hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 40 Die Boodskap (DB)

Josef lê die skinker en die bakker se drome uit

1. Na ’n ruk het die farao se skinker en bakker hulle koning kwaad gemaak.

2. Hy was so kwaad vir sy hoofskinker en hoofbakker dat hy hulle summier in die tronk gestop het.

3. Albei is ook onder die direkte toesig van die hoof van die tronkwag geplaas. Hulle het in dieselfde tronk as Josef beland.

4. Die hoof van die tronkwag het Josef aangesê om die twee te versorg.

5. Na ’n lang tyd in die tronk het die koning van Egipte se hoofskinker en hoofbakker een nag albei ’n droom gehad. Hulle het egter nie geweet wat dit beteken nie.

6. Toe Josef die volgende oggend by hulle kom, sien hy hulle is mismoedig.

7. Hy het toe vir hulle gevra: “Waarom lyk julle vandag so moedeloos?”

8. Hulle het hom geantwoord: “Ons al twee het gedroom, maar hier is niemand wat ons drome kan uitlê nie.”Josef het vir hulle gesê: “Net God kan ’n mens help om drome uit te lê. Vertel my wat julle gedroom het.”

9. Eers het die hoofskinker sy droom vertel. “In my droom,” het hy gesê, “het daar ’n wingerdstok voor my gestaan.

10. Aan die wingerdstok was daar drie ranke. Elke rank het skaars uitgeloop of dit staan in volle bloei en na ’n ruk het daar ryp trosse druiwe gehang.

11. Terwyl ek dan met die een hand die farao se beker vashou, het ek met die ander hand die ryp druiwe in die beker uitgedruk en dit vir die farao gegee.”

12. Josef het toe gesê: “Dit is wat jou droom beteken. Die drie ranke dui op drie dae.

13. Oor drie dae sal die koning jou alles vergewe en jy sal jou ou pos terugkry. Dan sal jy weer soos vroeër die beker vir die farao gee. Presies soos in die dae toe jy die hoofskinker was.”

14. Josef het toe die hoofskinker ’n groot guns gevra: “As dit later weer met jou goed gaan en jy onthou my dalk nog, sal ek bly wees as jy vir my ’n goeie woordjie by die farao sal doen.

15. Ek wil so graag uit hierdie plek kom, want ek hoort nie hier nie. Hulle het my met geweld uit my pa se land geneem en my hierheen gebring. Ek het niks verkeerds gedoen nie en ek verdien nie hierdie donker gat nie.”

16. Toe die bakker Josef se verklaring hoor, het hy opgewonde sy eie droom vir hom vertel. “In my droom,” het hy gesê, “was daar ook drie dinge. Daar was drie mandjies op my kop.

17. In die boonste mandjie was daar die allerheerlikste eetgoed wat net ’n bakker kan bak. Toe het die voëls gekom en hulle het die eetgoed van die boonste mandjie begin opvreet.”

18. Josef het geantwoord: “Dit is wat jou droom beteken. Die drie mandjies dui op drie dae.

19. Binne drie dae sal die farao jou kop optel en jou aan ’n paal ophang, en al die voëls sal die vleis van jou liggaam begin opvreet.”

20. En dit het presies so gebeur. Drie dae later het die farao verjaar en hy het ’n groot fees vir al sy onderdane gehou. Op die feesdag het die farao aan die hoofskinker en die hoofbakker gedink.

21. Die hoofskinker het weer sy ou werk teruggekry en weer die beker in die farao se hand gesit.

22. Die hoofbakker het hy egter laat ophang, net soos Josef gesê het.

23. Die hoofskinker het nie weer aan Josef gedink nie. Hy het heeltemal van hom vergeet.