hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24
  25. 25
  26. 26
  27. 27
  28. 28
  29. 29

Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 29 Bybel vir Almal (ABA)

Dawid en die leiers gee die goed wat die werkers moes gebruik om die tempel te bou

1. Koning Dawid het vir die hele volksvergadering gesê: “God het een persoon gekies om die tempel te bou, Hy het my seun Salomo gekies. Salomo is jonk en swak. Dit is ’n groot werk, want die paleis wat hy moet bou, is nie vir ’n mens nie, dit is ’n tempel vir God die Here.

2. Ek het gedoen wat ek kon doen om alles gereed te maak vir die tempel van my God: die goud, die silwer, die brons en die hout vir alles wat hulle daarvan moet maak, en ook nog oniks, edelstene om vas te sit teen die mure, klippies wat al die kleure het, en baie marmer.

3. En ek gee ook al die goud en silwer wat ek het vir die tempel van my God, ek wil dit graag doen vir die tempel van my God. Ek gee dit saam met alles wat ek al klaar gereedgemaak het vir die gewyde gebou.

4. Dit is 3 000 talente goud, goud uit die land Ofir, en 7 000 talente silwer. Julle moet dit gebruik om die mure van die geboue toe te maak,

5. en vir die werk wat die ambagsmanne moet doen, hulle moet die goue goed en die silwergoed daarvan maak. En nou vra ek, wie van julle wil nou iets vir die Here gee?”

6. Die familiehoofde wou graag iets gee, en ook die stamhoofde, die leiers van 1 000 manne en die leiers van 100 manne, en die amptenare wat die werk vir die koning moes laat doen.

7. Hulle het 5 000 talente goud gegee vir die werk by die tempel en ook 10 000 darieke goud, 10 000 talente silwer, 18 000 talente brons en 100 000 talente yster.

8. Almal wat edelstene gehad het, het dit gegee vir die stoorkamers van die tempel. Jegiël van die Gerson-familie het dit daar opgepas.

9. Die mense was bly omdat die leiers al die goed gegee het, want al die leiers wou dit graag vir die Here gee. Koning Dawid was ook baie bly.

Dawid bid tot die Here

10. Dawid het die Here geprys. Die hele volksvergadering het dit gehoor. Dawid het gesê: “Here, God van ons voorvader Israel, almal moet U prys, altyd en altyd.

11. Alles wat belangrik is, alles wat sterk is, al die lig behoort aan U. Almal weet van U, die Koning in die hemel en op die aarde. Here, U is Koning, U is belangriker as almal en alles.

12. U maak mense ryk en U gee vir hulle eer, dit is Ú wat oor alles regeer. U is sterk en U kan alles doen, en dit is U wat ’n mens groot en sterk kan maak.

13. Daarom prys ons U, ons God, ons sing oor u wonderlike Naam.

14. Maar wie is ek en wie is my volk wat hierdie goed vir U kan bring? Ons bring dit vir U, maar alles kom van U, en ons gee weer vir U die goed wat aan U behoort.

15. Want ons is soos ons voorvaders, ons is ook soos vreemdelinge by U. Ons is naby U omdat U sê ons mag naby U wees. Ons lewe op die aarde is soos ’n skaduwee, dit gaan gou verby.

16. Ons God die Here, ons het al hierdie goed gereedgemaak om ’n tempel te bou vir U, die heilige God, maar al hierdie goed kom van U, alles behoort aan U.

17. My God, ek weet dat U ’n mens se hart toets en dat U wil hê ’n mens moet eerlik wees. Ek het self besluit om al hierdie goed vir U te gee, en ek het nou gesien dat u volk wat hier is, dieselfde gedoen het. Ek is bly daaroor.

18. Here, God van ons voorvaders Abraham, Isak en Israel, U moet u volk help om altyd so te dink, hulle moet net aan U dink.

19. En help my seun Salomo sodat hy met sy hele hart gehoorsaam sal wees aan u gebooie, aan alles wat U gesê het. Help hom sodat hy dit alles sal doen en sodat hy die paleis vir U sal bou, ek het alles daarvoor gereedgemaak.”

Salomo gaan sit op die troon

20. Daarna het Dawid vir die hele volksvergadering gesê: “Julle moet nou julle God die Here prys.”Toe het die hele vergadering die Here, die God van hulle voorvaders, geprys. Hulle het voor die Here en voor die koning gekniel en laag gebuig.

21. Die volgende dag het hulle vir die Here offers gebring. Hulle het brand-offers vir die Here gebring. Hulle het 1 000 bulle, 1 000 skaap-ramme en 1 000 lammers saam met die drank-offers gebring. Al die Israeliete het ook nog baie offers gebring.

22. Hulle was daardie dag baie bly en hulle het daar voor die Here geëet en gedrink. Hulle het die tweede maal vir Salomo seun van Dawid koning gemaak en hulle het hom gesalf om die koning te wees wat aan die Here behoort. Hulle het ook vir Sadok gesalf om die priester te wees.

23. Salomo het op die troon van die Here gaan sit om koning te wees ná sy pa Dawid. Dit het goed gegaan met Salomo, en al die Israeliete het gedoen wat hy sê.

24. Al die leiers en die spesiale manne en die prinse het belowe dat hulle gehoorsaam sal wees aan koning Salomo.

25. Die Here het vir Salomo baie belangrik gemaak, al die Israeliete het vir Salomo gerespekteer. Salomo het ’n belangriker koning geword as al die konings wat vóór hom oor Israel regeer het.

Dawid sterf

26. Dawid seun van Isai was koning van al die Israeliete.

27. Hy was 40 jaar lank koning van die Israeliete. Hy het sewe jaar lank in Hebron regeer en 33 jaar in Jerusalem.

28. Dawid was oud toe hy gesterf het. Hy het lank gelewe, hy was ryk, en mense het hom gerespekteer. Sy seun Salomo het ná hom koning geword.

29. Die geskiedenis van koning Dawid, van die begin tot die einde, is geskryf in die Geskiedenis van die siener Samuel en in die Geskiedenis van die profeet Natan en in die Geskiedenis van die siener Gad.

30. Hulle het geskryf wat Dawid gedoen het toe hy koning was, watter groot dinge hy gedoen het en wat alles gebeur het met hom en met die Israeliete en met die ander lande.