hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 28 Die Boodskap (DB)

1. Isak het Jakob toe geroep en vir hom gesê: “Moet tog nie met een van hierdie Kanaänitiese vroue trou nie.

2. Gaan liewers na jou oupa Betuel toe. Hy woon in Paddan-Aram. Loop trou eerder met een van jou oom Laban, jou ma se broer, se dogters.

3. En mag die almagtige God jou help. Mag Hy by jou wees en mag jy baie kinders hê. En mag jou nageslag so groot wees dat julle sommer ’n groot volk sal word.

4. Mag die Here so naby aan jou en jou nageslag wees soos Hy vroeër naby aan Abraham was. En mag die Here vir jou die land gee waarop jy nou as vreemdeling loop; die land wat die Here destyds al aan Abraham beloof het.”

5. Isak het sy seun gegroet en Jakob is daar weg. Hy het reguit koers gekies Paddan-Aram toe. Hy was op pad na sy oom Laban toe. Laban was die seun van Betuel, die Arameër en die broer van Rebekka, Jakob en Esau se ma.

Esau vat ’n ander vrou

6. Esau was van alles bewus. Hy het gesien toe Isak vir Jakob gegroet het. Hy het gehoor hoe sy pa vir Jakob geseën het en vir hom gesê het om tog nie met ’n Kanaänitiese vrou te trou nie.

7. Dit het hom opgeval hoe gehoorsaam Jakob aan sy ouers was, want hy het sy goed gevat en Paddan-Aram toe gegaan.

8. Esau het hieroor nagedink en besef dat sy Kanaänitiese vroue vir sy pa ’n bitter ding is.

9. Hy het besluit om na sy oom Ismael toe te gaan. Ismael was ’n ander seun van Abraham by ’n Egiptiese vrou, Hagar. Esau het reeds vroue gehad, maar het toe ook nog met Ismael se dogter Magalat getrou. Sy was die suster van Nebajot.

Jakob se droom

10. Jakob het Berseba verlaat en Haran toe gegaan.

11. Teen die aand se kant het hy by ’n plek gekom en besluit om sommer daar te oornag. Hy het een van die klippe wat daar rondgelê het, geneem en dit as kussing gebruik. Toe het hy net daar gaan lê en aan die slaap geraak.

12. Wat ’n droom het hy nie gehad nie! Daar was ’n baie lang leer, van die grond tot bo by die hemel. Die engele van God het op en af met die leer geklim.

13. Skielik het die Here daar by hom gestaan en met hom gepraat: “Jakob, Ek is die Here, die God van jou oupa Abraham en jou pa, Isak. Die grond waarop jy nou lê en slaap, sal Ek eendag vir jou en jou nageslag gee.

14. Jou nageslag sal so ontelbaar wees soos die stof van die aarde. Hulle sal ook oral oor die aarde wees, in die weste en die ooste, in die noorde en die suide. Oor die hele wêreld sal dit met mense goed gaan omdat hulle deel van jou en jou nageslag is.

15. Onthou een ding, Jakob: Ek is by jou. Ek gaan saam met jou waar jy ook al gaan. Eendag sal Ek jou weer na hierdie plek en hierdie land terugbring. Ek sal jou nie los voordat Ek al my beloftes aan jou waar gemaak het nie.”

16. Jakob het wakker geskrik en verdwaas om hom rondgekyk. Hy sê toe: “Die Here is op hierdie plek. Hy bly hier en ek het dit nie eens geweet nie.”

17. Vreesbevange sê hy toe: “Dis ’n verskriklike plek hierdie. Dis niks anders as die Here se blyplek nie. Daar waar ek geslaap het, begin die poort na die hemel toe.”

18. Vroeg die volgende oggend het Jakob sy klipkussing gevat en dit regop gesit. Dit het toe soos ’n pilaar gelyk en hy het olie daarop uitgegiet.

19. Jakob het die naam van die plek verander. Voorheen is die dorp Lus genoem, maar hy het dit na Bet-El verander. Dit beteken “Huis van God”.

20. Jakob het ook ’n gelofte afgelê: “As God werklik by my sal wees, my op die pad na Paddan-Aram sal beskerm, my kos en klere sal gee

21. en my weer veilig na my ouers sal laat terugkeer, sal die Here ook my God wees.”

22. Verder het hy gesê: “Die klip wat ek hier regop gesit het en wat soos ’n pilaar lyk, sal ’n simbool van die Here se teenwoordigheid wees. En, Here, van alles wat U my gee, sal ek ’n tiende aan U teruggee.”