hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 4 Die Boodskap (DB)

Twee herinneringstekens word opgerig

1. Toe die hele volk veilig deur die Jordaan is, het die Here vir Josua gesê:

2-3.  “Kies nou twaalf mense, een uit elke stam. Sê vir hulle om twaalf klippe uit die middel van die Jordaan, daar waar die priesters gestaan het, te gaan haal. Laat hulle hierdie klippe na die plek toe bring waar julle vannag kamp opslaan en laat hulle die klippe daar neersit.”

4. Josua roep toe die twaalf wat hy gekies het bymekaar

5. en sê vir hulle: “Loop tot in die middel van die Jordaan, by die ark van die Here verby. Daar moet julle elkeen ’n klip optel en dit op julle skouers uitdra, een klip vir elkeen van die twaalf stamme.

6. Hierdie klippe sal die mense herinner aan wat die Here gedoen het. As julle kinders dan eendag vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir julle?’

7. kan julle vir hulle vertel dat die water van die Jordaan ophou vloei het toe die verbondsark van die Here daardeur is. En dat hierdie klippe vir die Israeliete ’n permanente herinnering aan hierdie wonderwerk is.”

8. Die mense het toe Josua se opdrag uitgevoer. Hulle het twaalf klippe, volgens die Here se opdrag aan Josua, in die middel van die Jordaan gaan optel, een vir elke stam. Hulle het hierdie klippe na hulle oornagkampplek toe gevat en daar neergesit.

9. Josua het toe nog ’n herinneringsteken van twaalf klippe in die middel van die Jordaan opgerig op die plek waar die priesters met die verbondsark gestaan het. (Volgens oorlewering is hulle tot vandag toe nog daar.)

10. Die priesters wat die verbondsark gedra het, het in die middel van die Jordaan bly staan totdat al die Here se opdragte, wat Moses vir Josua gegee het, afgehandel was. Die volk het intussen vinnig deur die droë rivier na die oorkant toe gegaan.

11. Eers toe die hele volk deur is, het die priesters hulle met die ark van die Here gevolg.

12. Die groepe soldate uit die stam van Ruben en Gad, asook die halwe stam van Manasse, het eerste deurgegaan, soos Moses vroeër beveel het.

13. Ongeveer 40  000 van hierdie manne was reg om oorlog te maak. Hulle het deurgetrek na die vlaktes van Jerigo toe. Die Here was by hulle.

14. Die groot dinge wat die Here daardie dag deur Josua gedoen het, het die volk groot respek vir Josua laat kry. Hulle het hom, net soos vir Moses, met eerbied behandel vir die res van sy lewe.

15. Die Here het vir Josua gesê:

16. “Laat die priesters wat die ark met die getuienis dra nou uit die Jordaan uitkom.”

17. Josua het dit toe gedoen.

18. Toe die priesters wat die verbondsark gedra het, aan die ander kant van die rivier uitklim, het dit weer soos voorheen begin vloei en sy walle oorstroom.

19. Dit het alles gebeur op die tiende dag van die eerste maand. Die volk het kamp opgeslaan by Gilgal, oos van Jerigo.

Josua leer die volk

20. Josua het die twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan gebring het by Gilgal op mekaar gepak

21. en vir die Israeliete gesê: “As julle kinders eendag vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie klippe?’

22. kan julle vir hulle sê: ‘Hier is Israel droogvoets deur die Jordaan.’

23. Die Here julle God het die Jordaan se water voor julle laat opdroog sodat julle kon deurstap sonder dat julle voete nat word. Dit is presies soos Hy vroeër met die Rietsee gemaak het toe Hy dit voor ons laat opdroog het sodat ons kon deurgaan.

24. Die Here het hierdie wonderwerk gedoen sodat al die volke van die aarde kan weet hoe magtig Hy is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien en eer.”