hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

2 Samuel 8 Bybel vir Almal (ABA)

Dawid maak oorlog

1. Later het Dawid die Filistyne heeltemal oorwin, en hulle was toe te swak om weer die mense van Juda te pla.

2. Dawid het ook die Moabiete oorwin. Hy het hulle in rye langs mekaar op die grond laat lê en hy het die rye met ’n maatlyn gemeet. Hy het twee maal met die maatlyn gemeet en dan het hy die manne laat doodmaak wat daar gelê het. Dan het hy weer een maal met die maatlyn gemeet en hy het die manne laat lewe wat daar gelê het. Die Moabiete moes vir Dawid werk en hulle moes belasting betaal vir hom.

3. Dawid het na die Eufraat-rivier gegaan om sy gedenksteen weer regop te sit. Hy het vir Hadad-Eser, seun van Regob en koning van Soba, oorwin.

4. Dawid het 1 700 manne op perde en 20 000 voetsoldate gevat van Hadad-Eser. Dawid het al die perde se hakskene laat afsny, die perde wat die oorlogkarre getrek het. Hy het net genoeg perde laat oorbly om 100 oorlogkarre te trek.

5. Die Arameërs van Damaskus het gekom om vir koning Hadad-Eser van Soba te help, maar Dawid het hulle oorwin en hy het 20 000 van hulle manne doodgemaak.

6. Dawid het manne by die Arameërs van Damaskus laat bly om wag te staan. Die Arameërs moes vir Dawid werk en hulle moes belasting betaal vir hom. Die Here het vir Dawid gehelp oral waar hy gegaan het.

7. Die amptenare van Hadad-Eser het goue skilde gedra. Dawid het die skilde gevat en hy het dit na Jerusalem gebring.

8. Dawid het baie brons gebring uit Betag en Berotai. Dit was twee stede van Hadad-Eser.

9. Koning Toï van Hamat het gehoor dat Dawid vir Hadad-Eser oorwin het.

10. Daarom het Toï sy seun Joram gestuur om koning Dawid te groet en om hom geluk te wens omdat hy oorlog gemaak het teen Hadad-Eser en hom oorwin het. Daar was voorheen baie maal oorlog tussen Toï en Hadad-Eser. Toï het vir Joram presente gegee om saam te neem vir Dawid, silwer, goud en brons.

11. Koning Dawid het hierdie presente ook aan die Here gewy. Dawid het voorheen ook die silwer en die goud gewy wat hy gevat het van die ander volke wat hy oorwin het.

12. Dit was die silwer en goud van die Arameërs en Moabiete en Ammoniete en Filistyne en Amalekiete, en ook die goed wat hy gevat het van Hadad-Eser seun van Regob koning van Soba.

13. Dawid het beroemd geword toe hy 18 000 Edomiete in die Sout-vallei oorwin het. Hy het hulle oorwin nadat hy die Arameërs oorwin het.

14. Hy het manne by die Edomiete laat bly om wag te staan, oral in die land Edom, en al die Edomiete moes werk vir Dawid. Die Here het vir Dawid gehelp oral waar hy gegaan het.

Dawid se amptenare

15. Dawid was koning oor al die Israeliete. Hy het reg en goed gedoen aan al sy mense.

16. Joab seun van Seruja was die hoof van die leër, Josafat seun van Agilud was die hoof van al die amptenare,

17. Sadok seun van Agitub en Agimelek seun van Abjatar was die priesters en Seruja was die sekretaris.

18. Benaja seun van Jojada was hoof van die soldate wat die koning moes oppas. Dawid se seuns was priesters.