hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 5 Bybel vir Almal (ABA)

Dawid word koning ook oor Israel

1. Die leiers van al die stamme van Israel het na Dawid toe gekom in die stad Hebron en hulle het vir hom gesê: “Jy weet ons is jou mense.

2. Toe Saul ons koning was, het jy ook vir Israel in die oorlog gelei, en die Here het vir jou gesê:“Jy moet ’n herder weesvir my volk Israel,jy moet koning weesoor my volk Israel.”

3. Al die leiers van Israel het na die koning toe gekom in Hebron. Koning Dawid het met hulle ’n ooreenkoms gemaak by die tempel in Hebron. Hulle het vir Dawid gesalf om koning te wees oor Israel.

4. Dawid was 30 jaar oud toe hy koning geword het en hy was 40 jaar lank koning.

5. In Hebron het hy sewe jaar en ses maande regeer oor die Juda-stam en in Jerusalem het hy 33 jaar regeer oor die hele Israel en oor die Juda-stam.

Dawid oorwin die stad Jerusalem en hy gaan woon daar

6. Toe die koning en sy manne by Jerusalem gekom het, het die Jebusiete wat daar gewoon het, vir Dawid gesê: “Jy sal nie hier kan inkom nie. Mense wat swak is, sal jou kan keer, jy sal nie hier inkom nie, ja, mense wat nie kan sien nie en wat nie kan loop nie, sal jou keer.”Hulle het gedink Dawid sal nie in die stad kan inkom nie,

7. maar Dawid het die stad Sion wat sterk mure gehad het, oorwin, dit is nou die Dawidstad.

8. Dawid het daardie dag gesê: “As iemand die Jebusiete wil oorwin, dan sal hy deur die watertonnel moet gaan om by hulle te kom, by die mense wat nie kan sien of kan loop nie. Ek haat hierdie mense.”Dit is hoekom hulle sê mense wat nie kan sien of kan loop nie, mag nie in die tempel kom nie.

9. Dawid het gaan woon in die stad wat sterk mure het en hy het dit die Dawidstad genoem. Hy self het geboue gebou, van die terrasse tot teen sy paleis.

10. Dawid het ’n belangrike koning geword. Die Here, die God wat oor alles regeer, was by hom.

11. Koning Hiram van die stad Tirus het boodskappers na Dawid toe gestuur. Hy het ook sederhout gestuur en ambagsmanne wat met hout en klip kon werk, en hulle het vir Dawid ’n paleis gebou.

12. Dawid het besef dat die Here vir hom koning oor Israel gemaak het. Hy het besef dat die Here lief is vir sy volk Israel en dat Hy daarom vir Dawid ’n belangrike koning laat word het.

13. Nadat Dawid uit Hebron gekom het, het hy met nog vroue en byvroue in Jerusalem getrou, en hulle het vir Dawid nog seuns en dogters gekry.

14. Hier is die name van die kinders van Dawid wat in Jerusalem gebore is: Sammua, Sobab, Natan, Salomo,

15. Jibgar, Elisua, Nefeg, Jafija,

16. Elisama, Eljada en Elifelet.

Dawid maak oorlog teen die Filistyne

17. Die Filistyne het gehoor dat die leiers van Israel vir Dawid koning gemaak het, en al die Filistyne het vir Dawid kom soek. Dawid het dit gehoor en hy het na ’n plek in die berge gegaan waar ’n mens nie maklik kan kom nie.

18. Die Filistyne het gekom tot in Spook-laagte.

19. Dawid het vir die Here gevra: “Moet ek die Filistyne gaan aanval? Sal U my laat wen teen hulle?”Die Here het vir Dawid gesê: “Ja, Ek sal jou laat wen teen die Filistyne, dit is seker.”

20. Dawid het na die stad Baäl-Perasim gegaan en hy het die Filistyne daar oorwin. Hy het gesê: “Die Here het my vyande oorwin en stukkend geslaan soos water alles stukkend breek.”Dit is hoekom hulle daardie plek Baäl-Perasim noem.

21. Die Filistyne het hulle afgode daar gelos, en Dawid en sy manne het dit opgetel.

22. Toe die Filistyne weer in Spook-laagte kom,

23. het Dawid vir die Here gevra wat hy moet doen. Die Here het gesê: “Jy moenie vir hulle van voor aanval nie, jy moet agter-om hulle gaan en jy moet hulle aanval by die melkbosse.

24. Jy sal in die boonste punte van die melkbosse iets hoor, jy sal dink jy hoor dat mense daar loop. Wanneer jy dit hoor, dan moet jy die Filistyne aanval, want dit is Ek wat voor jou gaan om die Filistyne te oorwin.”

25. Dawid het gedoen wat die Here gesê het, en hy het die Filistyne oorwin, van die stad Geba tot waar ’n mens by die stad Geser kom.