hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 20 Die Boodskap (DB)

Die toevlugstede

1. Toe sê die Here vir Josua:

2. “Sê vir die Israeliete: Kies nou vir julle ’n aantal stede wat bekend sal staan as toevlugstede. Ek het die opdrag hieroor al in Moses se tyd gegee.

3. Die doel van hierdie stede is dat as iemand sonder opset iemand anders doodgemaak het, hulle daarheen kan vlug en daar beskerm kan word. Dan kan die familie van die persoon wat doodgemaak is, nie die ander persoon daar kom vang en doodmaak uit weerwraak nie.

4. Wanneer iemand na so ’n stad toe vlug, moet hy eers by die leiers van die volk sy saak gaan stel. Hulle tree daar by die ingang van die stad as regters op. As hulle tevrede is, sal hulle die persoon toelaat om in die stad in te gaan en daar te gaan bly.

5. As die familie van die persoon wat doodgemaak is daar aankom, moet die persoon nie aan hulle uitgelewer word nie. Hy moet beskerm word, aangesien die slagoffer per ongeluk, en nie uit woede of met voorbedagte rade nie, doodgemaak is.

6. So ’n persoon moet in hierdie toevlugstad bly totdat hy in ’n openbare verhoor in die stad onskuldig verklaar is. Die persoon moet daarna in daardie stad bly totdat die hoëpriester van dié tyd dood is. Daarna mag die persoon as vry mens terugkeer huis toe.”

7. Die volgende stede is toe as vrystede aangewys: Kedes in Galilea wat op die berge van Naftali geleë is, Sigem op die berge van Efraim en Kirjat-Arba ook bekend as Hebron, op die berge van Juda.

8. Aan die oostekant van die Jordaan, regoor Jerigo, is die volgende stede aangewys: Beser in die woestyngedeelte van die gebied van Ruben, Ramot in Gilead in die gebied van Gad, en Golan in Basan in die gebied van Manasse.

9. Dit was die toevlugstede wat aangewys is vir die Israeliete, asook enige uitlanders wat saam met hulle in die land gebly het. Enigeen wat iemand per ongeluk doodgemaak het, kon daar gaan skuil vir beskerming teen die familie van die persoon wat doodgemaak is. Hulle kon daar bly terwyl hulle op ’n openbare verhoor gewag het.