hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 14 Bybel vir Almal (ABA)

Dawid word ’n belangrike koning

1. Koning Hiram van die stad Tirus het boodskappers na Dawid toe gestuur. Hy het ook sederhout gestuur en ambagsmanne wat met klip en hout kon werk, en hulle het vir Dawid ’n paleis gebou.

2. Dawid het besef dat die Here vir hom koning oor Israel gemaak het. Hy het besef dat die Here lief is vir sy volk Israel en dat Hy daarom vir Dawid ’n baie belangrike koning laat word het.

Die ander kinders van Dawid

3. Dawid het met nog vroue in Jerusalem getrou en hy het nog seuns en dogters gekry.

4. Hier is die name van die kinders van Dawid wat in Jerusalem gebore is: Sammua, Sobab, Natan, Salomo,

5. Jibgar, Elisua, Elpelet,

6. Noga, Nefeg, Jafija,

7. Elisama, Beëljada en Elifelet.

Dawid maak oorlog teen die Filistyne

8. Die Filistyne het gehoor dat Dawid koning geword het oor al die Israeliete, en al die Filistyne het vir Dawid kom soek om hom te vang. Dawid het dit gehoor en hy het na hulle toe gegaan.

9. Die Filistyne het gekom tot in Spook-laagte en hulle het daar gereedgestaan.

10. Dawid het vir God die Here gevra: “Moet ek die Filistyne gaan aanval? Sal U my laat wen teen hulle?”Die Here het vir Dawid gesê: “Ja, jy moet hulle gaan aanval, Ek sal jou laat wen teen hulle.”

11. Dawid het na die stad Baäl-Perasim gegaan en hy het die Filistyne daar oorwin. Hy het gesê: “God het my vyande oorwin en stukkend geslaan soos water alles stukkend breek. Hy het gesê ek moet dit doen.”Dit is hoekom hulle daardie plek Baäl-Perasim noem.

12. Die Filistyne het hulle gode daar gelos, en Dawid het gesê sy manne moet die gode verbrand.

13. Die Filistyne het weer na Spook-laagte gekom en hulle het daar gereedgestaan.

14. Dawid het weer vir God gevra wat hy moet doen. God het vir hom gesê: “Jy moenie vir hulle van voor aanval nie, jy moet agter-om hulle gaan en jy moet hulle aanval by die melkbosse.

15. Jy sal in die boonste punte van die melkbosse iets hoor, jy sal dink jy hoor dat mense daar loop. Wanneer jy dit hoor, dan moet jy die oorlog begin, want dit is Ek wat voor jou gaan om die Filistyne te oorwin.”

16. Dawid het gedoen wat God gesê het, en hy het die Filistyne oorwin, van die stad Gibeon tot by die stad Geser.

17. Die mense van al die lande het geweet dat Dawid ’n belangrike koning is, die Here het al die volke bang laat word vir Dawid.