hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 46 Die Boodskap (DB)

Jakob gaan na Egipte toe

1. So het dit dan gebeur dat Israel en al sy mense met hulle besittings Kanaän verlaat en Egipte toe getrek het. Op pad het hy by Berseba verbygetrek, waar hy eers stilgehou en geoffer het. Hy het ’n offer gebring vir dieselfde God wat sy pa, Isak, aanbid het.

2. Daardie nag by Berseba het God in ’n visioen met Israel gepraat. Hy het hom geroep: “Jakob, Jakob,” en Israel het geantwoord: “Hier is ek, Here.”

3. God sê toe vir hom: “Ek is God, die God van jou pa, Isak. Moenie bang wees om Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar ’n groot nasie maak.

4. Ek trek saam met jou Egipte toe en eendag sal Ek jou weer laat terugkom. Josef sal vir jou sorg en wanneer jy die dag doodgaan, sal hy jou oë toedruk.”

5. Jakob-hulle is ’n dag of wat later uit Berseba weg. Die seuns het Jakob, asook al die vroue en kinders, in die mooi Egiptiese waens van die farao gelaai.

6. Hulle het ook die veekuddes en al die besittings saamgevat wat hulle oor die jare in Kanaän bymekaargemaak het. Na ’n lang ruk het Jakob en al sy mense in Egipte aangekom.

7. Saam met hom was nie net sy seuns nie, maar ook sy kleinseuns. So ook al sy dogters en kleindogters. Ja, Jakob het al sy kinders en sy hele familie Egipte toe geneem.

8. Hier is die name van al Israel se kinders wat destyds saam met hom Egipte toe is. Daar was Jakob en sy oudste seun, Ruben,

9. asook Ruben se seuns Ganok, Pallu, Gesron en Karmi.

10. Simeon en sy seuns Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar en Saul, seun van ’n Kanaänitiese vrou.

11. Levi en sy seuns Gerson, Kehat en Merari.

12. Juda en sy seuns Sela, Peres en Serag. Juda se ander seuns, Er en Onan, het lank vantevore al in Kanaän gesterf. Peres se seuns was Gesron en Gamul.

13. Issaskar en sy seuns Tola, Puwwa, Jasub en Simron.

14. Sebulon en sy seuns Sered, Elon en Jagleël.

15. Dit is die seuns wat Lea destyds nog vir Jakob in Paddan-Aram in die wêreld gebring het. Sy het ook ’n dogter, Dina, gehad. Hulle was altesaam 33.

16. Gad en sy seuns Sifjon, Gaggi, Suni, Esbon, Eri, Arod en Areli.

17. Aser en sy seuns Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria en hulle suster, Serag. Die seuns van Beria was Geber en Malkiël.

18. Dit is die seuns wat Silpa vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Silpa vir sy dogter Lea gegee. Hulle was altesaam sestien.

19. Josef en Benjamin was die seuns van Jakob se vrou Ragel.

20. In Egipte is daar twee seuns vir Josef gebore. Asenat, dogter van Potifera, priester van On, het hulle vir Josef in die wêreld gebring. Hulle was Manasse en Efraim.

21. Benjamin se seuns was Bela, Beker, Asbel, Gera, Naäman, Egi, Ros, Muppim, Guppim en Ard.

22. Dit is die seuns wat Ragel vir Jakob in die wêreld gebring het. Hulle was altesaam veertien.

23. Dan en sy seun Sugam.

24. Naftali en sy seuns Jagseël, Guni, Jeser en Sillem.

25. Dit is die seuns wat Bilha vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Bilha vir sy dogter Ragel gegee. Hulle was altesaam sewe.

26. Afgesien van die vroue van Jakob se seuns was daar 66 afstammelinge van Jakob wat na Egipte toe is.

27. In Egipte is daar reeds twee seuns vir Josef gebore. Jakob se afstammelinge was dus altesaam 70, en hulle was in Egipte.

Jakob en Josef ontmoet mekaar

28. Toe hulle naby Gosen was, het Jakob Juda gestuur om vir Josef te sê hulle is op pad.

29. Josef het dadelik sy wa ingespan en na sy pa toe gery. Josef was oorstelp van vreugde. Tussen die baie gesigte het hy sy pa s’n gesoek. Toe hy hom kry, het hy die ou man se lyf teen hom vasgedruk en hom gesoen. Josef het begin huil en lank met sy kop op Jakob se skouer gestaan.

30. Vir Jakob was die ontmoeting amper te oorweldigend. Toe hy uiteindelik kon praat, het hy net gesê: “Nou kan ek maar sterf, want ek weet Josef leef - ek het hom gesien.”

31. Josef het vir sy broers en sy hele familie gesê: “Ek gaan nou reguit na die farao toe om vir hom te vertel dat my familie uit Kanaän hier aangekom het.

32. Ek wil vir hom sê my broers boer met kleinvee en hulle het al hulle vee en hulle besittings saamgebring.

33. Wanneer die farao julle dan inroep en vra wat julle doen,

34. moet julle vir hom sê: ‘Ons is veeboere. Van die vroegste tye af tot vandag toe was ons en ons voorouers veeboere.’ As die farao dit hoor, sal hy julle in Gosen laat woon, want die Egiptenaars hou niks van kleinveeboere nie.”