hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 24 Die Boodskap (DB)

Die byeenkoms by Sigem

1. Josua het al die stamme van Israel by Sigem bymekaar laat kom. Toe het hy al die leiers van Israel, die hoofde, die regters en die ampsdraers by die heiligdom in die teenwoordigheid van God laat vergader.

2. Toe sê Josua vir die volk: “So sê die Here die God van Israel: Lank gelede het julle voorouers aan die oorkant van die Eufraat gewoon. Daar het hulle ’n klomp vreemde gode aanbid. Een van daardie voorouers was Tera, Abraham en Nahor se pa.

3. Ek het julle voorvader Abraham uit die gebied anderkant die Eufraat laat wegtrek en hom die hele land Kanaän laat deurtrek. Ek het vir hom ’n groot nageslag gegee. Sy seun was Isak.

4. Isak het twee seuns, Esau en Jakob, gehad. Vir Esau het Ek die bergagtige gebied van Seïr gegee om in te bly, maar vir Jakob en sy kinders het Ek na Egipte toe laat trek.

5. “Later het Ek vir Moses en Aäron na Egipte toe gestuur en die land met ’n klomp plae getref, maar vir julle het Ek as vry mense daar laat wegtrek.

6. Ek het julle voorouers uit Egipte gelei, maar die Egiptenaars het hulle met strydwaens en gewapende perderuiters agtervolg. Toe hulle by die Rietsee aankom,

7. het hulle my hulp gevra om daar deur te trek. Ek het dit toe donker laat word tussen hulle en die Egiptenaars. Julle het met julle eie oë gesien hoe Ek die Egiptenaars in die Rietsee laat verdrink het. Daarna het Ek julle in die woestyn laat intrek, waar julle lank gebly het.

8. “Toe het Ek julle in die Amoriete se land, aan die oostekant van die Jordaan, laat intrek. Hulle wou teen julle oorlog maak, maar Ek het klaar vir julle die oorwinning gegee. Julle kon hulle land vir julle vat.

9. Daarna wou die koning van Moab, Balak die seun van Sippor, teen julle oorlog maak. Hy het toe vir Bileam die seun van Beor gevra om julle te vervloek.

10. Maar Ek het nie na Bileam geluister nie. Trouens, Ek het hom gedwing om julle te seën en so het Ek julle van Balak verlos.

11. “Van daar af het julle deur die Jordaan getrek tot by Jerigo, waar hulle teen julle oorlog gemaak het. Buiten hulle was daar ook die Amoriete, die Feresiete, die Kanaäniete, die Hetiete, die Girgasiete, die Hewiete en die Jebusiete wat teen julle oorlog gemaak het. Maar deur my toedoen het julle hulle almal verslaan.

12. Daarom, toe die twee Amoritiese konings hoor dat julle op pad is, het hulle klaar moed opgegee. Dit was nie omdat hulle bang was vir julle swaarde en pyle en boë nie, maar omdat Ek aan julle kant was.

13. Ek het vir julle ’n land gegee waarvan julle nie die lande bewerk het of die stede gebou het nie. Vandag bly julle in daardie stede en eet julle druiwe van wingerde en olywe van olyfbome wat julle nie self geplant het nie.

14. “Daarom,” het Josua gesê, “eer nou die Here en dien Hom met alles binne-in julle. Raak ontslae van die afgode wat julle voorouers in Mesopotamië en in Egipte gedien het en dien die Here!

15. As julle nie bereid is om die Here voluit te dien nie, besluit dan hier en nou wie julle wil dien: die gode wat julle voorouers in Mesopotamië aanbid het of die gode van die Amoriete, in wie se land julle nou bly. Wat my en my gesin betref, ons het ons keuse klaar gemaak, ons gaan die Here dien.”

16. Toe sê die volk: “Ons dink nie vir ’n enkele oomblik daaraan om ons rug vir die Here te draai en ander gode te dien nie!

17. Die Here ons God het ons en ons voorouers van al die swaarkry daar in Egipte bevry. Ons het al die magtige wonders wat Hy gedoen het, met ons eie oë gesien. Die Here het ons beskerm, maak nie saak waar ons was of met watter mense ons te doen gekry het nie.

18. Dit is Hy wat die Amoriete en al die ander nasies wat in hierdie land gebly het, verdryf het. Ons gaan beslis ook die Here dien; Hy is ons God!”

19. Toe sê Josua vir die volk: “Julle moenie dink dit is so maklik om die Here te dien nie. Hy is ’n heilige God wat sy groot Naam beskerm. Hy verwag dat mense Hom reg moet dien. Hy gaan nie maar net elke keer julle sonde en julle opstandigheid oorsien nie.

20. As julle julle rug vir die Here draai en agter ander gode aanloop, sal Hy teen julle draai en julle baie swaar laat kry, ten spyte daarvan dat Hy nog altyd net goed was vir julle. Hy sal julle vernietig.”

21. “Glo ons, ons is vasberade om die Here te dien!” het die volk geantwoord.

22. “Onthou, julle is self verantwoordelik vir hierdie besluit,” het Josua toe vir hulle gesê. “Dit is julle eie keuse om die Here te dien. Julle sal self daarvoor moet instaan.”“Dit is goed so,” het die volk geantwoord.

23. “Nou goed, dan moet julle onmiddellik ontslae raak van al hierdie vreemde gode wat nog onder julle is,” het Josua geantwoord. “Sweer trou aan die Here, die God van Israel.”

24. “Ons sal die Here ons God dien en luister as Hy met ons praat,” het die volk gesê.

25. Toe het Josua daardie dag by Sigem ’n ooreenkoms tussen die volk en die Here gesluit.

26. Hy het al die voorwaardes van hierdie ooreenkoms in die Wetboek van God neergeskryf. Om die volk aan hierdie ooreenkoms te herinner het Josua ’n groot klip gevat en dit onder die groot eikeboom langs die tabernakel neergesit.

27. Toe sê hy vir die volk: “Hierdie klip is die getuie van alles wat die Here vir ons gesê het. As julle nie julle woord hou nie, sal hierdie klip God se getuie teen julle wees.”

28. Daarna het Josua hulle almal huis toe gestuur.

Josua en Eleasar sterf

29. Nie lank hierna nie is die dienaar van die Here, Josua die seun van Nun, op die ouderdom van 110 jaar oorlede.

30. Hulle het hom op sy eie grond in Timnat-Serag op die berge van Efraim, regoor die Gaäsberge, begrawe.

31. Gedurende Josua se leeftyd het Israel die Here bly dien. Na sy dood het hulle dit nog bly doen terwyl die leiers, wat alles self ervaar het wat die Here vir hulle gedoen het, nog geleef het.

32. Die volk het Josef se liggaam wat hulle uit Egipte saamgebring het, in Sigem begrawe op die stuk grond wat Jakob by die kinders van Gamor, die vader van Sigem, vir 100 stukke silwer gekoop het. Josef se nageslag het daar gebly.

33. Aäron se seun Eleasar het ook gesterf. Hy is begrawe in die bergagtige gebiede van Efraim op Gibea, die dorp wat aan sy seun Pinehas behoort het.