hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 3 Die Boodskap (DB)

Die volk loop droogvoets deur die Jordaan

1. Vroeg die volgende môre het Josua en die Israeliete hulle goed opgepak en van Sittim af getrek tot by die Jordaan. Daar het hulle kamp opgeslaan terwyl hulle gewag het om die rivier oor te steek.

2. Drie dae later het die beamptes deur die kamp gegaan

3. en vir die mense gesê: “Wanneer julle sien dat die Levitiese priesters die verbondsark van die Here julle God dra, moet julle oppak en hulle volg.

4. Hulle sal vir julle wys waarheen om te gaan omdat julle nog nie voorheen hierlangs getrek het nie. Maar sorg dat daar ’n behoorlike afstand tussen julle en die verbondsark is, ten minste 900 meter.”

5. Toe sê Josua vir die volk: “Bely julle skuld voor die Here en sorg dat julle verhouding met Hom reg is, want môre gaan die Here wonders onder julle doen.”

6. Die volgende môre het Josua die priesters beveel om die verbondsark op te tel en die volk die land in te lei.

7. Toe sê die Here vir Josua: “Wat Ek vandag gaan doen, sal maak dat al die mense na jou sal opsien as ’n groot leier. Hulle sal weet dat Ek by jou is soos Ek by Moses was.

8. Sê vir die priesters wat die verbondsark dra dat hulle by die Jordaan se kant, in die rivier, moet wag as hulle daar aankom.”

9. Josua roep toe die Israeliete nader en sê vir hulle: “Kom hoor ’n bietjie wat die Here julle God vir julle te sê het.

10. Soos julle die land intrek, sal Hy die Kanaäniete, Hetiete, Hewiete, Feresiete, Girgasiete, Amoriete en Jebusiete voor julle uitdryf om vir julle plek te maak. Dan sal julle weet dat die lewende God saam met julle is.

11. Die verbondsark van die Here wat oor die hele aarde heers, wat voor julle uit deur die Jordaanrivier gaan, bewys dit.

12. Intussen moet julle solank vir julle twaalf mense as julle verteenwoordigers kies, een uit elke stam.

13. Sodra die priesters wat die verbondsark dra hulle voete in die water sit, sal die Jordaan ophou vloei. Dan sal die rivier aan die een kant opdam.”

14. Die volk het kamp opgebreek en gereedgemaak om deur die Jordaan te trek, met die priesters wat die verbondsark dra aan die voorpunt.

15. Soos gewoonlik in die oestyd was die Jordaan tot oorlopens toe vol. Toe die voete van die priesters wat die ark van die ooreenkoms met die Here gedra het, aan die water raak,

16. het die water dadelik opgehou vloei. Dit het aan die bopunt by Adam, die dorp naby Sartan, begin opdam. Aan die onderpunt van die Jordaan het die water bly wegvloei na die Dooie See toe totdat die rivier opgedroog het. Daarna het die volk regoor Jerigo deur die rivier begin trek.

17. Intussen het die priesters wat die verbondsark van die Here gedra het in die middel van die droë rivierbedding bly staan terwyl die volk deurgetrek het. Hulle het daar bly staan totdat almal uiteindelik deur die Jordaan gestap het.