hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 14 Die Boodskap (DB)

Abram red vir Lot en ontmoet vir Melgisedek

1. Op ’n dag het Amrafel (die koning van Sinar), Arjok (die koning van Ellasar), Kedorlaomer (die koning van Elam) en Tidal (die koning van Gojim) besluit om oorlog te maak teen

2. Bera (die koning van Sodom), Birsa (die koning van Gomorra), Sinab (die koning van Adma), Semeber (die koning van Sebojim), en Soar (die koning van Bela).

3. Bera en die ander konings het toe ’n bondgenootskap gevorm en in die Siddimvlakte (vandag is dit die Soutsee) bymekaargekom.

4. Twaalf jaar lank moes hulle Kedorlaomer dien, maar in die dertiende jaar het hulle net besluit om te rebelleer.

5. ’n Jaar later het Kedorlaomer en sy bondgenote met ’n militêre veldtog begin. Blitssnel het hulle die Refaïete in Asterot-Karnajim, die Sussiete in Ham, die Emiete in die Kirjatajimvlakte

6. en die Goriete in die Seïrberge tot by El-Paran aan die randjie van die woestyn vernietig.

7. Toe het hulle vinnig omgedraai en na die fontein van Oordeel (dit is Kades) teruggekeer. Kedorlaomer-hulle het onverwags op die Amalekiete toegeslaan en hulle gebied verower. Al die Amoriete wat destyds in Gaseson-Tamar gewoon het, is ook onderwerp.

8. Toe die konings van Sodom, Gomorra, Adma, Sebojim en Bela (dit is Soar) van Kedorlaomer-hulle se opmars hoor, het hulle in die Siddimvlakte bymekaargekom en vinnig hulle troepe vir die geveg opgestel.

9. Teenoor hulle het die gevegsmagte van koning Kedorlaomer van Elam, koning Tidal van Gojim, koning Amrafel van Sinar, en koning Arjok van Ellasar stelling ingeneem. Hierdie vier konings moes toe teen die ander vyf se magte veg.

10. Kedorlaomer-hulle het gou die oorhand gekry en die mense het begin vlug. Oral in die Siddimvlakte was daar asfaltgate, en soos die mense gevlug het, het hulle daarin geval. Sodom en Gomorra se konings het ook daarin geval. Die res het berge toe gevlug.

11. Daarna het Kedorlaomer-hulle op Sodom en Gomorra toegesak en alles gevat. Hulle het al die kos weggevat en sommer ook ’n klomp mense saam met hulle geneem.

12. Een van hierdie mense was Lot, die broerskind van Abram. Hy het destyds in Sodom gebly. Hulle het al sy besittings gevat en hom gedwing om saam met hulle te gaan.

13. Iemand wat die geveg oorleef het, het vir Abram van Lot gaan vertel. Abram het in dié tyd by die groot bome van die Amoriet Mamre, ’n broer van Eskol en Aner, uitgekamp. Hierdie mense was Abram se bondgenote.

14. Toe Abram hoor dat sy broerskind gevang is, het hy onmiddellik opgetree. Hy het 318 van sy eie werkers geneem en die vyand in die rigting van Dan agtervolg.

15. In die nag het Abram sy manne stilletjies ontplooi en onverwags op die Kedorlaomermanne toegesak. Hulle het die vyand byna vernietig en die vlugtendes tot so ver as Hoba, noord van Damaskus, agternagesit.

16. Abram het sy broerskind, Lot, gou opgespoor en hom met al sy besittings teruggebring. Abram kon ook al die besittings sowel as al die vroue en kinders wat Kedorlaomer se manne gevat het, terugkry.

17. Nadat Abram vir Kedorlaomer en sy bondgenote verslaan het, was hy weer op pad huis toe. Naby die Sawevallei (dit is die Koningsvallei) het hy skielik die koning van Sodom gesien. Hy het gekom om vir Abram dankie te sê.

18. Nog ’n ent verder het Abram vir Melgisedek ontmoet. Hy was die koning van Salem en ’n priester van die allerhoogste God. Hy het vir Abram kos en wyn gegee, hom geseën en toe gesê:

19. “Die allerhoogste God, die Skepper van hemel en aarde,is naby jou en sal jou gelukkig maak.

20. Loof Hom, die allerhoogste God, wat jou van jou vyande gered het.”Abram was so aangegryp dat hy Melgisedek ’n tiende van alles gegee het.

21. Die koning van Sodom het toe vir Abram gesê: “Jy kan al die buit vir jou hou, maar gee die mense vir my terug.”

22. Abram het toe vir die koning van Sodom gesê: “Nooit aste nimmer nie. Ek het by die Here, die allerhoogste God, die Skepper van die hemel en die aarde, gesweer dat ek niks van u sal vat nie,

23. nie eers ’n garingdraad of ’n skoenveter nie. Nooit mag u sê dat u my ryk gemaak het nie.

24. Behalwe vir die kos wat my manne geëet het, vra ek niks nie. Maar Aner, Eskol, Mamre en al die ander manne wat my gehelp het, moet hulle deel kry.”