hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29
  30. 30
  31. 31
  32. 32
  33. 33
  34. 34
  35. 35
  36. 36
  37. 37
  38. 38
  39. 39
  40. 40
  41. 41
  42. 42
  43. 43
  44. 44
  45. 45
  46. 46
  47. 47
  48. 48
  49. 49
  50. 50

Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 2 Die Boodskap (DB)

1. So het die hemel en die aarde en alles daarin ontstaan.

2. Op die sewende dag was alles klaar. Al God se werk was afgehandel. Op die sewende dag het Hy toe gerus van al die werk wat Hy gedoen het.

3. God het toe dié dag geseën en gesê dit moet afgesonder wees van die ander ses dae. Op die sewende dag het God nie gewerk nie, Hy het van die vorige dae se werk gerus.

4. Dit is dan die verhaal van die hemel en die aarde en hoe dit ontstaan het.Die dag toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, was alles op aarde kurkdroog.

Nog ’n skeppingsverhaal

5. Daar was nie ’n enkele plant in die grond nie en ook geen bossies in die veld nie. Alles was droog, want die Here God het nog nie reën op die aarde gestuur nie en daar was ook nog geen mens om die aarde te bewerk nie.

6. ’n Mistigheid het later vanuit die dieptes van die aarde opgekom en die grond natgemaak.

7. Toe het die Here God van die aarde se bogrond gevat en ’n mens daarvan gemaak. Hy het ook sy asem in die mens se neusgate geblaas en die mens het begin leef.

8. Die Here God het toe ’n tuin in Eden, in die ooste, geplant en die mens daar laat bly.

9. Die Here God het verskillende bome uit die vrugbare tuin se grond laat opkom; pragtige bome met heerlike vrugte wat lekker is om te eet. In die middel van die tuin het die boom van die lewe gestaan asook die boom van kennis van goed en kwaad.

10. ’n Groot rivier het binne-in Eden ontstaan en die hele tuin natgemaak. Daarvandaan het dit in vier takke verdeel.

11. Die naam van die een tak was die Pison. Dit het deur die land van Hawila gekronkel.

12. In Hawila was daar suiwer goud, balsem en oniks.

13. Die tweede rivier is die Gihon genoem. Dit het deur die land Kus geloop.

14. Die Tigris was die derde rivier. Dit is die een wat oos van Assur verbyloop. En die vierde rivier was die Eufraat.

15. Die Here God het die mens in die tuin gesit sodat hy dit kon bewerk en oppas.

16. Hy het ook vir die mens gesê: “Jy is welkom om van al die bome in die tuin te eet.

17. Daar is egter een boom waarvan jy nooit mag eet nie. Dit is die boom wat kennis gee van goed en kwaad. Die oomblik dat jy daarvan eet, word jou bestemming die dood.”

18. Die Here God het verder gesê: “Dit is nie reg dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan bystaan en hom kan help.”

19. Die Here God het elke soort dier uit die grond gemaak asook al die voëls van die hemel. Hy het hulle na die mens toe gebring sodat hy vir hulle name kon gee. Watter naam hy ook al gegee het, so is daardie dier en voël genoem.

20. Die man het toe name aan al die mak diere, al die voëls en al die wilde diere gegee. Nie een was egter goed genoeg om hom te help nie.

21. Die Here God het die mens toe diep laat slaap. Terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbes gevat en die oop stuk met vleis toegemaak.

22. Uit die rib van die mens het die Here God ’n vrou gevorm. Hy het haar na hom toe gebring.

23. Die mens het oorstelp van vreugde gesê: “Uiteindelik het ek iemand gekry wat net soos ek is en soos ek lyk, iemand met ’n liggaam net soos myne. Ek gaan haar ‘vrou’ noem, want sy is deel van my.”

24. Dit is waarom ’n man tot vandag toe sy ouerhuis verlaat om saam met die vrou van sy liefde te bly. Hulle liefde vir mekaar maak hulle een in liggaam en gees.

25. Hulle twee, die man en die vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam vir mekaar nie.