hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16

Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 1 Bybel vir Almal (ABA)

Johannes die Doper is die profeet in die woestyn

1. Die goeie boodskap oor Jesus Christus, die Seun van God,

2. begin soos dit in die boek van die profeet Jesaja geskryf is:“Ek, die Here,stuur my boodskapper.Hy sal voor jou gaan en die padvir jou gereedmaak.

3. Iemand skree in die woestynen hy sê:Julle moet die pad gereedmaakvir die Here,julle moet sy paaie reguit maak.”

4. Dit is wat Johannes die Doper in die woestyn gepreek het. Hy het gesê die mense moet verander en lewe soos God wil hê en hulle moet hulle laat doop. Dit sal beteken dat God hulle sondes vergewe het.

5. Al die mense van Judea en Jerusalem het na Johannes toe gegaan. Hulle het gesê hulle is jammer oor hulle sonde, en Johannes het hulle gedoop in die Jordaan-rivier.

6. Johannes se klere was van kameelhare gemaak en hy het ’n belt van leer om sy heupe gedra. Hy het sprinkane geëet en ook heuning wat hy in die woestyn gekry het.

7. Johannes het gepreek en gesê: “Later sal Iemand kom wat meer kan doen as ek. Ek is nie belangrik genoeg om sy sandale los te maak nie.

8. Ek het julle met water gedoop, maar Hy sal julle doop met die Heilige Gees.”

Johannes doop vir Jesus

9. In dieselfde tyd het Jesus van die stad Nasaret gekom. Nasaret is in die provinsie Galilea. Johannes het vir Jesus in die Jordaan-rivier gedoop.

10. En dadelik toe Jesus uit die water opstaan, het Hy gesien die hemel skeur oop en die Heilige Gees kom af na Hom toe soos ’n duif uit die lug afkom.

11. Jesus het ook gehoor Iemand sê uit die hemel: “Jy is my Seun. Ek is lief vir Jou. Jy maak My bly.”

Die Satan probeer om Jesus verkeerd te laat doen

12. Dadelik daarna het die Heilige Gees vir Jesus weggestuur in die woestyn in.

13. Jesus het 40 dae lank in die woestyn gebly, en die Satan het probeer om Jesus verkeerd te laat doen. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het vir Hom gesorg.

Jesus kies sy eerste dissipels

14. Koning Herodes het vir Johannes laat vang en hy het Johannes in die tronk toegesluit. Daarna het Jesus na Galilea gekom en Hy het vir die mense God se goeie boodskap gebring.

15. Jesus het gesê: “God het besluit dit is nou die regte tyd. God wat in die hemel is, is Koning oor almal, en van nou af sal almal dit weet. Julle moet begin lewe soos God wil hê en julle moet die goeie boodskap glo.”

Jesus kies vier dissipels

16. Jesus het langs die See van Galilea geloop. Hy het gesien Simon en sy broer Andreas gooi hulle visnette in die see, want hulle was vissermanne.

17. Jesus sê toe vir hulle: “Kom hier, kom saam met My, Ek sal julle lewens verander: Julle sal nog vissermanne wees, maar julle sal nie meer visse vang nie, julle sal mense bymekaarmaak vir God.”

18. Simon en Andreas het dadelik hulle visnette gelos en hulle het saam met Jesus gegaan.

19. Toe Jesus ’n bietjie verder geloop het, sien Hy vir Jakobus en sy broer Johannes. Hulle was die seuns van Sebedeus. Hulle was in hulle boot besig om die visnette reg te maak.

20. Jesus het hulle ook dadelik geroep om saam te kom. Hulle het hulle pa, Sebedeus, en die vissermanne wat vir hom gewerk het, in die boot gelos, en hulle het saam met Jesus gegaan.

Die man in wie ’n onrein gees was

21. Jesus en sy dissipels het in die stad Kapernaum gekom. Op die Sabbatdag daarna het Jesus reguit na die sinagoge gegaan en Hy het daar begin om vir die mense te leer.

22. Die mense was baie verbaas oor hoe Jesus vir hulle geleer het, want hulle het besef dat dit van God kom. Jesus het vir hulle nie geleer soos hulle skrifgeleerdes dit gedoen het nie.

23. Skielik kom daar toe in hulle sinagoge ’n man, daar was ’n onrein gees in hom, en die gees het geskree:

24. “Jesus van Nasaret, wat wil U met ons doen? Het U gekom om ons dood te maak? Ek weet wie U is: U is die Heilige wat van God kom.”

25. Jesus het met die onrein gees geraas en gesê: “Bly stil en gaan uit die man uit!”

26. Die onrein gees het die man op die grond laat val en die man het geruk en geskop. Die gees het hard geskree en hy het toe uit die man uitgegaan.

27. Almal was baie verbaas en hulle het aangehou praat daaroor. Hulle het vir mekaar gesê: “Wat het gebeur? Hierdie man leer vir die mense iets wat anders is. Dit kom van God. Hy sê ook vir die onrein geeste wat hulle moet doen, en hulle is gehoorsaam aan hom.”

28. Die mense het oral in die hele provinsie Galilea gepraat oor wat Jesus gedoen het.

Jesus maak Simon se skoonma gesond

29. Jesus en sy dissipels het uit die sinagoge na die huis van Simon en Andreas gegaan. Jakobus en Johannes was ook by hulle.

30. Simon se skoonma was siek in die bed. Sy het ’n hoë koors gehad en die mense het dadelik vir Jesus vertel dat sy siek is.

31. Jesus het na haar toe gegaan, Hy het haar hand geneem en Hy het haar gehelp om op te staan. Die koors het weggegaan, en sy het vir hulle kos gegee.

Jesus maak baie mense gesond en Hy preek in Galilea

32. In die aand toe die son al onder was en die Sabbatdag verby was, het hulle aangehou om baie mense na Jesus toe te bring, siek mense en mense wat duiwels in hulle gehad het.

33. Al die mense van die stad het bymekaargekom by die deur van die huis.

34. Jesus het baie mense gesond gemaak wat verskillende soorte siektes gehad het. Hy het ook baie duiwels uit die mense gejaag. Jesus het gesê die duiwels mag nie praat nie, want die duiwels het geweet wie Hy is.

35. Baie vroeg die volgende oggend, toe dit nog donker was, het Jesus opgestaan en uitgegaan. Hy het na ’n stil plek gegaan om alleen te wees en Hy het daar gaan bid.

36. Simon en sy vriende het vir Jesus gaan soek

37. en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.”

38. Maar Jesus antwoord hulle: “Kom ons gaan weg na die stede hier naby, want Ek wil daar ook gaan preek. Dit is hoekom Ek gekom het.”

39. Jesus het toe deur die hele provinsie Galilea gegaan en Hy het in hulle sinagoges gepreek. Hy het ook duiwels uit mense uitgejaag.

Jesus maak ’n melaatse man gesond

40. ’n Melaatse man het na Jesus toe gekom. Hy het voor Jesus gekniel en vir Hom gesoebat: “As U wil, dan kan U my gesond maak.”

41. Jesus was baie jammer vir die man. Hy het sy hand uitgesteek en Hy het aan hom geraak en gesê: “Ek wil dit vir jou doen. Ek maak jou gesond.”

42. Dadelik was die man nie meer melaats nie, hy het gesond geword.

43-44. Jesus het ernstig met die man gepraat en vir hom gesê: “Jy mag vir niemand hiervan vertel nie. Gaan wys vir die priester jy is gesond, en doen dan wat Moses in die wette geskryf het. Bring die offers omdat jy rein geword het. Dan sal die priesters weet jy is rein.”Daarna het Jesus die man weggestuur.

45. Maar die man het gegaan en hy het oral vir al die mense vertel dat Jesus hom gesond gemaak het. Daarom kon Jesus nie meer in ’n stad inkom waar almal Hom kon sien nie. Hy het buite in die veld gebly, maar die mense het nog van oral na Hom toe gekom.