hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 15 Die Boodskap (DB)

’n Beskrywing van Juda se stamgebied

1. Die gebied wat aan die families van die stam van Juda toegeken is, het suidwaarts gestrek tot by die grens met Edom met die mees suidelike punt die Sinwoestyn.

2. Die suidelike grens het by die eerste baai aan die suidelike punt van die Dooie See begin.

3. Van daar af het dit suid van Skerpioenpas af geloop verby in die rigting van die Sinwoestyn. Dan strek dit suid verby Kades-Barnea, oor Gesron en op in die rigting van Addar. Daar swaai dit dan na Karka toe.

4. Van daar af loop dit oor na Asmon, totdat dit uiteindelik die Egiptespruit bereik en die spruit dan volg tot waar dit teen die Middellandse See doodloop. Dit is hoe Juda se suidelike grens lyk.

5. Die oosgrens van Juda is die Dooie See, noordwaarts tot waar die Jordaan in dié see uitmond. Die noordelike grens begin waar die Jordaan in die Dooie See inloop.

6. Van daar af loop dit op na Bet-Gogla toe, dan noord van Bet-Araba verby en op na die klip van Bohan seun van Ruben toe.

7. Daarvandaan loop dit deur die Akorlaagte op na Debir toe, waar dit noordwaarts swaai na Gilgal toe, wat regoor Adummimspas, suid van die spruit, lê. Dan loop die grens van Juda verder tot by die fonteine van En-Semes en En-Rogel.

8. Van hier af gaan die grens op deur die Ben-Hinnomsvallei na die suidelike hang van die Jebusieteberg, waar die stad Jerusalem geleë is, en dan op na die top van die berg wes van die Hinnomsvallei aan die noordelike punt van die vallei van die Refaïete.

9. Van daar af swaai die grens na die fonteine van Neftoag toe totdat dit uitkom by die dorpe naby die berg Efron. Daarvandaan draai die grens dan na Baäla toe, beter bekend as Kirjat-Jearim.

10. Van Baäla af sirkel dit in ’n westelike rigting na die berg Seïr toe, oor die noordelike hang van die berg Jearim na Kesalon toe en dan af na Bet-Semes en van daar af verder na Timna toe.

11-12. Die grenslyn gaan dan verder tot by die hange van Ekron en draai dan in die rigting van Sikaron, verby Baälberg na Jabne toe, waarna dit teen die kus van die Middellandse See as wesgrens doodloop. Die families van die stam van Juda het in hierdie gebied gebly.

Kaleb verower Hebron

13. Volgens die Here se opdrag aan Josua het hy aan Kaleb die seun van Jefunne ’n gebied binne Juda se grense toegeken, naamlik Kirjat-Arba. Dit is vernoem na Arba, die voorvader van die Enakiete. Hierdie gebied staan ook bekend as Hebron.

14. Kaleb het drie van Enak se kinders, Sesai, Agiman en Talmai, uit hierdie gebied verdryf.

15. Van daar af het hy die mense van Debir aangeval. Debir was vroeër as Kirjat-Sefer bekend.

16. Kaleb het gesê: “Ek sal my dogter Aksa as vrou gee aan die man wat Kirjat-Sefer inneem en verslaan.”

17. Otniël die seun van Kaleb se broer Kenas het die stad ingeneem en so het Aksa sy vrou geword.

18. Toe Aksa met Otniël trou, het sy hom probeer oorreed om by haar pa landbougrond te vra, maar hy wou nie. Toe sy haar ouers gaan groet en Kaleb haar vra wat sy wou hê,

19. het sy geantwoord: “U het my die droë Suidland gegee. Wil u nie ook as huweliksgeskenk vir my goeie waterbronne gee nie?” Hy het toe vir haar fonteine op die heuwels en die vlakte gegee.

Die stede in die gebied van Juda

20. Hierdie is die gebied wat die families in die stam van Juda as erfdeel ontvang het:

21. Die mees suidelike stede wat aan hulle behoort het, dit is nou dié teen die grens van Edom, was Kabseël, Eder, Jagur,

22. Kina, Dimona, Adada,

23. Kedes, Gasor, Jitnan,

24. Sif, Telem, Bealot,

25. Gasor-Gadatta, Kerijot-Gesron, dit is Gasor,

26. Amam, Sema, Molada,

27. Gasar-Gadda, Gesmon, Bet-Pelet,

28. Gasar-Sual, Berseba, Bisjoteja,

29. Baäla, Ije-Abarim, Esem,

30. Eltolad, Kesil, Gorma,

31. Siklag, Madmanna, Sansanna,

32. Lebaot, Silgim, Ajin en Rimmon, altesaam 29 stede saam met al hulle omliggende dorpe.

33. Teen die voet van die berg was daar Estaol, Sora, Asna,

34. Sanoag, En-Gannim, Tappuag, Enajim,

35. Jarmut, Adullam, Soko, Aseka,

36. Saärajim, Aditajim, Gedera en Gederotajim, veertien stede met hulle omliggende dorpe,

37. Senan, Gadasa, Migdol-Gad,

38. Dilan, Mispe, Jokteël,

39. Lakis, Boskat, Eglon,

40. Kabbon, Lagmas, Kitlis,

41. Gederot, Bet-Dagon, Naäma, Makkeda, sestien stede met hulle aanliggende dorpe,

42. Libna, Eter, Asan,

43. Jiftag, Asna, Nesib,

44. Keïla, Aksib, Maresa, nege stede met hulle omliggende dorpe,

45. Ekron met sy buitestede en omliggende dorpe,

46. wes van Ekron al die stede in die omgewing van Asdod, met hulle omliggende dorpe,

47. Asdod met sy buitestede en omliggende dorpe, en Gasa met sy buitestede en omliggende dorpe tot die Egiptespruit en die kus van die Middellandse See.

48. In die bergagtige gebied was daar Samir, Jattir, Soko,

49. Danna, Kirjat-Sanna, dit is Debir,

50. Anab, Estemoa, Anim,

51. Gosen, Golon, Gilo, elf stede met hulle omliggende dorpe,

52. Arab, Duma, Esan,

53. Janum, Bet-Tappuag, Afeka,

54. Gumta, Kirjat-Arba, dit is Hebron, en Sior, nege stede met hulle omliggende dorpe,

55. Maon, Karmel, Sif, Jutta,

56. Jisreël, Jokdeam, Sanoag,

57. Kajin, Giba, Timna, tien stede met hulle omliggende dorpe,

58. Galgul, Bet-Sur, Gedor,

59. Maärat, Bet-Anot, Eltekon, ses stede met hulle omliggende dorpe,

60. Kirjat-Baäl, dit is Kirjat-Jearim, en Rabba, twee stede met hulle omliggende dorpe.

61. In die woestyn was daar Bet-Araba, Middin, Sekaka,

62. Nibsan, Ir-Melag en En-Gedi, ses stede met hulle omliggende dorpe.

63. Die mense van Juda kon dit egter nie regkry om die inwoners van Jerusalem, die Jebusiete, uit hulle stad te verdryf nie. Daarom het hulle saam met die mense van Juda daar bly woon.