hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 16 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. יהוה het met Moshe gepraat ná die dood van die twee seuns van Aharon, wat gesterf het toe hulle nadergekom het aan die Teenwoordigheid van יהוה.

2. יהוה het vir Moshe gesê: “Praat met jou broer Aharon dat hy nie te eniger tyd moet inkom in die afgesonderde plek, binnekant die verdelingsgordyn, voor die Toedekking wat op die ark is nie sodat hy nie sterf nie, want Ek verskyn in die wolk bokant die Toedekking.

3. So moet Aharon in die Afgesonderde plek ingaan: met die bloed van ’n jong bul as sondoffer en van ’n ram as brandoffer.

4. Hy moet die afgesonderde linne kleed aantrek, die linne broek moet oor sy liggaam wees, met ’n linne gordel moet hy hom omgord en ’n linne tulband moet op sy kop wees. Dit is afgesonderde klere; daarom moet hy sy liggaam in water was en dit aantrek.

5. Van die vergadering van die seuns van Yisra’el moet hy twee bokramme as sondoffer en een ram as brandoffer vat.

6. Aharon moet die sondofferbul wat vir hom bedoel is, naderbring en vir hom en sy huis toedekking doen.

7. Hy moet ook die twee bokke vat en hulle voor יהוה, by die ingang van die Tent van Ontmoeting, aanbied.

8. Aharon moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir יהוה en een lot vir `Az’azel (bok vir totale verwydering).

9. Aharon moet die bok waarop die lot vir יהוה gekom het naderbring en hom as sondoffer offer.

10. Die bok waarop die lot vir `Az’azel gekom het, moet lewendig voor יהוה aangebied word, om daardeur toedekking te doen, deur hom, as die bok vir volledige verwydering, die wildernis in te stuur.

11. Aharon moet die sondofferbul wat vir hom bedoel is, laat naderkom en vir hom en sy huis toedekking doen: hy moet die bul as sondoffer doodmaak vir homself.

12. Hy moet ’n vuurpan vol brandende kole van die altaar voor יהוה vat, met sy twee hande vol fyn gestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die verdelingsgordyn bring.

13. Hy moet die reukwerk op die vuur sit voor die Teenwoordigheid van יהוה sodat die wolk van die reukwerk die Toedekking wat op die Getuienis is, kan toemaak sodat hy nie sterf nie.

14. Hy moet van die bloed van die bul vat en dit met sy vinger op die Toedekking aan die oostekant sprinkel en voor die Toedekking moet hy sewe maal met sy vinger van die bloed sprinkel.

15. Hy moet die bok van die sondoffer doodmaak wat vir die volk bedoel is en sy bloed binnekant die verdelingsgordyn bring en met sy bloed doen soos hy met die bloed van die bul gedoen het: hy moet dit sprinkel op die Toedekking en voor die Toedekking.

16. So moet hy vir die Afgesonderde plek toedekking doen vanweë die onreinheid van die seuns van Yisra’el en vanweë hulle oortredinge, vir al hulle sondes en so moet hy dit ook doen vir die Tent van Ontmoeting wat tussen hulle onreinheid bly.

17. Niemand mag in die Tent van Ontmoeting wees as hy ingaan om in die Afgesonderde plek toedekking te doen totdat hy uitkom, nie. Hy moet toedekking doen vir homself, vir sy huis en vir die hele vergadering van Yisra’el.

18. Hy moet na die altaar uitgaan wat voor יהוה is en daarvoor toedekking doen: hy moet van die bloed van die bul en van die bloed van die bok vat en dit rondom aan die horings van die altaar smeer

19. en met sy vinger van die bloed sewe maal daarop sprinkel en dit reinig en afsonder van die onreinheid van die seuns van Yisra’el.

20. Wanneer hy die toedekking van die Afgesonderde plek, die Tent van Ontmoeting en die altaar voltooi het, moet hy die lewendige bok laat naderkom

21. en Aharon moet sy twee hande op die kop van die lewende bok lê en oor hom belydenis doen van al die skuld van die seuns van Yisra’el, al hulle wetsoortredinge, al hulle sondes en hy moet dié op die kop van die bok lê en hom deur die hand van ’n man wat daar gereed staan, in die wildernis instuur

22. en hy moet die bok in die wildernis vrylaat. Die bok sal al hulle skuld na ’n eensame land wegdra.

23. Aharon moet inkom in die Tent van Ontmoeting en die linne klere uittrek wat hy aangetrek het toe hy in die Afgesonderde plek ingegaan het en dit daar los.

24. Hy moet sy liggaam op ’n afgesonderde plek in water was, sy klere aantrek en uitgaan en sy brandoffer en die brandoffer van die volk offer, om vir hom en vir die volk toedekking te doen.

25. Hy moet ook die vet van die sondoffer op die altaar brand en in rook laat opgaan.

26. Hy wat die bok vir volkome verwydering losgelaat het, moet sy klere was en sy liggaam in water was en daarna in die kamp inkom.

27. Die bul van die sondoffer en die bok van die sondoffer, waarvan die bloed ingebring is om toedekking te doen in die Afgesonderde plek, moet hulle uit die kamp uitdra en hulle velle, hulle vleis en hulle mis moet met vuur verbrand word.

28. Hy wat dit verbrand, moet sy klere was en sy liggaam in water was en daarna mag hy in die kamp inkom.

29. Hierdie sal ’n ewige instelling vir julle wees: in die sewende maand, op die tiende van die maand, moet julle in nederigheid vas en géén werk doen nie; die kind van die land sowel as die vreemdeling wat by julle besoek,

30. want op hierdie dag moet hy vir julle toedekking doen om julle te reinig van al julle sondes om voor die Teenwoordigheid van יהוה rein te wees.

31. Dit moet ’n Shabbat van volkome rus vir julle wees en julle moet in nederigheid vas. Dit is ’n ewige instelling.

32. Die priester wat gesalf is en wie se hand bevestig is om in die plek van sy vader as priester te dien, moet toedekking doen en hy moet die linne klere, die afgesonderde klere, aantrek

33. en toedekking doen vir die Mees Afgesonderde plek; toedekking doen vir die Tent van Ontmoeting en die altaar en toedekking doen vir die priesters en vir al die mense van die vergadering.

34. Dit moet vir julle ’n ewige instelling wees om vir die seuns van Yisra’el, weens al hulle sondes, een maal per jaar toedekking te doen.” Hy het gedoen soos יהוה Moshe beveel het.