hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 26 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Julle mag vir julle geen afgode maak nie; nie ’n gekerfde beeld of ’n afgesonderde pilaar mag julle vir julle oprig nie en ’n gevormde klip beeld in julle land nie opstel om tot dit neer te buig nie, want Ek is יהוה, julle God.

2. Julle moet My Shabbatte hou en My Afgesonderde Plek respekteer. Ek is יהוה.

3. As julle volgens My reëls loop en My opdragte hou en dit doen,Deut 28:1

4. sal Ek julle reën gee in sy seisoen en die land sal sy opbrengs gee en die bome van die veld sal hulle vrugte gee.

5. Jou dorstyd sal aanhou tot die druiweoes, die druiweoes sal aanhou tot die saaityd, julle sal jul kos ten volle eet en veilig in julle land woon.

6. Ek sal vrede gee in die land sodat julle sal gaan lê en niemand sal julle bang maak nie. Ek sal die wilde diere uit die land verwyder en geen swaard sal deur julle land trek nie.

7. Julle sal jul vyande agtervolg en hulle sal voor julle val deur die swaard.

8. Vyf van julle sal ’n honderd agtervolg en ’n honderd van julle sal tien duisend laat vlug. Julle vyande sal deur die swaard voor julle val,Y’ho 23:10

9. want Ek sal goedgunstig na julle kyk, julle vrugbaar maak, julle vermenigvuldig en My verbond sal Ek met julle bevestig.

10. Julle sal graan eet wat opgestoor is en die ou oes uithaal ter wille van die nuwe.

11. Ek sal My woonplek tussen julle oprig en My Persoon sal julle nie verwerp nie.

12. Ek sal tussen julle loop en julle God wees en júlle sal My volk wees.Open 21:3

13. Ek is יהוה, julle God, wat julle uit Mitzrayim uitgelei het sodat julle nie hulle slawe moet wees nie. Ek het die skeie van julle juk verbreek en julle laat regop loop,

14. maar as julle My nie gehoorsaam en nie al hierdie opdragte doen nie

15. en as julle My reëls verwerp en as julle lewens My wette verafsku sodat julle nie al My opdragte doen nie en My verbond verbreek,

16. dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal julle besoek met ’n skielike paniek, tering en koors wat die oë opvreet en die lewe laat afneem. Julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet.

17. Ek sal My gesig teen julle draai en julle sal voor jul vyande verslaan word. Die wat julle haat sal oor julle heers en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie.

18. Na dit alles, as julle My nie gehoorsaam nie, sal Ek julle sewe keer meer vir julle oortredinge straf.

19. Ek sal die trots van julle mag verbreek en sal julle hemele maak soos yster en julle aarde soos koper.

20. Julle krag sal tevergeefs gebruik word, want julle land sal sy opbrengs nie lewer nie en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie.

21. As julle jul teen My versit en My nie wil gehoorsaam nie, sal Ek sewe keer meer plae op julle lê, volgens julle sondes.

22. Ek sal wilde diere van die veld onder julle instuur en dié sal julle kinders steel, julle vee uitroei, julle verminder en julle paaie sal verlate wees.

23. As julle hierdeur jul nie deur My laat dissiplineer nie, maar julle teen My versit,

24. sal Ek My ook teen julle versit en julle ook sewevoudig straf vir julle sondes.

25. Ek sal ’n swaard teen julle bring, wat die wraak van die verbond sal uitvoer en wanneer julle in jul stede bymekaarkom, sal Ek pes onder julle instuur en julle sal in die hand van die vyand oorgegee word.

26. Wanneer Ek julle hoeveelheid brood afsny, sal tien vroue julle brood in een oond bak en julle brood by die gewig teruggee en julle sal eet, maar nie versadig word nie.

27. Na al hierdie, as julle My nie gehoorsaam nie, maar julle teen My versit,

28. sal Ek My in woede teen julle versit en Ek, ja Ek, sal julle sewevoudig dissiplineer vir julle sondes.

29. Julle sal die vlees van julle seuns eet en julle sal die vlees van julle dogters eet.

30. Ek sal julle hoë plekke verwoes, julle wierook altare afbreek en julle lyke op die lyke van julle afgode gooi en My Persoon sal ’n afsku in julle hê.

31. Ek sal julle stede puinhope maak en julle afgesonderde plekke verwoes en julle aangename geure nie ruik nie.

32. Ek sal die land tot verwoesting bring en julle vyande wat daarin gaan woon, sal daaroor verstom staan.

33. Ek sal julle onder die volke verstrooi en ’n swaard agter julle uittrek en julle land sal ’n wildernis word en julle stede sal vernietig word.

34. Dan sal die land sy Shabbatte geniet, solank as dit woes lê terwyl julle in die land van julle vyande is; dan sal die land rus en sy Shabbatte geniet.

35. Al die dae van sy woestheid sal dit rus, want dit het nie gerus op julle Shabbatte, toe julle daarin gewoon het nie.2 Kro 36:21; Yir 29:10

36. Wat betref diegene wat onder julle oorgebly het; Ek sal in hulle hart ’n vreesagtigheid bring in die lande van hulle vyande sodat die geruis van ’n waaiende blaar hulle op die loop sal jaag en hulle sal vlug, soos ’n mens vir ’n swaard vlug en val sonder dat iemand agtervolg.Yes 51:13

37. Hulle sal struikel, die een oor die ander, soos voor ’n swaard, wanneer niemand agtervolg nie en julle sal geen krag hê om voor julle vyande te staan nie.

38. Julle sal omkom onder die nasies en die land van julle vyande sal julle verteer

39. en die wat onder julle oorgebly het, sal oor hulle skuld wegteer in die lande van julle vyande; ook oor die skuld van hulle vaders wat by hulle is, sal hulle wegteer.

40. As hulle hul skuld bely en die skuld van hulle vaders, met hulle ontrouheid waarmee hulle ontrou teen My opgetree het en ook dat hulle hul teen My versit het

41. sodat Ék My ook teen hulle versit het en hulle in die land van hulle vyande gebring het, wanneer hulle onbesnede harte verneder is en hulle hul skuld erken,Hand 7:51

42. dan sal Ek My verbond met Ya’akov onthou en My verbond met Yitz’gak en My verbond met Avraham sal Ek onthou en Ek sal die land onthou.

43. Die land moet eers van hulle verlate wees en tevrede wees met sy Shabbatte terwyl dit woes lê sonder hulle; húlle sal hulle skuld erken omdat hulle My wette verwerp en hulle lewe My reëls verafsku het.

44. Tog, na alles, wanneer hulle in die land van hul vyande is, sal Ek hulle nie verwerp nie en sal Ek hulle nie verafsku nie sodat Ek hulle sou vernietig en My verbond met hulle sou verbreek nie, want Ek is יהוה, hulle God.

45. Ek sal egter vir hulle onthalwe die verbond met hulle voorvaders, wat Ek uit Mitzrayim voor die oë van die nasies uitgelei het, onthou, om vir hulle ’n God te wees. Ek is יהוה.’”

46. Hierdie is die reëls, die opdragte en die wette wat יהוה tussen Hom en die seuns van Yisra’el, by die berg Sinai, deur die hand van Moshe, gegee het.