hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 6 Die Boodskap (DB)

Jerigo word ingeneem

1. Jerigo se stadsdeure is deeglik gesluit. Daar was nêrens plek om in te kom nie, so bang was die mense vir die Israeliete. Niemand is toegelaat om in of uit te gaan nie.

2. Maar die Here het vir Josua gesê: “Ek gee Jerigo, met sy koning en al sy soldate, in jou mag oor.

3. Jy en al jou soldate moet elke dag, vir ses dae, reg om die stad loop.

4. Voor die verbondsark, wat julle elke dag saam met julle moet dra, moet sewe priesters loop, elkeen met ’n trompet. Op die sewende dag moet julle sewe maal om die stad loop terwyl die priesters op die trompette blaas.

5. Sodra julle die priesters op die trompette hoor blaas, moet almal die aanvalskreet hard uitskree. Dan sal die mure van die stad inmekaarval sodat julle maklik in die stad kan ingaan om dit te oorrompel.”

6. Josua die seun van Nun het toe die priesters geroep. Hy het vir hulle gesê: “Vat die verbondsark en wys sewe priesters aan wat voor die ark uitloop, elkeen met ’n trompet waarop hy kan blaas.”

7. Vir die volk het hy gesê: “Loop nou om die stad. Laat die soldate saam met die ark van die Here voor loop.”

8-9. En toe, net soos Josua beveel het, het die mense voor die ark begin stap met die sewe priesters wat op die sewe trompette blaas op hulle hakke, gevolg deur die verbondsark van die Here en die agterhoede. Die priesters het die hele tyd op die trompette geblaas.

10. “Moenie skree nie; moenie eens praat nie,” het Josua beveel. “Ek wil nie ’n woord van enigeen van julle hoor totdat ek julle beveel om te skree nie. Dan moet julle skree!”

11. Hulle het op daardie dag die ark van die Here een maal om die stad gedra. Daarna is hulle terug kamp toe vir die nag.

12-13. Josua het die volgende môre vroeg weer dieselfde gedoen. Die priesters het die ark van die Here gedra met die sewe priesters wat op die trompette geblaas het vooraan. Die soldate het weer die voor- en agterhoede beman. Die priesters het die hele tyd op die trompette geblaas.

14. Op hierdie tweede dag het hulle een maal om die stad geloop en daarna teruggekeer kamp toe. Ses dae lank het hulle elke dag presies dieselfde gedoen.

15. Op die sewende dag het hulle met dagbreek opgestaan en soos gewoonlik op dieselfde manier om die stad geloop. Maar op hierdie dag het hulle sewe keer om die stad geloop.

16. Toe hulle die sewende keer om is, het die priesters weer hard op die trompette geblaas. Toe sê Josua vir die volk: “Skree, want die Here gee die stad in julle mag oor!

17. Die stad en alles wat daarin is, moet egter totaal vernietig word as ’n offer aan die Here. Net Ragab die prostituut en haar mense mag bly lewe omdat sy ons spioene weggesteek het.

18. Julle mag niks van dit wat aan die Here behoort en wat vernietig moet word, vir julleself vat nie. As julle dit doen, sal dit groot probleme veroorsaak en dan sal die kamp ook vernietig word.

19. Alle voorwerpe van silwer, goud, brons en yster behoort aan die Here en moet in sy skatkis kom.”

20. Die priesters het op die trompette geblaas. Toe die volk die geluid van die trompette hoor, het hulle hard geskree, waarop die muur van die stad inmekaargeval het. Die manskappe is toe oor die puin wat omgeval het, die stad in. Hulle het die stad oorrompel.

21. Hulle het alles vernietig wat in die stad was. Mans en vroue, jonk en oud, beeste, skape, donkies, alles is voor die voet tot niet gemaak.

22. Toe het Josua vir die twee mans wat die land moes verken, gesê: “Kom julle belofte na. Gaan na die prostituut se huis toe en bring haar en al haar mense uit.”

23. Die mans het toe vir Ragab, haar pa, haar ma, haar broers en susters en al haar ander familielede wat by haar was, uit die stad gelei en hulle na ’n veilige plek naby die Israeliete se kamp toe gebring.

24. Toe het hulle die stad met alles wat daarin was, tot op die grond afgebrand. Net die artikels van goud, silwer, brons en yster is uitgehou vir die skatkis in die Here se huis.

25. Maar Josua het Ragab die prostituut en al haar familie wat by haar was laat leef, omdat sy die spioene wat hy gestuur het om Jerigo te verken weggesteek het. Haar nageslag is nou nog deel van Israel.

’n Waarskuwing

26. Toe het Josua ernstig gewaarsku: “Die Here sal die mens wat die stad Jerigo probeer herbou, beslis straf. Dit sal die lewe van sy oudste seun kos om die fondamente te herbou en as hy die deure van die hekke hang, sal sy jongste seun sterf.”

27. Die Here was by Josua. Hy was later oor die hele land bekend.