hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27

Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 1 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. יהוה het Moshe geroep en met hom gepraat vanaf die Tent van Ontmoeting en gesê:

2. “Praat met die seuns van Yisra’el en sê vir hulle: ‘As iemand van julle aan יהוה ’n offer bring, moet julle jul offer bring vanuit vee: van beeste of van kleinvee.

3. As sy offer ’n brandoffer is vanuit die beeste, moet dit ’n bul sonder gebrek wees wat hy offer. Hy moet dit by die ingang van die Tent van Ontmoeting offer sodat hy voor יהוה aanvaar sal word.

4. Hy moet sy hand op die kop van die brandoffer lê sodat dit aanvaar mag word om namens hom toedekking te doen.

5. Hy moet die jong bul voor יהוה doodmaak en die seuns van Aharon, die priesters, moet die bloed bring en die bloed rondom teen die altaar, wat by die ingang van die Tent van Ontmoeting is, sprinkel.

6. Hy moet dan die brandoffer afslag en dit in sy stukke verdeel.

7. Die seuns van Aharon, die priester, moet vuur op die altaar sit en hout op die vuur regpak.

8. Die seuns van Aharon, die priesters, moet die stukke, die kop en die vet, regpak op die hout, wat op die vuur, op die altaar is,

9. maar die binnegoed en die pote moet hy met water was en die priester moet dit alles op die altaar in rook laat opgaan as ’n brandoffer, ’n offer deur vuur, ’n aangename geur tot יהוה.

10. As sy offer ’n stuk kleinvee as brandoffer is, van die skape of van die bokke, moet dit ’n ram sonder gebrek wees wat hy offer.

11. Hy moet dit aan die noordekant van die altaar, voor יהוה doodmaak en die seuns van Aharon, die priesters, moet die bloed daarvan rondom teen die altaar sprinkel.

12. Hy moet dit in sy stukke verdeel, met die kop en die vet en die priester moet dit reglê op die hout, wat op die vuur is, op die altaar,

13. maar die binnegoed en die pootjies moet hy met water was en die priester moet dit alles bring en op die altaar brand en in rook laat opgaan, as ’n brandoffer, ’n offer deur vuur, ’n aangename geur tot יהוה.

14. As sy offer aan יהוה ’n brandoffer is van voëls, moet hy sy offer bring van tortelduiwe of van jong duiwe.

15. Die priester moet dit na die altaar bring en die kop afknyp en dit op die altaar brand en in rook laat opgaan; hy moet die bloed teen die kant van die altaar laat uitloop.

16. Hy moet die krop saam met sy vere verwyder en dit langs die altaar gooi, aan die oostekant, op die plek vir as.

17. Hy moet dit by die vlerke skeur, sonder om hulle af te trek en die priester moet dit op die altaar aan die brand steek, op die hout, wat op die vuur is; dit is ’n brandoffer, ’n offer deur vuur, ’n aangename geur tot יהוה.