hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50
  51. 51
  52. 52

Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 18 Die Boodskap (DB)

2. Ek het U lief, o Here. U maak my sterk.By die Here is ek veilig, want Hy beskerm my.

3. Hy help my as ek in die moeilikheid is, want Hy is sterk. Ek kruip by Hom weg.Hy is my God, en Hy is reg rondom my om my veilig te hou.

4. As my vyande my moeilikheid gee, bid ek tot die Here. Hy help my dan.Hy verlos my van my vyande.

5. Dit het vir my gevoel of die dood my vasgedruk het, ja, asof alle moeilikheid soos golwe oor my slaan.

6. Ek was in die poorte van die dood. Ek het in die vangnet van die dood getrap.

7. Toe het ek na die Here geroep. Ek het Hom gevra om my asseblief te help ... en my God het my gehoor! Daar waar Hy bly, luister Hy na my as ek roep.

8. Die Here het kwaad geword, en toe het die aarde begin bewe.Dit het gelyk of iemand die berge vat en rondskud.

9. Dit was of die vreeslikste vuur losbreek wat alles verbrand. Rook het uit sy neus gekom.

10. Dit was of die hemel oopbars toe die Here kom. Hy het op donker stormwolke geloop.

11. Ja, asof Hy sweef op die wind, het Hy op ’n magtige hemelwese aangevlieg gekom.

12. ’n Mens kon die Here nie sien nie, want dit was donker om Hom.Donker wolke en waters het Hom toegevou.

13. Dit was of ’n helder lig voor Hom uitgestraal het.Voor die glans uit het wolke met hael en weerligstrale getrek.

14. Met ’n harde stem het die Here uit die hemel gepraat, hael en weerligstrale het gevlieg. Ek het die stem van die Allerhoogste gehoor.

15. Toe die weerligstrale soos pyle tussen die mense begin slaan, het dit die vyand in alle rigtings laat spaander. Hy het hulle op ’n hoop gejaag.

16. Ja, Here, as U op mense skree, is dit nie speletjies nie.Dit is soos ’n orkaan wat alles uitmekaarruk. Jy sien die see se bodem en die aarde se fondamente.

17. Soos ’n sterk hand wat my uit diep, donker water pluk, gryp U my en lig U my uit.

18. My vyande was te sterk vir my, maar die Here het my gehelp. Hy het my gered van die mense wat te magtig vir my was.

19. Toe hulle my aanval en ek diep in die moeilikheid was,was die Here daar om my te help.Hy het my gehelp dat ek nie ondergaan nie.

20. Daarom het Hy my na ’n veilige plek toe gevat. Hy het my gered omdat Hy my liefhet.

21. Ja, Hy het my gered. Hy beloon my omdat ek reg gelewe het. Ek was onskuldig.

22. Omdat ek graag doen wat Hy van my vra, het Hy my gehelp.Omdat ek nie verkeerde dinge gedoen het nie, het die Here mooi vir my gesorg.

23. Ek het die reguit pad van die Here geloop. Ek het alles gedoen wat Hy my beveel het.

24. Ja, ek het voluit vir Hom geleef soos Hy van my verwag het. Ek het Hom opreg gedien.Ek was versigtig om niks verkeerds te doen nie.

25. Die Here het dit geweet. Ek was onskuldig in sy oë. Daarom was Hy goed vir my. Hy het my regverdig behandel.

26. As iemand getrou is, is die Here getrou. As iemand liefdevol optree, kry hy liefde van die Here af terug.

27. As iemand reg en goed optree, is die Here ook goed vir hom.As iemand slegte dinge doen, sal hy ervaar hoe dit voel as God slegte dinge aan hom doen.

28. As mense sleg behandel word, sal U hulle red.As mense egter te veel van hulleself dink, sal U hulle op hulle plek sit.

29. O Here, U is die lig in my lewe.As U by my is, verdwyn die donker.

30. Dan sien ek vir alles kans. Ek sal ’n hele bende storm. Niks sal my kan keer nie. Ek spring oor ’n hoë muur.

31. God se pad is volmaak. Jy kan alles glo wat Hy sê.Hy beskerm almal wat by Hom kom wegkruip.

32. Want wie anders as die Here is die enigste ware God?En by wie anders kan ’n mens gaan wegkruip as by God?

33. God gee my al die krag wat ek nodig het.Hy laat my voorspoedig gaan.

34. Niemand kan my vang nie.Ek sal nie neerslaan nie.

35. U wys my hoe om teen my vyande te veg en te wen. U maak my sterk.

36. U self beskerm my en red my waar ek U nodig kry.U het moeite gedoen en my gehelp. U was baie goed vir my.Ek was ’n oorwinnaar.

37. Ek het selfversekerd gedoen wat ek gedoen het. Ek het nie getwyfel nie.

38. My vyande kon nie wegkom nie. Ek het nie opgehou tot ek die laaste een oorwin het nie.

39. Ek het hulle platgeloop.Hulle sou nie sommer weer opstaan nie. Hulle het onder my voete beland.

40. Maar ek kon dit net doen omdat U my die krag gegee het. U het my vyande voor my laat kniel.

41. Dis eintlik U wat my vyande vir my oorwin. U het gesorg dat hulle weghardloop.So kon ek die mense wat nie van my hou nie se mag heeltemal breek.

42. Hulle smeek iemand om hulle te help, maar daar is niemand nie.Nou skielik vra hulle die Here om te help, maar Hy steur Hom nie aan hulle nie.

43. Ek het hulle mag totaal gebreek, soos klip wat ’n mens fynmaal soos stof en in die wind rondstrooi, of soos modder wat jy in die pad gooi vir almal om op te trap. Ek het hulle vertrap.

44. U het my gehelp om uit die kloue te kom van hierdie mense wat net wil baklei.Nou is ek hulle koning en moet hulle na my luister.Mense wat ek eers nie geken het nie, moet my nou dien.

45. As hulle net van my hoor, luister hulle al! Vreemde mense kom bewend nader.Hulle probeer nie eens teen my veg nie.

46. Hulle gooi sommer dadelik die handdoek in. Hulle gee dadelik oor.

47. Die Here leef! Ek wil vir die Here baie dankie sê omdat Hy my so beskerm.Ek wil sy Naam grootmaak omdat Hy my gered het.

48. Hy help my om my vyande op hulle plek te sit. Hy onderwerp volke aan my mag.

49. Hy red my van my vyande. Hulle kan niks aan my doen nie. Ek troon bo elkeen van hulle uit.Mense wat gewelddadig is, kan niks doen nie omdat U my van hulle red.

50. Daarom wil ek U loof en dankie sê voor al die nasies, o Here.Ek wil liedere sing om u Naam groot te maak en U te eer.

51. Die Here help sy koning. Hy maak hom ’n ware oorwinnaar.Hy is baie goed vir die koning wat Hy aangestel het.Hy is goed vir Dawid en al sy kinders, vir altyd en altyd.