hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 10 Die Boodskap (DB)

Vyf Amoritiese konings span

1. Koning Adoni-Sedek van Jerusalem het gehoor dat Josua Ai verower en heeltemal vernietig het en dat hy die koning van Ai doodgemaak het, net soos hy met Jerigo en sy koning gedoen het. Hy het ook gehoor dat die Gibeoniete vrede gemaak het met die Israeliete en nou by hulle bly.

2. Dit het die mense van Jerusalem baie bang gemaak, want Gibeon was ’n groot stad net soos enigeen van die ander koninklike stede; dit was selfs groter as Ai en die soldate van dié stad was baie goeie vegters.

3. Koning Adoni-Sedek van Jerusalem stuur toe die volgende boodskap aan koning Hoham van Hebron, koning Piram van Jarmut, koning Jafia van Lakis en koning Debir van Eglon:

4. “Kom help my om Gibeon aan te val en te vernietig, want hulle het ’n vredesverdrag met Josua en die Israeliete gesluit.”

5. Toe het hierdie vyf Amoritiese konings, die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon, hulle magte saamgesnoer en Gibeon aangeval.

6. Die mense van Gibeon het dadelik boodskappers na Josua toe gestuur waar hy in die kamp by Gilgal was en vir hom gesê: “Moet julle dienaar asseblief nie nou in die steek laat nie! Kom gou! Kom red ons! Al die Amoritiese konings van die berggebiede het saamgespan en ons aangeval!”

7. Josua en al sy soldate het hulle dadelik te hulp gesnel, hy en sy soldate en al die dapper manne.

8. Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie. Die oorwinning is joune. Nie een van hulle sal teen jou kan bly staan nie.”

9. Josua het die Amoriete onkant gevang, want hy en sy soldate het die hele nag deur getrek van Gilgal af.

10. Toe die Amoriete die Israelitiese soldate sien, het die Here hulle paniekbevange gemaak. Die Israeliete het hulle daar by Gibeon verslaan. Toe hulle op die vlug slaan, het die Israeliete hulle agternagesit deur die bergpas by Bet-Goron en hulle bly uitroei tot by Aseka en Makkeda.

11. Terwyl die Amoriete langs die bergpas by Bet-Goron af vir die Israeliete gevlug het, het die Here groot haelstene uit die lug op hulle laat neerreën. Hierdie hael het aangehou tot by Aseka en meer van hulle doodgemaak as Israel se soldate.

Die son en maan staan stil

12. Op die dag waarop die Here aan Israel die oorwinning oor die Amoriete gegee het, het Josua voor die manskappe vir die Here hulp gevra en gesê: “Son, staan asseblief stil oor Gibeon en maan, oor die vallei van Ajalon.”

13. Toe het die son en maan nie beweeg nie totdat die volk hulle vyande verslaan het. So is dit ook opgeteken in die Boek van die opregte. Die son het in die middel van die hemel bly staan, vir byna ’n volle dag, en nie soos op ’n gewone dag ondergegaan nie.

14. Dit het nooit voor hierdie dag of ooit weer daarna gebeur nie. Maar op daardie dag het die Here na ’n mens se versoek geluister en dit gedoen omdat Hy vir Israel die oorwinning wou gee.

15. Hierna is Josua en sy soldate terug na die kamp toe in Gilgal.

Die vyf Amoritiese konings se dood

16. Die vyf Amoritiese konings het egter gevlug en in ’n grot by Makkeda gaan wegkruip.

17. Toe Josua hoor dat iemand hulle wegkruipplek gekry het,

18. sê hy: “Rol groot klippe voor die ingang van die grot en kry mense om dit te bewaak.

19. Die res van julle agtervolg julle vyande en maak hulle dood, moenie toelaat dat hulle by hulle stede uitkom nie. Die Here julle God het hulle in julle mag oorgegee.”

20. Die Israelitiese soldate het hulle omtrent almal uitgeroei behalwe ’n paar wat weggekom het en in hulle versterkte stede gaan wegkruip het.

21. Daarna is Josua se soldate almal veilig na hom toe terug waar hy by Makkeda gewag het. Daarna het niemand dit weer gewaag om iets teen die Israeliete te sê nie.

22. Toe sê Josua: “Vat die klippe weg en bring die vyf konings uit na my toe.”

23. Hulle het dit toe gedoen en die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon uit die grot uitgebring na Josua toe.

24. Hy roep toe al die manskappe nader en sê vir sy offisiere: “Kom hier, kom sit julle voete op die konings se nekke as teken dat hulle verslaan en verneder is.” Die offisiere het dit toe gedoen.

25. Toe sê Josua vir hulle: “Moenie bang of bekommerd wees nie. Maar wees sterk en vasberade, want dit is presies wat die Here vorentoe met al julle vyande gaan doen.”

26. Daarna het Josua die konings doodgemaak, elkeen van hulle aan ’n boom laat ophang en hulle daar laat hang tot die aand toe.

27. Met sononder is hulle op Josua se bevel van die bome afgehaal en in die grot gegooi waarin hulle vroeër weggekruip het. Die ingang van die grot is toe met groot klippe toegepak as ’n blywende herinneringsteken.

Israel vernietig die suidelike stede

28. Daardie selfde dag het Josua Makkeda ook ingeneem en verwoes. Hy het die mense en hulle koning doodgemaak. Alles in die stad is uitgeroei. Daar het niks oorgebly nie. Die koning van Makkeda is, net soos die koning van Jerigo, ook doodgemaak.

29. Van Makkeda af is Josua en sy soldate na Libna toe en het dié ook aangeval.

30. Die Here het ook vir Israel ’n oorwinning oor hierdie stad laat behaal. Hulle het niemand se lewe gespaar nie. Ook die koning van Libna is doodgemaak.

31. Van Libna af is Josua en sy soldate na Lakis toe. Hy het sy soldate die stad laat omsingel en dit aangeval.

32. Op die tweede dag van die stryd het die Here Lakis in Israel se mag oorgegee. Net soos by Libna het hulle ook almal in die stad doodgemaak.

33. Gedurende die geveg het koning Horam van Geser saam met sy troepe vir Lakis te hulp gesnel. Maar Josua se manskappe het hom en al sy soldate tot die laaste man toe doodgemaak.

34. Van hier af het Josua en die volk verder getrek na Eglon toe. Daar aangekom, het hulle dit omsingel en toe aangeval.

35. Hulle het die stad nog dieselfde dag ingeneem en almal daarin doodgemaak. Net soos in Lakis se geval, het hy alles en almal in die stad vernietig.

36. Van hier af het hulle opgetrek na die berggebied van Hebron toe. Hulle het dié stad ook aangeval

37. en dit ingeneem. Hulle het die koning en al sy mense asook die mense van al die omringende dorpe doodgemaak. Josua het die stad, net soos vir Eglon, totaal vernietig. Niks en niemand is gespaar nie.

38. Daarna het hulle teruggedraai na Debir toe en die stad aangeval.

39. Josua het die stad ingeneem, die koning en al die inwoners van die omringende dorpe doodgemaak en al die mense in die stad uitgeroei. Net soos in die geval van Libna en Hebron het Josua Debir ook heeltemal vernietig. Niemand het weggekom nie.

40. Josua het die hele gebied verower: die berggebiede met hulle volke en konings, die woestynagtige suidelike gebiede, die vlaktestreke en ook die oostelike hange by die Dooie See. Hy het niemand se lewe gespaar nie, maar hulle voor die voet uitgeroei, soos die Here, die God van Israel beveel het.

41. Josua se oorwinningstog het hom van Kades-Barnea in die suide tot by Gasa naby die kus geneem. Dit sluit ook die gebied van Gosen in en selfs so ver noord as Gibeon.

42. Josua het al hierdie konings en hulle gebiede in een veldtog oorwin, omdat die Here die God van Israel aan Israel se kant geveg het.

43. Daarna is Josua en al sy soldate terug na die kamp toe by Gilgal.