim, gebou.

23. Hulle het by die vallei van Eshkol gekom en daar ’n rank met een tros druiwe afgesny en twee het dit tussen hulle met ’n paal gedra, saam met van die granate en van die vye.

24. Dié plek het hulle die vallei van Eshkol genoem vanweë die tros wat die seuns van Yisra’el daar afgesny het.

25. Hulle het teruggekom van die verkenning van die land ná verloop van veertig dae

26. en voortgegaan en by Moshe, Aharon en die hele vergadering van die seuns van Yisra’el gekom in die wildernis van Pa’ran, by Kadesh en aan hulle en aan die hele vergadering verslag gebring en hulle die vrugte van die land gewys.

27. Hulle het aan hom rapporteer en gesê: “Ons het gegaan na die land waarheen u ons gestuur het en waarlik, dit loop oor met melk en heuning en dít is sy vrugte.

28. Nogtans, die volk wat in die land woon, is sterk en die stede is versterk en baie groot en ons het die nageslag van `Anak daar gesien.

29. `Amalek bly in die Negev, die Hittiete, Y’vusiete en Emoriete bly in die bergland en die Kena’aniete bly by die see en langs die Yarden.”

30. Kalev het die mense stilgemaak voor Moshe en gesê: “Laat ons opstaan en opgaan om dit in besit te neem, want ons sal dit sekerlik oorwin.”

31. Die manne wat saam met hom opgegaan het, sê egter: “Ons kan nie teen die mense opgaan nie, want hulle is te sterk vir ons.”

32. Hulle het slegte verslae onder die seuns van Yisra’el versprei oor die land wat hulle verken het, deur te sê: “Die land waardeur ons gegaan het om dit te verken, is ’n land wat sy inwoners verteer en al die mense wat ons daarin gesien het, is groot manne.

33. Ons het ook die reuse (Nefilim) daar gesien, die seuns van `Anak is deel van die reuse en ons het soos sprinkane in ons eie oë geword soos ons ook in hulle oë was.”