hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 8 Bybel vir Almal (ABA)

Jesus gee vir 4 000 mense kos

1. In daardie tyd was daar weer ’n groot klomp mense saam met Jesus en hulle het niks kos gehad nie. Jesus het sy dissipels na Hom toe geroep en vir hulle gesê:

2. “Ek voel baie jammer vir al hierdie mense, want hulle is al drie dae by My en hulle het niks kos nie.

3. As Ek hulle nou honger wegstuur huis toe, dan sal hulle flou word voordat hulle by die huis is. Party van hulle het van ver gekom.”

4. Jesus se dissipels het vir Hom gevra: “Waar sal ons genoeg brood kry vir al die mense? Ons is ver van ’n stad, hier woon niemand nie.”

5. Jesus vra toe vir hulle: “Hoeveel brood het julle?”En hulle sê vir Hom: “Ons het sewe brode.”

6. Jesus het toe vir al die mense gesê hulle moet op die grond gaan sit om te eet. Hy het die sewe brode geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Daarna het Hy die brood in stukke gebreek en dit vir sy dissipels gegee om vir al die mense te gee, en hulle het dit vir die mense gegee.

7. Hulle het ook ’n paar vissies gehad. Jesus het dit geneem en weer vir God dankie gesê. Toe het Hy gesê sy dissipels moet die vis ook vir die mense gee.

8. Al die mense het genoeg geëet. Sy dissipels het die stukkies bymekaargemaak wat oorgebly het. Dit was sewe groot mandjies vol.

9. Daar was omtrent 4 000 mense wat geëet het. Toe het Jesus almal huis toe gestuur.

10. Jesus en sy dissipels het toe dadelik in ’n boot geklim en na plekke naby die stad Dalmanuta gegaan.

Die Fariseërs wil ’n wonderteken sien

11. Daar kom toe Fariseërs en hulle het met Jesus begin stry. Hulle wou Hom toets en kyk wat Hy doen. Daarom het hulle vir Hom gevra om ’n wonderteken te wys wat van God kom.

12. Jesus het gesug en gesê: “Hoekom wil die mense wat nou lewe, ’n wonderteken sien? God sal nie ’n wonderteken vir hulle wys nie. Dit is seker.”

13. Jesus het weggegaan van die Fariseërs. Hy het weer in die boot geklim en na die ander kant van die see gegaan.

Jesus waarsku die dissipels teen koning Herodes en die Fariseërs

14. Die dissipels het nie genoeg brood saamgeneem nie. Hulle het net een brood by hulle in die boot gehad.

15. Jesus het sy dissipels gewaarsku en vir hulle gesê: “Julle moet oppas, julle moet versigtig wees vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van koning Herodes.”

16. Die dissipels het daaroor met mekaar gepraat. Hulle het gedink Jesus sê dit omdat hulle nie brood gehad het nie.

17. Jesus het geweet wat hulle dink en Hy het vir hulle gevra: “Hoekom praat julle oor die brood wat julle nie het nie? Weet julle nie, verstaan julle nog nie? Hoekom is julle so hardkoppig?

18. “Julle het oë,maar julle sien nie,en julle het ore,maar julle hoor nie.“Kan julle nie onthou nie?

19. Toe Ek vyf brode gebreek het en vir die 5 000 mense kos gegee het, hoeveel mandjies vol stukkies het julle daarna opgetel?”Die dissipels het geantwoord: “Twaalf mandjies.”

20. Jesus vra toe weer: “En toe Ek die sewe brode gebreek het en vir die 4 000 mense kos gegee het, hoeveel groot mandjies vol stukkies het julle toe opgetel?”Die dissipels het geantwoord: “Sewe mandjies.”

21. Toe vra Jesus vir sy dissipels: “Verstaan julle nog nie?”

Jesus maak ’n blinde man gesond in Betsaida

22. Jesus en sy dissipels het in die stad Betsaida gekom. Die mense het ’n blinde man na Jesus toe gebring en hulle het Hom gesoebat om aan die man te raak.

23. Jesus het die blinde man se hand geneem en Hy het hom uit die dorpie gelei. Jesus het op die man se oë gespoeg en Hy het sy hande op die man gesit. Toe vra Jesus vir hom: “Wat sien jy?”

24. Die blinde man het begin sien en hy het vir Jesus gesê: “Ek dink ek sien mense, want ek sien iets soos bome wat loop.”

25. Jesus het weer sy hande op die man se oë gesit. Sy oë was gesond en toe hy goed kyk, kon hy alles duidelik sien.

26. Jesus het vir die man gesê: “Gaan reguit huis toe. Moenie eers ingaan in die stad nie.”

Wie is Jesus?

27. Jesus en sy dissipels het na dorpies naby Sesarea-Filippi gegaan. Terwyl hulle daarnatoe gestap het, het Jesus vir sy dissipels gevra: “Wat sê die mense, wie is Ek?”

28. Die dissipels sê toe vir Jesus: “Party mense sê U is Johannes die Doper en party sê U is Elia, party sê U is een van die profete.”

29. Jesus het aangehou om vir hulle te vra: “Maar julle, wat sê julle? Wie sê julle is Ek?”Petrus het Hom geantwoord: “U is die Christus!”

30. Jesus het toe vir sy dissipels gesê hulle mag nie vir ander mense vertel dat Hy die Christus is nie.

Jesus sê Hy sal sterf en weer lewe

31. Van toe af het Jesus vir sy dissipels begin verduidelik dat die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes baie slegte dinge sal doen aan Hom, die Seun van die mens. Hulle sal Hom nie aanvaar nie, hulle sal Hom doodmaak, maar ná drie dae sal Hy weer lewe.

32. Jesus het reguit met die dissipels hieroor gepraat. Petrus het vir Jesus weggeneem van die ander dissipels en hy het met Hom geraas.

33. Jesus het omgedraai en na die ander dissipels gekyk. Hy het met Petrus geraas en gesê: “Gaan weg van My, Satan. Jy dink nie aan wat God wil hê nie, jy dink aan wat die mense wil hê.”

Hoe ’n mens vir Jesus moet volg

34. Jesus het toe al die mense wat daar was, saam met die dissipels na Hom toe geroep. Hy het vir hulle gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet lewe soos iemand wat weet hy sal aan ’n kruis sterf. Dit is hoe hy My moet volg.

35. Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My en vir die goeie boodskap, dan sal hy sy lewe red.

36. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe, dan help dit jou niks.

37. Hoeveel sal ’n mens betaal vir sy lewe?

38. Die mense wat nou lewe, doen baie sonde. Hulle doen nie wat God wil hê nie. As iemand doen soos hulle en hy wil My nie ken nie en hy wil nie glo wat Ek sê nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, hom ook nie wil ken nie. Ek sal hom ook nie wil ken nie wanneer Ek saam met die heilige engele kom en Koning is soos my Vader Koning is.”